By fonteine langs. Nina Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу By fonteine langs - Nina Smit страница 17

Автор:
Серия:
Издательство:
By fonteine langs - Nina Smit

Скачать книгу

foute te erken

      en mekaar onvoorwaardelik lief te hê.

      Amen

      Maart

      Met Jesus op die swaarkrypad

      Elke persoon stap sy eie stuk lydensweg hier op aarde

      soos Jesus daardie laaste twee weke van sy lewe gedoen het.

      Almal van ons ervaar seerkry en swaarkry

      deur die loop van ons lewe

      omdat niémand die lydensweg van swaarkry kan vryspring nie.

      Tog is dit ’n groot troos in swaarkrytye om te weet

      dat Jesus hierdie swaarkrypad reeds vir jou vooruitgeloop het,

      dat Hy presies weet wat lyding en swaarkry behels

      omdat Hy dit self deurgemaak het.

      En omdat Hy, terwyl Hy op aarde was, self gely het,

      het Hy ook simpatie met jóú persoonlike stuk swaarkry –

      beloof Hy, dat Hy ten tye van jou eie swaarkrytye

      ekstra naby jou sal wees

      en vir jou die krag sal gee om dit te kan deurstaan.

      1 Maart

      Lyding ter wille van Jesus

      Lees Matteus 5:10-12

      “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg […] Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel” – Matt 5:10-12

squig.jpg

      Op die wêreld kan God se kinders vervolging te wagte wees, voorspel Jesus: “As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” sê Hy self in Johannes 15:20.

      Dit gebeur baie maal dat Christene óók, soos dit die geval met Jesus was, onregverdige vervolging te beurt val, juis omdat hulle hul geloof uitleef. In die werkplek kan daar teen jou gediskrimineer word, kan jy bevordering verbeur omdat jy ’n Christen is. Hierdie soort swaarkry is goed vir jou, sê Jesus in vandag se teksvers. Wanneer dit jou te beurt val, gaan jou loon in die hemel groot wees.

      “Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik” (1 Pet 4:16). Swaarkry ter wille van jou geloof is nooit ondraaglik nie omdat God self vir jou die genade sal gee om dit te kan verdra.

      In Romeine 8:17 is daar ’n pragtige belofte vir Christene wat swaar kry: “Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” As dit op die oomblik met jou moeilik gaan, kan jy vir seker weet dat jou swaarkry van die hede nooit sal kan opweeg teen die heerlikheid wat daar vir jou ééndag in die hemel wag nie!

      Here, dankie vir die belofte dat my aardse swaarkry as gevolg van U, eendag vir my sal uitloop op ’n hemelse beloning.

      Amen

      2 Maart

      In hartseertye

      Lees Job 30:20-31

      “Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie. Al wat vir my oorbly, is ’n treurlied op die lier, ’n lied van trane op die fluit” – Job 30:20, 31

squig.jpg

      Job verwerk sy eie stuk hartseer maar moeilik – in sy hartseertyd ervaar hy dat God Hom nie aan hom steur nie. Niemand hou van hartseer nie. Dit is niks lekker om te treur oor ’n geliefde wat jy verloor het, verhoudings wat skipbreuk gely het of mislukkings in jou eie lewe nie. Tog lui die tweede saligspreking: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt 5:4). Self het ek al baie maal ervaar dat hartseer my by God uitgebring het.

      Wanneer Christene hartseer is, kan hulle aanspraak maak op God se troos en daardeur ontdek dat hartseer hulle net nader aan God bring.

      “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses,” getuig die psalmdigter (Ps 34:19).

      Die Griekse woord vir troos is paraklein – ’n trooster is ’n parakletos, dié naam wat Jesus in Joh 14:16 aan die Heilige Gees gee (vgl 1933-vertaling). God se Heilige Gees in jou lewe sal jou nie net onderskraag in hartseertye nie, maar jy het ook die belofte dat eendag in God se nuwe wêreld, jou hartseer vir altyd verby sal wees, dat God daar self al jou trane sal afdroog.(vgl Op 21:4).

      Laat God toe om jou in hartseertye te troos. Neem jou hartseer na Hom toe en hou vas aan sy belofte dat Hy uiteindelik jou hartseer van jou sal wegneem.

      Heilige Gees, ek loof U dat U vir my ’n trooster is, en ek wil sommer nou aanspraak maak op die belofte dat al my hartseer eendag in u nuwe wêreld vir altyd verby sal wees.

      Amen

      3 Maart

      Die heerlikheid is groter!

      Lees Romeine 8:18-21

      Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie – Rom 8:18

squig.jpg

      God se kinders is elke dag wat hulle op aarde deurbring, aan swaarkry onderhewig. Soms raak hierdie lyding só moeilik om te verduur dat ons ten spyte van ons geloof moedeloos en depressief raak. Dit is vir ons bykans onmoontlik om ten tyde van lyding God se vrede in ons lewe te ervaar omdat ons maar net nie kan verstaan wáárom God ons so swaar laat kry as Hy ons liefhet nie. As Hy almagtig is, behoort dit mos vir Hom moontlik te wees om ons lyding weg te neem.

      Christene deur die eeue het al met hierdie vraag geworstel. Tog het die meeste van hulle wat werklik oor die saak nagedink het, besef dat swaarkry uiteindelik tot ons beswil is. Alles hang daarvan af hóé jy na jou persoonlike stuk swaarkry kyk. Wanneer jy dit ’n slag vergelyk met die “heerlikheid wat God vir jou in die toekoms sal laat aanbreek”, sal jy besef dat dit eintlik glad nie so erg is nie en dat dit ook nie vir altyd kan aanhou nie.

      Hou in jou swaarkrytye vas aan Paulus se belofte in 2 Korintiërs 4:17: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.” Die heerlikheid wat vir jou in die hemel wag, is oneindig groter as die swaarkry waarmee jy op die oomblik worstel.

      Vader, U weet dat ek vandag baie moedeloos is – dankie dat ek kan vashou aan u belofte dat my huidige swaarkry sal verbygaan, dat dit maar die voorloper is van die heerlikheid wat vir my by U wag en wat altyd sal bly.

      Amen

Скачать книгу