Die Reuk van koffie. Koos Kombuis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Reuk van koffie - Koos Kombuis страница 4
Want ons het eenvoudig geen ander opsie nie.
Our hinterland is … HERE.
Tussen die halfvoltooide HOP-huise, die kragonderbrekings, die onbetaalde polisie en die oorwerkte verpleegsters sal ons eindelik ons doel bereik. Met rukke en stote. Met baie waagmoed en gebed. En dalk ’n bietjie geluk.
Amen, ja, kom, Azania.
rapport
don’t braai for me, jacob zuma
Eers was daar die Emmausgangers. Toe was daar die Dakar-gangers. En nou is daar die Houghton-gangers.
Is dit ’n kollektiewe doodswens, of ware Afrikaner-gasvryheid? Ek hoop dis laasgenoemde!
Ja, ek is ook uitgenooi na dáárdie braaivleis-geleentheid! Die een saam met Jacob Zuma, Sean Else, Steve Hofmeyr, Leon Schuster en Dan Roodt! Om die waarheid te sê, ek het VYF e-mails gekry waarin ek herhaaldelik gesmeek, gedwing en informeel afgepers is om my teenwoordigheid tasbaar te maak by dié Glansgeleentheid in Johannesburg se Noordelike Voorstede! (Aan huis van die tannie van De Kat!)
MAAR EK KON DIT NIE MAAK NIE!!!
Ek het die betrokke aandjie rustig by die huis deurgebring. Eers het ek my hare gewas. Toe het ek na ’n Nicholis Louw-CD geluister. En toe kyk ek Desperate Housewives (wat my vrou vir my getape het). Dit was genoeg vir my. Ek is ’n baie private mens.
Dis maar al wat ek wou sê. Ek hoop die tjops was lekker!
24.com blogs
miskien moet ons liewer ’n moewie maak oor steve as ’n play
Hier is my voorgestelde rolverdeling vir ons internasionale fliek oor Steve se lewe.
Die ouer Steve: Robert Redford
Die jonger Steve: Robbie Klay
Steve se vrou: Julia Roberts
Steve se manager: Anthony Hopkins of Bill Flynn
Anton Goosen: Willie Nelson
Deon Maas: Bart Simpson
Jacob Zuma: Leon Schuster (gepolish)
Sonette Bridges: Bree van Desperate Housewives
Dan Roodt: Al Gore
Die joernalis wie Steve gemoer het: Tom Hanks
Steve se kinders: die Weense Seunskoor.
24.com blogs
help! daar’s ’n bonsai by my braai!
Vandeesmaand, so word dit my vertel, gaan die NG Kerk besluit of die Duiwel bestaan of nie.
Dis die belangrikste besluit wat hulle moet neem sedert hulle besluit het dat gays wel bestaan, al het God hulle per ongeluk gemaak.
Wat ’n verskriklike verantwoordelikheid gaan dit wees! Een groepie dominees aan die suidpunt van Afrika moet vir die hele wêreld besluit wat presies die aard van die Boosheid is!
Newwermaaind al die filosowe deur die eeue! Newwermaaind Kierkegaard, newwermaaind Paulus, newwermaaind Nietzsche! Die besluit berus by die NG Kerk, en die NG Kerk alleen!
Dit laat my wonder: WEET DIE DUIWEL WAT OP HOM WAG? WEET DIE DUIWEL DAT SY BESTAAN AFHANG VAN DIE BESLUIT VAN DIE NG KERK-SINODE VAN JUNIE 2007?
’n Interessante artikel deur Johannes de Villiers in By van 19 Mei gee my genoeg agtergrond om te besef hierdie dominees het meer eerstehandse kennis van die Boosheid as wat ek, gewone sterfling, ooit in my wildste drome kon versamel.
Hy haal aan uit ’n preek deur ene dominee Bennie Mostert van die NG gemeente – waar anders? – Moreletapark, Pretoria:
“Karate, judo, joga, transendentale meditasie, heavy metal-musiek, gruwelrolprente en allerlei ongeoorloofde seksuele praktyke stel ’n mens oop vir duiwels. So ook die kweek van bonsaiboompies.”
Ekskuus? Het ek reg gehoor?
DIE KWEEK VAN …
DAGGAPLANTE?
OPIUM?
DIE MESKALIENVORMENDE KAKTUS VAN MEXIKO?
STINKAFRIKANERS?
Nee, BONSAIBOOMPIES!!!
Nie die rook van, die eet van, die aanbid van BONSAIBOOMPIES kan van jou ’n duiwelbesete, prewelende woestaard maak nie, maar bloot die KWEEK DAARVAN.
Toe ek hierdie sin lees, het ’n doodsangs my beetgepak. Ek het in my tuin ingevaar om seker te maak, DOODSEKER, dat ek nie dalk PER ONGELUK die niksvermoedende kweker van ’n bonsaiboompie is nie.
En kan jy dit glo, daar ontdek ek toe een. Nie eens weggesteek iewers in ’n donker hoekie agter die strelitzias nie, maar oop en bloot, in ’n pot, al hangende in ’n gietyster-muurgedoente teen die baksteenmuur van my braaiplek! ’N BONSAIBOOMPIE! DIE SATAN SELF!
Woedend konfronteer ek my vrou met my vonds. “En al die jare dog ek jy is Katoliek,” beskuldig ek haar. “Nou moet ek agterkom jy het jou siel aan die Duiwel verkoop! Hoe lank hang daai b- … daai blerrie plantjie al daar by my braaiplek?”
“O, dit? Ons nuwe malva?”
“M- … Malva?” vra ek verbouereerd.
“Ja. Jy het self verlede week die gate geboor sodat ons hom daar kon ophang. Onthou jy nie?”
“Malvas is amper so erg soos bonsaiboompies,” brom ek. “Breyten het eenkeer ’n gedig geskryf oor ‘malvas op balkonne’, en hy was ’n volksverraaier, dan nie?”
“Die enigste volksverraaier wat ek ken,” sê my vrou terwyl sy haar arms om my slaan, “is jy. En jy’s nie baie gevaarlik nie, want ek woon al meer as tien jaar saam met jou sonder om iets oor te kom.”
Dis asof daar ’n lig vir my opgaan. Uit die bloute onthou ek ’n versie wat Paulus of iemand geskryf het, ek is nie seker wie nie, maar anyway, ek kan sweer dit staan iewers in die Bybel of ten minste in een van Izak de Villiers se digbundels:
“Alles is rein vir dié wat rein van hart is.”
Ek gaan stap met my hond om die blok. Oral om my pryk die pragtigste blomme in tuine. Stadig maar seker kom daar vrede in my gemoed, en besef ek:
Bonsaiboompies is ONPARTYDIG. Bonsaiboompies is so onskuldig soos FOKSTERRIËRS.
Die Boosheid bestaan, ja. Geen mens wat op hierdie aardse tranedal woon, kan dit ontken nie. En juis omdat daar wel iets soos die Boosheid bestaan, is dit geweldig kontraproduktief om hom te gaan soek