Die Reuk van koffie. Koos Kombuis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Reuk van koffie - Koos Kombuis страница 2

Die Reuk van koffie - Koos Kombuis

Скачать книгу

die ou met die tattoos. “Kan ek bietjie luister?”

      Ek gee die gehoorbuis vir hom terwyl ek solank vir nommer drie gaan wys waar ons bankkluis is. Hy mag dit wel nie oopbreek voor die polisie geantwoord het nie, verduidelik hy, maar dit sal tyd spaar as hulle solank die plan van die huis memoriseer. “Veral as ons ’n quick getaway moet maak.”

      Terwyl ek solank die ketel aansit vir koffie, hoor ek die ou met die gehoorbuis in die kamer kla: “Hulle sê net heeltyd your call will be answered. En hulle speel nou ‘Pampoen’ van Steve Hofmeyr.”

      “So kan dit nie aangaan nie!” sê die balaklawa woedend. “Besef hulle nie tyd is geld nie?”

      Ek loop kamer toe. “Gee my die foon,” sê ek. “Ek wil daai mense ’n slag behoorlik uitkak wanneer hulle eendag besluit om op te tel.”

      Ek druk die gehoorbuis teen my oor. “You are number five hundred and twelve in the queue,” deel ’n blikkerige stem my mee voor “Pampoen” plek maak vir “Lisa se klavier”.

      “Kom ons waai liewerster,” sê die balaklawa. “Waar’s jou karsleutels?” vra hy vir my.

      “Jou stupid!” sê nommer drie. “Ons het mos met ons eie kar gekom!”

      Ek slaak ’n sug van verligting, want my kar het ’n tracker device in, en almal weet daai goed werk glad nie.

      “Is julle seker julle wil nie bly vir koffie nie?” vra ek.

      “Ons het melktert,” sê my vrou.

      “En dié tyd van die nag is daar gewoonlik ’n lekker stout moewie op TV,” probeer ek hulle ompraat.

      Maar hulle hou Nike-tekkie by stuk. Die nag is nog lank, daar is ander mense om te rob, en hulle kan nie langer vertoef nie.

      “SMS ons julle nommer, dan maak ons volgende keer by julle ’n draai,” sê my vrou.

      “Weet jy,” sê ek vir haar terwyl ons op die stoep staan en wuif terwyl hulle met hulle gesteelde kar by die bure oorkant die straat se oprit inry, “sulke dinge gee my weer hoop vir ons land en sy mense.”

      rapport

      SIES, DOZI!!!

      Dit voel soos gister dat Dozi aan my erken het, backstage by die Huisgenoot se Sun City Skouspel: “Ek’s so bly ek’s nie getroud nie, die Fashion Channel is genoeg vir my.”

      Nou is Dozi VERLIEF!!! Op ’n MAAGD!!! O, hoe grillerig!

      Wat presies IS ’n maagd, en BESTAAN daar nog sulke goed?

      En selfs al bestaan daar sulke goed, is dit rêrig nodig om sulke embarrassing persoonlike details aan die media te verklap? Dis soos om te openbaar dat jou geliefde ’n ingroei-toonnael het! “Ek wou nog altyd iemand met ’n ingroei-toonnael ontmoet. Ek respektéér ingroei-toonnaels …”

      Nee, sies, Dozi! SKAAM JOU!!! Van wanneer af is jy deel van die Afrikaanse maagde-kultus? Ek dog jy’s ’n Zoeloe? Ek dog jy’s die soort man’s man vir wie Steve Hofmeyr biltong vat as hy gaan kuier?

      En nou’t jy skielik jou eie maagd! Hoekom? Is dit fair? Is jy self ’n maagd?

      Dozi, maagde is fine op papier. Maar om met ’n maagd te trou, is soos om iemand aan te stel in ’n baie belangrike posisie sonder dat die persoon enige ervaring het! Sou jy as jy ’n courier company het, ’n klomp drywers aanstel wat geen lisensies het nie? Wat nog nie eers op ’n tricycle gesit het nie? En dit nogal ’n lewenslange aanstelling!

      Goed, goed, ek gee toe, dis beter as die Fashion Channel. Daarom wens ek julle alle sterkte toe. Dis net jammer jy stel so ’n swak voorbeeld aan die jeug!

      24.com blogs

      die groot stilte

      Toe ek die nuus van P.W. Botha se dood hoor, was dit soos die geluid van ’n honderd watervalle in die verte.

      En daarna: stilte.

      Dit was anders as die dood van enigiemand anders wat ek geken of van geweet het.

      Etienne van Heerden van LitNet het vir my ’n SMS gestuur kort na seweuur die oggend. Ek was besig om ProNutro met melk te meng vir my sesjarige seun se ontbyt voor ek hom aantrek en na sy preprimêre klas neem. Pienk ProNutro.

      En toe: die SMS.

      En toe: die suising van baie water.

      Dit was asof alles stil gaan staan het op daardie oomblik, asof alles wat ek is, wat ek glo en waarvoor ek gewerk het, alles om my, my huis en my tuin en my stoele en my TV en my computer en die prente in my gang, nuwe betekenis gekry het.

      Alles was meteens leeg.

      Dit was asof Tafelberg in die see ingesak het.

      Ja, dit was soos om een oggend in jou kar te klim en stad toe te ry in die spitsverkeer, en Tafelberg is nie meer daar nie.

      Tafelberg is … weg.

      Waar hy gestaan het, is net blou lug. Asof dit nog altyd so was. Asof dit die normaalste ding in die wêreld is.

      Die gesuis.

      Ver weg.

      En dan, lank en ver terug, die herinneringe, herinneringe aan liedjies wat ons gesing het in die donker skoolsale van apartheid toe ons nog stout seuns was …

      Liedjies teen P.W.

      Ons het toe nog ons wynbottels stukkend geslaan teen die wand van die berg. Die berg wat nou nie meer daar is nie.

      Ek weet daar sal iets kom na die stilte.

      Ek besef ek sal iets voel wat amper soos berou is.

      Ek weet daar sal weer woorde in my kop spring, woorde van vergifnis miskien, selfs woorde van humor.

      Want die blou lug moet besing word.

      P.W. is nie dood nie, hy’s net uitgepaas.

      Die draak het ophou vuur spuug. Die haatfabriek het gesluit.

      Die geraas in my kop het verdwyn. En die angs. En die skuld. En die woede van my jeug.

      Ek trek my kind se klere aan vir skool, en laai hom in die kar, en terwyl ek oor sy hare vryf en kyk of daar snot aan sy neus vassit, weet ek: hierdie kind hoef nie eendag op die grens te gaan veg soos my generasie nie.

      Hy sal dalk teen ander Bothas moet veg, maar nie teen hierdie een nie.

      Toe ek die kardeur toeslaan agter my, en agteruit by my eie garage uitry, is die lug oral blou, en die strate is vreemd rustig, en Suid-Afrika het ’n nuwe naam.

      litnet

      die struggle het weer begin

      Hoe lank lê daai ou hopie Vrye Weekblaaie

Скачать книгу