Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Go'el Yisra'el - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 4

Go'el Yisra'el - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

Jode kilometers daarvandaan gaan vertel het wat aangaan.”

      “Sarah Menkes,” sê die ou rabbi somber en vee vermoeid oor sy voorkop.

      “Ek het van ons Israelse gids verstaan dat dit steeds taamlik anti-Semities in Litaue is. Is dit so?”

      “Wat sal ek sê? Jy sien, die anti-Semiete was onder dié wat teen Hitler geveg het. Hulle was nie meelopers nie; daarom is hulle nie ná die oorlog deur die bewind uit die gemeenskap verwyder soos gebeur het in Duitsland en ander plekke waar die bevolking die Nazi’s gesteun het nie. In Pole het anti-Semitisme ongestoord bly voortbestaan. Individuele Jode is nog altyd vermoor en bloedbaddens het steeds plaasgevind, soos die een in Julie 1946 by Kielce, waar veertig Jode doodgemaak is. Is Jodehaat vandag nog daar aan die orde van die dag? Dit sal ek nie sê nie, maar ek kan ook nie sê dat Jode daar besonder geliefd is nie.”

      “Waar ís hulle?” vra Marc wrang.

      Jerusalem, Motzi Shabbat 30 Januarie 2010

      Adoni, vir die eerste keer na ’n baie, baie lang tyd kom ek weer woorde voor U skrywe. Kan ’n man van 32, ’n pa van twee seuns, nog in sy joernaal met HaShem praat, vra ek myself af. Maar waar gaan ’n 32-jarige dan anders as sy hart ontsteld is? Abba, vandag, Shabbat, het Israel Tu’Bshvat gevier, die Nuwejaar vir bome. Buite reën dit en by tye sneeu dit hewig, maar in Independence Park bloei die amandelbome spierwit. Die eerste teken, terwyl dit nog hoogwinter is, van voorjaar en nuwe lewe. Vanoggend by Tora-studie het ons daarvan gepraat dat die eerste keer dat die amandelboom in die Tora genoem word, in B’resheet 43 in verband met seën in die Beloofde Land is.

      Vir mý het dit maar die een wonderbare betekenis. U wat vir die droewe ou Yermiyahu vra: Wat sien jy, Jeremia?” en hy antwoord: “Ek sien ’n amandeltak.” En U antwoord: “Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.”

      Eenmaal toe my vrou se lewe aan ’n dun draadjie gehang het, het U daardie woord volbring. Ek kom voor U staan dat U sal sien ek is nog ’n keer voor U met ’n amandeltak in my hand. My vrou het uit Haïti teruggekom, ’n ander vrou as die een wat gegaan het. As ek haar wil vashou, bewe sy, toe ek netnou met haar ná Shabbat wil liefde maak, huil sy. As ek haar oor en oor vra wat dit is, wat gebeur het, bly sy sê dis niks, niks het gebeur nie, sy is net moeg. Maar sy was nog nooit te moeg om liefde te maak nie. Sy het nog nooit dan begin huil nie. Ek het op die duur my selfbeheer verloor en gesê wat ek nie wou sê nie en dit het haar nie soos ander kere kwaad gemaak nie, dit het haar erger laat huil. Toe ek opkyk, staan Natan in die kamerdeur. Hy was ook in trane. Die kleinstetjie van my is só sensitief – soos ek, Abba. Hoe kon ek aan hom verduidelik waarom sy imma wat so lank weg was nou by my huil. Ek het hom in my arms aan die slaap gemaak. Toe ek terugkom, het my vrou geslaap en toe ek haar teen my aantrek, het sy in haar slaap gesnik.

      Abba, met wie sal ek praat as ek nie met U kan praat nie. Gee my asseblief die wysheid waaroor ek nog nooit beskik het nie en maak my hart sterk. Ek het haar lief, Adonai, U alleen weet hoe lief ek haar het.

      Hoofstuk 2

      Jerusalem

      3 Februarie 2010

      Vyf dae na Marc en Henok weer terug is in Israel trou Binyamin, Marc se neef. Hy is Ofer en Shoshana se enigste oorblywende kind na sy ouer broer, David, in 2006 se Libanon-oorlog gesterf het toe sy helikopter afgeskiet is. Bibi se troue is dus vir die Doron-, Cohen- en Krige-families ’n groot en emosionele gebeurtenis.

      Uiteraard is Henok, wat pas ’n verblyfpermit in Israel gekry het en wonderbaarlik ’n administratiewe betrekking aan die universiteit in Jerusalem kon bekom, ook ’n genooide. Dat sy vrou, Sarah, in Suid-Afrika agtergebly het en die verhouding tussen hulle redelik wankelend is, maak hom waarskynlik nie die gelukkigste gas by die geleentheid nie. Tog maak sy intense belangstelling in alles wat deel van sy nog betreklik nuwe Joodsheid is grootliks daarvoor op.

      Ook vir Marc hou die dag gemengde vreugde in. In die dae vandat hy terug is uit Pole, het Rivkah se optrede vir hom net meer raaiselagtig en ontstellend geword. Ter wille van Yhoshi en Natan wat bepaald die spanning in hul verhouding aanvoel, tree hy so kalm as moontlik op. Maak hy voorlopig voor hulle of alles normaal is. In watter mate hy hulle bluf, is nie heeltemal duidelik nie. Hy merk dat Yhoshi weer onafskeidbaar is van sy verweerde beertjie uit sy babadae, dat Natan sy duim met mening suig en huilerig raak as hy een van sy ouers uit die oog verloor.

      Oor ontbyt merk Marc die donker skadu’s onder Rivkah se oë. Hy lê sy hand oor hare langs haar bord op die tafel en voel haar vingers dadelik verstyf. Maar hy bly kalm.

      “Ek het gedink om maar met Henok agter op die galery te sit, want ek kan my voorstel hoeveel vrae ek sal moet beantwoord. As jy met die kleintjies voor by Ruwth wil sit, sal hulle mooi kan sien.”

      Haar oë ontwyk syne vinnig. “Dis reg,” is al wat sy sê.

      Maar toe hy nie sy hand weghaal nie, kyk sy weer na hom en glimlag stram. “Dis goed, ons kan so maak.”

      Sy oë hou hare vas. “Ek het jou lief,” sê hy sag.

      Sy kyk so vinnig weg dat haar los donker hare oor haar gesig waaier.

      “Rivki …”

      Maar sy skud net haar kop effens en leun oor Natan om sy pitabroodjie vir hom deur te sny.

      Marc merk dat sy self nie geëet het nie, maar hy sê niks verder nie.

      Dis sy wat na ’n rukkie praat: “Avital het gevra ek moet saam met haar en Shoshana na die chuppah stap.”

      “O ja, natuurlik, haar ma is mos verlede jaar oorlede.”

      “Sy het ook nie susters nie.”

      “En julle families ken mekaar mos baie jare, of hoe?”

      Rivkah knik. “Haar pa en Abba het saam in die Sesdaagse en Yom Kippur geveg. Hulle ken mekaar van daardie tyd al.”

      “Wonderlik dat sy en Bibi mekaar by ons in die huis ontmoet het.”

      Sy byt op haar onderlip en na ’n rukkie vra sy: “Sal jy dan die seuns neem na waar Ruwth sit, dan sal ek daarnatoe kom.”

      “Ek sal.”

      Hulle kyk mekaar ’n oomblik woordeloos aan.

twirl.jpg

      Na weke se reën en sneeu is die lug oor Jerusalem vanoggend helder en skyn die son, al stapel die wolke ver na die noorde toe met ’n spierwit voorbode van verdere sneeu. Dis bitter koud en almal is dankbaar dat die troue binnenshuis voltrek word.

      Marc het Yhoshi en Natan na hul oorgrootmoeder gebring en staan nou saam met Henok agter in die saal wat stadig aan die vol loop is. Sy keel trek toe, want die herinnering aan sy eie troue in 2003 is so helder in sy gedagtes dat hy moeite het om rustig met Henok te praat. Voor in die pragtig versierde saal wat skitter van ’n massa vars blomme en kerse is die chuppah – vier pale wat ’n tallit van kosbare roomkleurige sy omhoog hou.

      “Dis die chuppah, nè?” wil Henok dadelik weet.

      “Dis reg, ja.”

      “Wat is dit, die woorde daar in blou op geborduur?

      “Ani l’dodi

Скачать книгу