Die ander vennoot. P.J Haasbroek
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die ander vennoot - P.J Haasbroek страница 5
Toe vertel Pretorius hulle van die sandlope wat soms in die somer afkom as dit reën. ’n Woeste bruin vloed wat gou verbystroom. Daarna vloei dit meestal onder die sand; maak net hier en daar modderige suipings tussen die riete.
“Oos lê die dorsland,” sê hy. “Ons het ’n groot rivier aan ons suidekant, die Oranje. Maar bokant gaan dit beter: daar vloei die Kunene, die Okavango, die Kwando, en ook ’n stukkie van die Zambezi.”
“Gaan ons soontoe ook?” vra Anchen.
“Dis te ver en te gevaarlik. Dis waar die Suid-Afrikaanse weermag opereer.”
Noord word die veld ruier, vertel hy verder; daar is meer om te sien as net leë vlaktes. Hulle sal môre die Otaviberge suid van Tsumeb kry. Loodgrys dolomiet bokant digte doringruigtes. Withaak en spekboom groei teen die hange. Dalk sien hulle nog ’n sprokiesboom daar, met sy kaal stam en takke glad soos ’n vrou se arm. “Dis die wonderlikste, vreemdste kaalgatboom, en gewoonlik groei dit op die onmoontlikste plekke tussen die rotse,” trag hy om hul belangstelling te wek.
Terwyl die landskap by hulle verbyskuif, dommel die drie Duitse toeriste weg. Hulle het min geslaap die vorige nag. Die kampbedjie in ’n tent en die vreemde naggeluide – jakkalse en die gebalk van ’n donkie – het hulle wakker gehou. Pretorius vertel nog van die verstommende uithouvermoë van gemsbokke – hoe lank en hoekom hulle sonder water kan bly – toe snork Kuhn al agter hom.
Pretorius kyk vlugtig na Anchen langs hom. Haar oë is toe, maar dit lyk nog steeds asof sy glimlag. Waaraan dink sy?
Onwillekeurig onthou hy Mea. Hoe hy hom met haar misgis het. Hy het nooit geweet wat sy dink of wat om van haar te verwag nie.
Dit kan wees dat dit gewoonlik ’n man se probleem is, maar ook dat dit net hy is wat dom en onbeholpe was. Dan sal dit weer gebeur, keer op keer, terwyl hy sukkel om te verstaan. ’n Droewe vooruitsig. Hy sal maar moet ligloop, besluit hy. Vroumense verstaan, is nie ’n maklike ding nie.
En nog soveel meer hierdie Duitse Mädchen. Van haar weet hy net mooi niks.
2
Ná die eerste jaar het Goraseb Safaris ’n klein balans op die bankstate gewys. Heelwat van die skuld wat John aangegaan het om die toerusting aan te skaf was al gedelg, en daar was amper twintigduisend rand in ’n spaarrekening, vir die wis en die onwis.
Vir John was die banksakkie vol buitelandse note, wat hy sorgvuldig in sy groot huis op Guntsas weggesteek het, egter veel belangriker: die saadkapitaal vir Teufelsbach Gemstones (Pty) Ltd se volgende onderneming.
Pretorius het gewonder hoekom sy vennoot dit “saadkapitaal” noem, maar hy wou nie vra nie. Van finansies verstaan hy soveel soos ’n kat van saffraan. Hy ken ’n dieselenjin en hy weet hoe om remme te bloei, maar moenie met ’n storie oor beleggings en opbrengste kom nie.
Dat die safaribesigheid beter betaal as boerdery, dit weet hy nou.
John het Guntsas, sy pa se beesplaas naby Otjiwarongo, geërf. Net meer as seweduisend hektaar gesonde doringveld. En saam met Guntsas het John hóm ook eintlik gekry, want hy het eenvoudig aangehou om te doen wat hy op die plaas vir oom Richard, John se pa, gedoen het.
Hy het al wat enjin is in stand gehou. As iets breek dit reggemaak – voertuie én windpompe. En vir die harde veldwerk het hy nooit geskrik nie. Kampdrade span. Met die bees werk; tollies brandmerk en onthoring. Sorg dat daar soutlekblokke in al die weikampe kom.
Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy het vir oom Richard gewerk sonder dat hy ooit ’n posbeskrywing gehad het. Voorman of plaasbestuurder, wat maak dit saak? Hy het sy werk net as werk beskou. In die sweet van sy aanskyn sy brood verdien, soos sy pa altyd gesê het.
Hy het sy liefde vir plaaswerk by sy pa gekry – lang Salmon Pretorius, die jongste seun van ’n Dorslandtrekker. En sy liefde vir Suidwes.
Van Angola kan Pretorius min onthou; sy pa het in 1964 met hulle van Humpata teruggetrek Suidwes toe. En werk op ’n plaas in die Mariental-distrik gekry. By Hannes Louw, in sy karakoelboerdery. ’n Groot plaas, want daar lê die vlaktes wyd, en in die opsny daarvan kon die plaasgrense ver uitgeskuif word. Gevolglik woon die boere yl versprei oor groot afstande. Die opstal van hul naaste buurman was meer as twintig kilometer weg, en Mariental meer as ’n honderd kilometer op die grondpad.
Voor hy skool toe is, het hy gedink mense leef maar so alleen. Hy was altyd bra skaam om gesig te wys as daar vreemde kinders op die werf kom. Hulle het selde dorp toe gegaan; sy pa het geglo dis goed waar hulle is. Op ’n plaas kry kinders alles wat hulle nodig het: ’n huis waarin hulle by hul ouers grootword en van hulle leer, en die veld wat vir speel wyd ooplê na alle kante toe.
Ontevredenheid oor jou lot is sonde, het sy pa geglo. Hy het as kind swaarkry in Angola leer ken. Dit het hom geleer dat as jy van jou werk seker is, en elke dag kos het, moet jy nie aanhou loop en soek na iets beters nie. Humpata het mens dankbaarheid geleer, het hy altyd gesê. En standvastigheid.
Ná skool het Pretorius op Guntsas begin werk, en die plaas was nog altyd goed vir hom. Hy kon nog nie aan ’n rede dink om weg te gaan nie. Nuuskierigheid oor die lewe op die dorp, of oor hoe dit moet voel om in Windhoek te bly kan mos nie ’n sterk genoeg trekpleister wees om hom die pad te laat vat nie.
Sy jonger broer werk nou al sewe jaar in die koöperasie in Keetmanshoop. En sy suster, Rebekka, wat op negentien met Floris Jooste van Lüderitz getrou het, is tevrede om huisvrou te wees en hul vier kinders groot te maak. Wie hulle ken, weet hulle Pretoriusse groei mettertyd in hul werk vas, taaier as kanniedood in klipgrond. Groei en houvas, dít kan hy. Hy dra sy werk met trots, soos ’n Afrikanerbees sy horings.
John is sewe jaar jonger as hy, maar hulle kom al ’n lang pad saam – hy het by oom Richard begin werk toe John nog op skool was. Die oom was een van die voorste beesboere in die Otjiwarongo-distrik, ’n nasaat van die Heckrodts van Ghanzi. Hulle het daar gevestig toe dit nog Betsjoeanaland was, waar John se oupa met die dogter van ’n Engelse ivoorjagter getrou het. Vandaar die Engelse name in hul familie. En John het sy blou oë van sy ouma geërf, sê hy nogal trots.
John was net klaar met skool – die Hoër Tegniese Skool in Otjiwarongo – toe die soort ongeluk gebeur wat soveel Suidwesboere tref. ’n Koedoebul skemeraand langs die pad, en oom Richard hét vinnig gery. Groot en sterk soos hy was, is hy op slag dood.
Guntsas het meteens stil geraak. Oom Richard se harde stem het nie meer oor die werf opgeklink nie, en sonder sy dawerende lag was die atmosfeer in die voorkamer somber. In die kraal het sy Afrikanerosse tevergeefs op sy roep gewag.
John, die enigste seun, was eensklaps baas van Guntsas. Op die seweduisend hektaar was vyfhonderd bees: koeie en kalwers, ses bulle en byna ’n honderd jong osse. Oom Richard het vyf plaaswerkers in sy diens gehad, Damaras. Hulle was goeie werkers, oorlams.
“Jy moet my seblief help, Herklaas,” het John gevra. “Ten minste tot ek my voete vind.”
“Ons maak so.”
Daarmee, só eenvoudig, het hul vennootskap begin.
Tant Hester, John se ma, het Windhoek toe getrek; die storie van die terroriste wat uit Ovamboland nadersluip, het haar nie aangestaan nie.
John het gesê: “Laat hulle kom! Ek sal my nie van Guntsas laat afjaag nie.”
Pretorius onthou