Die ander vennoot. P.J Haasbroek

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ander vennoot - P.J Haasbroek страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Die ander vennoot - P.J Haasbroek

Скачать книгу

om en ry terug!” het ’n paar al gepleit.

      Dié keer, onder die kritiese oog van Gotschalk, sal hulle net moet sorg dat niks verkeerd loop nie.

      Die hele groep bestel bier. Hulle kyk belangstellend op die verkeer in die Kaiserstrasse af. Bakkies, ouerige motors, en toe grom twee militêre vragmotors verby. Sandbruin, met seiloordekte bakke.

      Op die sypaadjies weerskante loop mense wat die verskeidenheid van Suidwes-Afrika se bevolking verteenwoordig. Herero-vroue in hul kleurryke wye rokke, Rehoboth-Basters, wit boere met hul gesinne, Damaras en Namas, jonk en oud. Net die Boesmans ontbreek. Snaaks dat die Duitsers nog nie oor hulle navraag gedoen het nie: “Wo sind die Buschmänner dann?”

      Pretorius voel bly dat die stad so skoon lyk. Dat die mense so sorgeloos en vrolik loop en gesels. Die toeriste sal byna geen teken van spanning oor die situasie op die noordgrens merk nie – die Suid-Afrikaanse magte het sake daar onder beheer. En hier in Windhoek gebeur eintlik nog niks, omdat dit so ver van die grens af is. Swapo se dreigemente klink hol. Die stof van die bom wat in die wassery ontplof het, het lankal gaan lê.

      Dit lyk nie of die toer anders as enige van die vorige toere sal verloop nie. Hulle plan is standaard: noord, na waar daar meer bos en volop wild is, met hom en John as die bestuurders op die paaie wat hulle al hoeveel maal gery het. Die gevaar van gewapende Swapo-insypelaars daar bo het hulle nie eens oorweeg nie; die grensmagte hou die kaplyn skoon.

      Van Windhoek af beplan hulle om na Okahandja te ry, waar hulle vanaand sal slaap, en van daar af na Otjiwarongo, waar hulle kort duskant sal wegdraai na die Waterberg Platopark. John is oortuig dit sal goed wees om die ou Duitse begraafplaas by Waterberg aan te doen: dit sal hul Duitse kliënte betrokke laat voel by die land en sy mense.

      Dan, anderkant Waterberg, wil hulle oudergewoonte op die jagplaas van Hermann Struwig, hul ou skoolvriend, gaan kamp opslaan. ’n Dag lank in die veld elande, gemsbokke en koedoes soek. Dalk kry hulle ook ’n jagluiperd te sien. Daarna verder na Otavi, en verby Tsumeb na die Namutonihek. In die Etoshapark kan hulle nog twee dae tussen Namutoni, Halali en Okaukuejo verdeel, en dan moet hulle by die Otjovasondohek uit na Kamanjab.

      John wil laaste met die Duitsers die Kaokoveld in. “Laat hulle bietjie voel wat Rommel in die woestyn moes verduur het.”

      Pretorius ken die moeisame tog deur die Joubertberge goed, verby plekke met name soos dromslae: Ombombo en Otjondeka. En na ’n week sal hulle omdraai en weer die lang pad terug vat, moeg en stowwerig en hopelik in ligte luim en goeie vriendskap.

      ’n Kort toer, gepak met indrukke van Suidwes. Die unieke geskenk van oop ruimtes onder ’n hoë blou koepel. Van donker rante bo grasvlaktes, met nog vlaktes agter die rante en nog verder, wasig blou, die berge.

      Tien dae, dan wil John die Duitsers terug in Windhoek hê. Betyds by die lughawe. Waar hulle sal hand skud en groet. “Vielen dank.” En nog ’n safari sal verby wees.

      As alles goed gaan.

      Toe hulle uit Windhoek wegry, sit die son al goed skuins. Sonder wind of wolke in die lug maak die stof dit byna wit bokant die gesigseinder.

      Pretorius klap die sonskerms af, en langs hom sit Anchen haar donkerbril op. Haar effense glimlaggie laat hom voel sy hou hom geamuseerd dop. Sy lyk vervlaks mooi agter haar bril, merk hy op.

      Elke vrou het haar eie manier om vir ’n man aantreklik te wees. Toe hy, aangepor deur John, destyds in Otjiwarongo meisies begin uitneem het, het hy dit gou agtergekom. Die een se oë, en die ander se manier van praat; keer op keer het iets anders hom aangestaan. Hy kon nie besluit waarvan hou hy die meeste nie. Wie wou hy as ’n nooi hê? Toe kom Mea. Slim, mooi, ja, maar daar was nog iets. Háár kon hy nie weerstaan nie.

      Hy luister na die masjien se gedruis, hoe suis die wiele op die teerpad. Hy het die trok goed gediens en alles wat probleme kan gee deeglik nagegaan, maar hy bly nogtans besorg; die veldvoertuie is al oud en iets kan uitslyt en onverwags breek.

      Hulle ry verby die Otjihaveraberge, geelbruin en gespikkel met vaal struike. In die vallei staan groot kameeldoringbome tussen die droë gras, maar bo in die koppe groei net withaak, spekboom en kanniedood – die seningtaaiste bittereinderbome van die skurweveld.

      Die verweerde rotsbanke en stapels splinterklip wys skakerings van roes en oker, grys en aardbruin. Pretorius wonder of die Duitsers dit ook mooi vind. Ná hul groen land, nou ’n landskap met die kleure van ’n pofadder. ’n Skynbaar onherbergsame wildernis.

      Anchen vra oor die skaduwee in die voue van die klowe, of daar darem ’n watertjie loop?

      Hy skud sy kop. “Net as dit die dag reën. Dan spoel die water – dis wat die berge so gekerf het. Maar nou is hulle horingdroog. En koelte is skaars.”

      Binnekort gaan een van die Duitsers hom vra hoe hy dit hier uithou. Hul gewone vraag: Is dit vir hom lekker in hierdie harde wêreld? Wíl hy hier wees? Heimlik dink hulle hy het ’n skroef of iets los. Of hy weet net nie hoe vriendelik Europa is nie, hierdie wildeman, Pretorius.

      En later, onvermydelik, die vraag hoekom mense so oor dié dorre land baklei. Oor die geskiedenis van die honger na grond en gebied. Dis verstaanbaar in Angola, ja, dié wonderlik vrugbare land, maar hier in Suidwes!

      Pretorius het nog nooit vir enige van hul kliënte vertel dat hy in Angola gebore is nie. Sal dit enige verskil maak aan hul agterdog oor hom? Dat hy kolonis is, plunderaar van die natuur, net omdat hy verkies om hier te bly. En wat was die Dorslandtrek anders as ’n poging tot verowering van die gebied rondom Humpata?

      Dit help nie om met die buitelanders te stry nie. Hulle beskou die dryfvere van die meeste wittes in Afrika as verdag.

      Hul kamp onder die groot kameeldorings langs die sandloop is die gewone eerste-aandse deurmekaarspul. Die Duitsers is ongewoond aan die tente oor hul koppe en die opslaanbeddens wat onder hulle platval. Hulle ervaar die eerste keer rook in hul oë, en hulle kom in die pad van sy kosmakery.

      Die volgende oggend vroeg ry hulle Otjiwarongo toe. Pretorius ken die roete noord van Okahandja al so goed, hy noem die name van die plase wat bokant die hekke hang voor hy daar verbyry, én die soort bome langs die pad. Mooi bome, al groei daar in Duitsland niks wat so lyk nie.

      Hy wys sy passasiers die twee Omatako-pieke. Hulle spitse word mettertyd hoër, hoog genoeg om berge te wees, vaalblou piramides op die gesigseinder.

      “Lyk soos ’n tweeling,” merk Anchen op.

      “Of twee vennote, soos jy en John,” kom dit van Kuhn.

      “Beslis goeie bakens,” sê Gotschalk.

      Pretorius kyk vlugtig in die truspieëltjie. Die sosioloog se lippe is opmekaar gepers, bitter, asof hy weet hoe ver die Swapo-insypelaars deur die bosse moes loop om hier te kom. Van hulle ontberinge. Wéét Gotschalk dat Swapo die Omatako’s as bakens gebruik op hul pad na Windhoek? Of was sy opmerking onskuldig, net ’n goeie waarneming?

      Oos van die pad strek ’n grasvlakte so ver uit dat dit wegraak in grysblou dynserigheid.

      “Waar hou dit op?” vra Kuhn.

      “Daardie kant lê net die Kalahari se duineveld,” antwoord Pretorius. “As jy hier by die Omatako’s begin loop, dag na dag reguit oor die vlakte na waar die son opkom, is die Limpopo die eerste rivier wat jy sal kry. Dis anderkant Botswana, die grens van Suid-Afrika.”

      “Waar

Скачать книгу