Die ander vennoot. P.J Haasbroek
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die ander vennoot - P.J Haasbroek страница 8
Hulle vind ’n leë tafel en ’n kelner kom neem hul bestelling. Maar hulle sit skaars, toe steek Mea haar hand na Pretorius uit. “Kom!” gebied sy.
Hy voel soos ’n skoolseun. Huiwerig betree hy die dansvloer agter haar aan. Hy neem haar hand, plaas sy ander hand op haar rug. Onder sy vingerpunte voel hy die regop holte tussen haar rugspiere. Toe sy na hom opkyk, is haar blik ’n ysblou toets: Uithaal en wys nou! Onsekerheid hang loodswaar in sy lyf. Hy trek haar teen hom vas, die soepel gimnas, of is dit nou die ratse tennisster?
Toe Mea haar lyf teen syne pas, voel sy egter nie vir hom na die sterk sportvrou nie. Inteendeel, sy is meegewend en sag, byna huiwerig om sy bewegings teen te gaan. As hy vorentoe tree, voel hy haar hand oor sy skouer na sy norra skuif. Dans sy agteruit, gee hy maar net nog ’n tree, bewus van hoe haar voorkop soms aan sy bors raak.
Dis toe makliker as wat hy gedink het. Hy hoef maar net saam met haar oor die vloer te loop, in die skuilte van die skemer agter die ander paartjies aan. Stuur hy haar, of volg hy? Hy kan nie agterkom nie. Hy gee ’n paar langer treë; sy rek hare om by te bly. Dan stadiger, en hy voel haar teen hom asemhaal.
Hy waag ’n draai; sy gly maklik om hom, effens agteroor geleun. Hy het gevoel hoe sy ’n treetjie mis, dit herhaal. Hy trek haar stywer teen hom vas en draai weer. Maklik, haar bobene stamp vlugtig teen syne – daardie spiere wat so geoefen knoop en los. Toe speel die orkes die laaste akkoorde en hulle stop eers om iets koels te drink.
Pretorius en Mea loop terug na hul tafel, na die vrolikheid van John en Lianna se gesprek. Lag hulle dalk vir hom? Nee, John maak al weer grappe.
Pretorius trek Mea se stoel vir haar uit. Sy glimlag op na hom. Hy is verwonderd. Is dans met die vreemde meisie dan so maklik? Hoe het hy so gou reggekom?
“Jy is wragtie goed,” prys hy Mea se vernuf.
“Ek hou daarvan dat jy my so sterk vashou. Dan weet ek wat jy wil doen.”
“Dit kan my in die moeilikheid laat beland.”
Waarop sy lag: “Genau!”
Die kelner bring hul drankies: vir hom en Mea albei brandewyn-en-coke met baie ys. Dis gesellig om so langs haar by die tafel te sit. Saam met haar uit die lang glas te drink. Die ys rinkel en gasborreltjies bars deur die oppervlak.
Hy en Mea het hul eie gesprek; hulle steur hulle nie aan die ander twee se gekorswel nie.
“’n Man wil altyd terugkom,” sê sy later. “Dalk om ordentlik te wees, om te wys hy dink nie sleg van haar nie. Of om uit te vind of hy darem ’n goeie indruk gemaak het.”
“Party van ons is maar onseker,” erken hy.
“Onseker? Is dit omdat jy bang is ek voel dis die begin van ’n verhouding?”
“Dit begin mos gewoonlik so.”
“Néé. Wat begin het, het geëindig. Dis agter die rug. Soos ná ’n pot tennis sê ek net dankie en wiederschau! En dan loop ék weg. Schluss! Kaput.”
Hy is nie seker of hy haar reg verstaan nie. “Net so? Verby?”
Sy lag. “As ek wegloop, sal jy sien hoe verras is jý.”
“Ek hoop jy bly darem vanaand tot John terugry. Ek wil nie alleen hier sit nie.”
“Toemaar, Herklaas, ek los jou eers as ons kláár is,” lag sy vrolik.
Dit oortuig hom dat sy reeds besluit het een aand saam met hom is genoeg. Hy geval haar nie; sy geselskap of iets skiet te kort. En sy gaan hom nie sê wát nie. Hy moet maar net die beste van ’n slegte saak maak.
Weer volg hulle John en Lianna na die dansvloer. In die geklop van die basdrom se ritme voel hy sy bloed pols. Hy staan teenoor Mea en trap-trap die eenvoudige passies, swaai sy bolyf van kant tot kant, pomp effens met sy arms soos sy hom wys.
Toe die musiek verander, langsaam word, neem hy haar in sy arms. Hulle tree saam oor die vloer, dig teen mekaar sodat hy haar bewegings kan voel, die spel van haar spiere. Hy streel oor haar rug, roekeloos af na die begin van haar boudspleet en weer op oor haar blaaie tot waar hy haar kaal skouers voel. As dit net hierdie een keer is, dink hy, kan hy mos maar waag. Hulle sal mekaar nooit weer sien nie. Sy, die sportiewe, besige prokureur, sal hom nie eens onthou nie.
Die warmte dam tussen hulle op. Hy gee nie om oor die gladde sweet in sy oksels, hoe klam sy hemp aan sy bolyf begin kleef nie. Snuif net behaaglik diep aan die geur van haar hare. Laventelblom ruik so kruierig soet, maar Mea het ook ’n ander geur. Die muskus van haar hals; waar kom perskepit se wilde geur vandaan?
Terug by die tafel hervat hulle hul gesprek van vroeër. “Soek jy diep, baie diep in my, vind jy dalk ek’s ook maar oppervlakkig,” terg Mea hom.
“Ek, weer, is so diep, ek kan nie daar onder uitkom nie,” antwoord hy.
Wat al drie die ander laat uitbars van die lag. “Dieper as Oshikoto se gat!” roep John. “En onder, weet ons mos, lê die Duitsers se kanonne rond.”
Later vra Mea hom uit oor Guntsas, en hy vertel haar van die beesboerdery.
Op sy beurt vra hy haar oor haar werk en haar sport. “Ek het nie geweet ’n meisie wat gimnastiek doen, sal nog swem en perdry ook nie . . .”
“En wat nog?” vra sy. Toe, met ’n glinstering in haar blou oë, vat sy hom onder die tafel tussen sy bene vas. En fluister: “Ja, nogal heelwat meer as ’n hand vol!”
Hy skrik só, hy val amper van sy stoel af.
3
Toe die koepeltente die tweede aand staan en sy hardekoolvuur brand, skink Pretorius vir die Duitsers elk ’n dop. En vir homself ’n brandewyn-en-coke met ys uit die koelkas.
Horst Kuhn, die restaurateur, kom staan langs hom, bier in die hand, en wil weet wat hy vir aandete gaan maak. Horst vertel van sy restaurant, van sy wulpse, gewillige kelnerinne – “Jy moet kom kuier, dan ontmoet jy hulle” – en sy gaste.
“Gewoonlik is dit ’n plesierige besigheid. My klante soek Gemütlichkeit. Hulle sing en stamp met hul bierbekers op die tafel. Maar daar kom ook dae wat alles verkeerd loop. Personeel wat mor, of klante wat moeilik is; hulle stuur die kos onder enige simpel voorwendsel terug. Jy moet almal tevrede stel, maar jy weet nie watse giere hulle het nie.”
“Ons kliënte is gewoonlik so bosverskrik dat hulle hulle maar skik na ons reëlings,” jok Pretorius met ’n wye glimlag. “Julle weet mos julle is in ons hande, en ons moet julle nog veilig terugbring Windhoek toe. Daarom hoor ons selde ’n klagte.”
Aan Horst se lag kan hy hoor hy glo hom nie.
Tog is die aand se kampeerdery heel plesierig. Horst gee hom vriendelik raad hoe om sy disse smaakliker voor te berei, en niemand kla oor die kos nie.
Wat ook al op Frau Schiele se bord kom, val sy driftig met mes en vurk aan asof dit haar ’n soort sadistiese plesier gee. Sy werk dit in haar mond in terwyl sy aanhou praat: stukke vleis, aartappels en stringe noedels, gevolg deur brood beplak met kaas en groenvyekonfyt. Haar aptyt kan nie maklik gestil word nie. Sy eet met mening. Sy eet met oorgawe. Sy eet en eet.