Op die toneel. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Op die toneel - Dana Snyman страница 5

Op die toneel - Dana Snyman

Скачать книгу

en Zoom-roomyse, en sterretjies op meisies se borste in die Scope, en ’n piepiepot wat sjoeing-sjoeing maak laat in die nag in sy ouma se donker huis.

      Hy wil met die ou vrou gesels wat die tamaties en die lemoene en die grondboontjies verkoop. Maar hy weet nie wat om vir haar te sê nie. Daarom sê hy maar net: “Is alles sharp hier, Mamma?” En daarom antwoord sy maar net: “Alles is sharp hier, Meneer.”

      Op die hoek, naby die poskantoor, druk ’n ander vrou ’n strooibiljet in sy hand. “Sheik Kassim,” staan daarop geskryf. “He is an astrologer, a herbalist healer and a researcher.”

      Sheik Kassim beweer hy kan onder meer die volgende doen.

      1. “Read and tell all your problems before you mention them to him.”

      2. “Bring you to see your enemies and make demands on them using a mirror.”

      3. “Guarantee that you are loved and trusted by your colleagues, husband, wife, in-laws, friends, etc.”

      Sy pa en ma het minstens een keer per jaar in die kar geklim en dan het hulle die homeopaat Dokter Gertjies iewers in die Wes-Transvaal gaan besoek en teruggekom met allerhande botteltjies wat hulle drie keer per dag in ’n glas water gedrup en gedrink het.

      Tuiskeur, waar die vrouens gebak en handwerk verkoop het, is nou ’n winkel waar jy selfone en goedkoop Chinese TV-stelle, CD-spelers en radio’s kan koop.

      Harde musiek borrel by ’n luidspreker op die sypaadjie uit: Die ritmes laat hom dink aan swart gepolitoerde kannibale in ’n Jamie Uys-fliek in die skoolsaal.

      Hy stap by Tuiskeur in wat nie meer Tuiskeur is nie. Sy ma was ook lid van Tuiskeur. Sy was nommer 42, want elke lid het ’n nommer gehad. Net die nommer het verskyn op die kaartjie wat op elke item was.

      Nommer 42 se lemoenkoek was die beste in die dorp, en dit het betaal vir rugbytoks, ’n Hammond-huisorrel en uitstappies na die Randse Paasskou en Rondalia se Die Oog-vakansieoord.

      Waar gaan stories heen wanneer hulle sterf? wonder hy soms.

      Die man agter die toonbank in Tuiskeur wat nie meer Tuiskeur is nie, lyk na ’n Pakistani. Dan sien hy ’n gesig wat bekend lyk agter in die winkel. Hy stap nader, stadig stap hy deur die skemer winkel nader, tussen rakke deur waarop TV-stelle en ander elektroniese goed uitgestal is. Iewers word met kerrie gekook, ruik hy, en die ritmes van die musiek op die sypaadjie neem hom na ’n plek in homself waarvoor hy bang is.

      Eers wanneer hy amper by die persoon agter in die winkel is, sien hy sy eie refleksie voor hom in die spieël staan.

      Vorderingsverslag

      Ons oupas en oumas is op plase of op die platteland gebore. Baie van ons pa’s en ma’s ook; en soggens, só vertel hulle graag, het hulle kaalvoet deur die ryp skool toe gestap.

      Ons sterte is as jong bobbejaantjies afgekap en ons is elke Woensdagmiddag kinderkrans toe gestuur. Iewers het ons ook nog foto’tjies wat geneem is die dag toe ons in die ou klipkerk aangeneem en voorgestel is: Daar staan ons saam met Dominee in ons Veka-pakke en ons crimplene-rokkies, met ons Edworks-skoene aan, witter as sneeu en sonder hare op ons hande.

      Ons het gedoen wat van ons verwag is, want anders is ons getugtig deur diegene wat ons liefhet. Ons was die jong boompies wat reg gebuig is, die jongelinge wie se pad suiwer gehou moes word.

      Ons moes ouer mense “oom” en “tannie” noem, en kinders word gesien en nie gehoor nie; toe-toe, wat sit julle hier en tande tel, gaan speel!

      Elke Sondag ná middagete moes ons in ons kamers rus, tjoepstil, want pa en ma het gesê hulle gaan slaap. Jy swem ook nie op ’n Sondag nie. Dis sonde.

      Jy kou nie kougom nie, jy kan ’n knoop in jou derms kry. Pampoen laat jou hare krul; lê jy en eet, gaan jy horings kry. Sit jy op ’n tafel, kan jy vergeet om ’n man te kry. Speel jy met jouself, sal daar hare op jou hande groei. Lees jy Ruiter in Swart-boekies, sal jy blind word.

      Kom Nelson Mandela uit die tronk, brand Suid-Afrika en ons wittes word tot in die see gejaag.

      Racheltjie de Beer het haar lewe vir haar broertjie opgeoffer, Jan van Riebeeck het Suid-Afrika vir ’n spieël by Harry die Strandloper geruil, en as jy ’n Queen-plaat agteruit speel, hoor jy satanistiese boodskappe.

      Die lewe is eenvoudig: Daar is Natte en Sappe. Daar is dié wat in huise woon en dié wat in bediendekamers woon. Daar is dié wat met Valiants ry en dié wat met Fords of Chevs ry; en as ’n stroom jou die diepsee by Margate intrek, sal die John Rolfe-helikopter jou kom red.

      God is ’n nukkerige ou man met ’n Kinderbybel-baard wat op ’n troon in die Hemel sit en alles weet wat jy dink en doen. Apartheid is sy wil. Ons moet bevrees wees vir Hom, want sy straf is swaar. Eva het Adam in die Paradys verlei, en moenie saam met ’n heiden in dieselfde juk trek nie.

      Die man is die hoof van die huis, hy mag nie huil nie. Die vrou dien die man in die kombuis, sy huil en kraam en behoort aan die VLU en vat klere op appro by Foschini.

      Ons moet bang wees vir swart mense en kommuniste, Russe, Chinese en Kubane en Rooms-Katolieke, Moslems, Jehovasgetuies, Jode, Engelse, ducktails, Wimpy Bars met ANC-kleefmyne in, hippies, filantrope, sterrewiggelaars, liberaliste, Sestigers, Vrymesselaars, homoseksuele, en vir Helen Suzman.

      Só was onse maniere.

      Ons het aan kadetkompetisies, fakkellope en die Rapportryers se debatskompetisie deelgeneem. Ons was Patrysspeurders – die oë en ore van die polisie – en Drawwers en Penkoppe en Verkenners in die Voortrekkerbeweging.

      Ons ken die Voortrekkers se Erekode uit ons kop uit:

      1. ’n Voortrekker se woord is sy eer.

      2. ’n Voortrekker is rein in gedagte, woord en daad.

      3. ’n Voortrekker is gehoorsaam en eerbiedig.

      4. ’n Voortrekker is sober en spaarsaam.

      5. ’n Voortrekker hou sy taal in ere.

      6. ’n Voortrekker is hulpvaardig.

      7. ’n Voortrekker is vriendelik.

      8. ’n Voortrekker is hoflik.

      9. ’n Voortrekker is opgeruimd.

      10. ’n Voortrekker is ’n liefhebber van ons diere, ons plante en ons grond.

      Ons het by deure ingestap en op hortjiesbanke gesit waarop staan: Slegs Blankes; en die tweede wat hiermee gelykstaan: Ons het vir die Nasionale Party gestem.

      Swart mense het ons as “kleinbaas” of “baas” of “my kroon” of “kleinnonnie” of “nonnie” of “miesies” aangespreek.

      Die Skoolsuster het Die Liniaaltoets op ons gedoen, en as ons in Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins wou lees van Henry van Eeden se bedreigde onskuld, sou ons dit skelm moes doen, met ’n toorts onder ’n kombers diep in die nag.

      Ons het getuigskrifte van ons skoolhoofde ontvang: So-en-so het ’n mooi, bestendige geaardheid en hy/sy sal ’n aanwins vir enige maatskappy wees. Sy/haar vordering word met belangstelling dopgehou.

Скачать книгу