Die ander vennoot. P.J Haasbroek

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ander vennoot - P.J Haasbroek страница 1

Автор:
Серия:
Издательство:
Die ander vennoot - P.J Haasbroek

Скачать книгу

      

      Die ander vennoot

      P.J. Haasbroek

      Human & Rousseau

      Vir Russell Chambers en André Lamprecht, sakekamerade

      Heelwat in die verhaal is waar; die res het ek my verbeel.

Deel 1

      1

      Soos dit gewoonlik met ’n gatslag gaan, het hulle dit nie verwag nie. Al skakel die rugwerwels nou ineen, witgebleik in die son, was dit tóé nog weggesteek onder vel en hare.

      Pretorius weet nou dat die rinkhals al bakkop gemaak het met daardie laaste wintertoer. En John, sy vennoot, het saamgestem: hul onderneming was moer toe.

      Dit was Juniemaand 1985, met die groep Duitse toeriste na die Kaokoveld. Hul besigheid, Goraseb Safaris, het ’n keerpunt bereik.

      Maar wié kan sê waar begin begin? Of waar lê die laaste omdraaikans?

      Hulle het daardie koue oggend net na ontbyt met hul twee veldvoertuie – spesiaal ingerigte Land Cruiser-bakkies – uit Windhoek gery. Die pad na die internasionale lughawe was stil. In die lughawe se ontvangslokaal is ook nie veel mense nie, net ’n paar Suidwesters, twee verveelde soldate in bruin bosuniforms paraat met gewere, die lughawepersoneel en enkele toeriste.

      Die twee vennote sit stilswyend op ’n bank langs mekaar: die eienaarbestuurders en -operateurs van Goraseb Safaris. Asof hulle stry gekry het. Pretorius probeer dink of daar iets is wat hy dalk vergeet het, goed wat hulle vir die toer benodig. Maar verseg, sy gedagtes maal om sy herinneringe aan Mea. Sy onvermoë om die breuk tussen hulle te verstaan, maak hom nog stiller as gewoonlik. Hy wonder of hy John kan vertel, maar sy vennoot se gemoedstemming ontmoedig hom.

      John se wenkbroue knoop in ’n frons wat na twee baalhake lyk, vlympunte na bo. Hy het opgehou praat oor hul laaste bankstaat, waarop die saldo net-net genoeg is om die diesel, kos en drank vir die toer te dek. Spel ook nie meer sy planne vir die topaasmyn uit nie.

      “Die Duitsers kan ons dalk red,” het hy op pad lughawe toe gesê. Daarna het sy gesels oor hul besigheid opgedroog. Hy sit met sy hande op sy knieë en vuis maak, strek sy vingers en maak weer vuis.

      Pretorius weet: As John nie iets vind om oor te praat nie, is dit ’n gevaarteken. Hy is omgekrap oor iets. John praat eintlik soos hy dink. Die stroom van sy gedagtes spoel eenvoudig in ’n rustige woordevloed oor sy toehoorders. Dis vir hom gevolglik moeilik om sy planne geheim te hou; sy strategieë is deursigtig.

      Pretorius waardeer sy vennoot se openhartigheid, want dit hou hom op hoogte van sake. En dit help hom om sy kant te bring. Wat nodig is, doen hy. En wat hy doen, weet hy, doen hy goed.

      Hy is meer as net tevrede om John se sakevennoot te wees: hy voel dankbaar dat John die leiding neem, dat hy soveel by hom kan leer. Daarby is hulle ook vriende. Goeie vriende, sonder enige krapperighede of geheime.

      Tot die ding met Mea gekom het. Hy kon dit nog nie met John bespreek nie. As hy John vertel wat gebeur het, sal hy beslis lag. Hy sê altyd mens moenie kop verloor met ’n vroumens nie. Dis net kophou wat keer dat hulle jou ondersit. En dit voel vir Pretorius Mea het hom ondergesit. Behoorlik diep, donker, onder.

      Volgens John is vroumense vir ’n man gemaak om mee te speel – lekker wanneer jy nie met iets anders besig is nie. Dalk dink Mea ook dit was net ’n speletjie. En toe sy daarmee stop, val hy, Pretorius, op sy gat. Dis nie iets wat met John sal gebeur nie. Hy ken die reëls te goed.

      As hy hom aan John se praatjies gesteur het, het hy dalk geweet wat kom. Maar omdat hy ouer in jare is, wou hy hom nie laat touwys maak nie. Ten minste nie in liefdesake nie. Daarin soek elke man mos maar self sy pad vorentoe. En stamp sy eie kop.

      John draai na die groot venster agter hulle en kyk oor die droë oker-en-grys veld, voor hy weer na die stippel van ’n vliegtuig begin soek. Hy doen dit stadig van kant tot kant en van onder tot bo, deeglik, so ver as wat die venster sy uitsig omraam.

      John is soos ’n opgewende veer. Hy weet hulle het die toer broodnodig; hulle kan nie bekostig dat daar fout kom nie. Maar ’n enkele kwartier se wag is genoeg om sy geduld te beproef, en die SAL-vlug van Johannesburg af is al meer as ’n uur laat. Die verwagte aankomstyd is nou 12.20. Nóg ’n aankondiging oor die luidspreker dat die vlug vertraag is, kan die laaste strooi wees, weet Pretorius. Dan sal ’n halfkoel bier uit die yskas nie meer John se frustrasie kan demp nie.

      Pretorius voel self lus vir ’n dop – ’n brandewyn-en-coke. Yskoud in ’n groot glas vol gebreekte ys. Hy steek sy pyp op, maar ná ’n paar trekke druk hy dit weer in sy sak. Mea het nie daarvan gehou dat hy rook nie. “As jy rook, het jy g’n asem nie,” het sy gesê.

      Nou sit hy maar en kyk na die mense wat verbystap. Toeriste in kleredrag wat hulle dink in Suidwes sal pas. Vroegmiddag is eintlik ’n goeie tyd om toeriste aan die Suidwes-landskap bekend te stel – die droë veld onder ’n lug sonder wolke. Ná die Europese somer steek die sonlig in hul oë en gloei dit op die aanloopbaan, al is dit winter. Hy wed in die aankomsaal al sal die Duitsers sweet afvee, en dadelik bottels water gaan koop, asof hulle bang is hulle ontwater in hierdie halfwoestyn.

      John Heckrodt is net die regte man om hul kliënte te ontvang. Die safarileier in sy kakieklere, bruin geskroei deur die son, sal presies voldoen aan hulle verwagtinge. John boesem vertroue in by die mans, en die vroue se harte klop vinniger as hulle hom na hulle sien aankom op die lughawe. Jonk en sterk, en selfversekerd met sy wegstaansnor.

      Boonop verstaan John die kuns van goeie bemarking; in die safaribedryf begin dit met die regte beeld. Uit die staanspoor oortuig hy hul kliënte dat die toer wat Goraseb Safaris aan hulle bied, die wegbreekavontuur is waarna hulle nog altyd gehunker het. Selfs as dinge verkeerd loop, laat hy hulle dink dis deel van die avontuur – só gaan dit maar in Afrika se wildernis.

      Pretorius glimlag toe hy dink wat John alles sal moet goedpraat wanneer hulle in die Kaokoveld kom. So min geriewe. En erger: soveel ongerief op pad en in die kamp. Hul eenvoudige maaltye – Pretorius se kookvaardighede is beperk tot ’n paar basiese disse wat hy dag ná dag aan hul kliënte voorsit. Saam met lou bier of rooiwyn. En soet swart koffie.

      Die koue nagte en warm dae. En die uitmergelende, droë, warm wind wat oor die woestyn waai en alles met ’n lagie sand bedek. En stof. Stof in jou oë en neus. In hul veldvoertuie is dit net so onvermydelik soos die hitte; die sweetdruppels trek modderspore oor jou voorkop, jou wange en af in jou nek.

      Hul kliënte moet nou net kom dat die safari kan begin. Sonder hulle sal hy en John maar moet terugry Guntsas toe. ’n Ander plan beraam om geld vir die topaasmyn te bekom. John sien dit toe eerste.

      Die stippel van vlug SA830 groei stadig groter uit die blou bokant die gesigseinder, draai noordwes en laat sy wiele sak. Toe die straler land, lyk dit asof sy romp in die lugspieëling smelt en nuwe, plastiese vorms aanneem. ’n Wit seeleeu, ’n boggelrugwalvis wat blink in die steekgras verbyswem.

      Die passasiers sonder bagasie kom eerste uit in die ontvangsaal: sakemanne in donker pakke. Daarna boorlinge van Suidwes, wat luidrugtig deur hulle familie of vriende ontvang word. Die toeriste, vertraag deur die ontvangsklerke en doeaneformaliteite, daag laaste op.

      John hou die Goraseb Safaris-naambord omhoog vir hul groepie. Onder die naam is ’n prentjie van ’n veldvoertuig in silhoeët onder ’n kameeldoring. Daaronder staan in groot drukskrif: Karl & Renata Schiele, Monika Brett, Anchen Leiser, Horst Kuhn, Avenant Gotschalk.

      Pretorius

Скачать книгу