Op die toneel. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Op die toneel - Dana Snyman страница 6

Op die toneel - Dana Snyman

Скачать книгу

baie grense tot in Angola. Ons was die dag by Mavinga toe daar bloed op die sand was en korporaal Fanie Venter oor die radio geroep het: “Romeo Charlie! Romeo Charlie, kom in! Fok!”

      Ons het traanloos teruggekom van die Grens af en mooi en bestendig ons Pro Patria-medaljes in laaie weggebêre. Ons het ons nagmerries agter toe kamerdeure gekry en Saterdae ons boshoede en infanterie-T-hemde gedra wanneer ons in ons voorstedelike tuine gewerk het.

      Toe word ons gevra: “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat gerig is op ’n nuwe Grondwet deur onderhandeling?” En toe antwoord die meeste van ons ja.

      En toe het dit die God van lewe en dood behaag om van ons weg te neem ons vroeëre sekerhede op die 27ste dag van April, 1994. Die Here het gegee, die Here het geneem – geloofd sy die naam van die Here.

      Die Mirages en Impalas wat oor die Uniegebou gevlieg het, was nie meer ons s’n nie. Ook nie die damme en die teerpaaie en die hospitale en die biblioteke en die museums nie.

      En voor die Waarheidskommissie het oupas en oumas en ma’s en pa’s gehuil en ons het geweet daardie trane is ook ons skuld, maar die woorde stol in ons monde want ons is nooit geleer hoe om vergiffenis te vra nie.

      Ons is die vaders en moeders wie se sondes die tweede en die derde geslag sal besoek.

      Ons ou woorde het hul toorkrag verloor, en nuwes is daar nog nie.

      Ons sit in restaurante en kroeë en verlang terug na dit wat was: Treine wat diep in die nag op De Aar-stasie shunt, en Ellis de Luxe-koolstowe, en dankofferkoevertjies in die kerk, en stofjasse, en Wieliewalie Donderdagmiddae om vyfuur.

      Ons wil weer hoor hoe sê Esmé Euvrard en Jan Cronjé oor Springbokradio: “So-o-o maak mens.”

      Ons wil weer ’n tennisbal die laatmiddaglug bokant ’n grasperk die lug in sien vlieg, terwyl ’n kind roep: “Eggie, eggie, nommer 4!”

      Ons luister na die Briels en Gé Korsten en Leonora Veenemans en skink vir ons nog ’n whisky, en weet môreoggend sal die goeie ou dae weer verby wees.

      ’n Snaar het gebreek tussen ons en onsself.

      Ons emigreer na Kanada en na Australië en skryf daarvandaan briewe aan Suid-Afrikaanse koerante, want die drome van die dooies agtervolg jou altyd.

      Ons emigreer na die Mooikloof Estate in die ooste van Pretoria.

      Ons sê vir mekaar ons het nog altyd geweet apartheid was verkeerd en dit sou nie werk nie.

      Hoekom is alle swart mense nie soos Nelson Mandela nie? wonder ons.

      Kan ons die Kerk nog vertrou? wonder ons ook. Is dit nie die Kerk wat gesê het apartheid is God se wil nie? En, buitendien, daardie doktor in teologie van Unisa meen Jesus is nie regtig gekruisig en daar is nie ’n Hel nie. En die fossiele in die Iziko-museum wys tog duidelik daar kon nie werklik ’n Adam en Eva gewees het nie.

      Hef op die hande en roep Halleluja! Kom ons gaan eerder Loftus Versfeld toe en gaan luister na daardie prediker met ’n mond vol moeë, mishandelde woorde.

      Ons het misplaaste skuld, sê party. Ons moet ophou kweel oor die verlede, sê ander.

      Ons word kwaad, ons word briesend. Ons het die paaie en die damme gebou, sê ons. Ons het nooit gestaak en asblikke in die strate omgekeer nie. Ons het Evkom en Sasol begin, nou karring hulle nog met Afrikaans ook, en dis al wat ons het.

      Ons sal lewe, ons sal voor ons huise se hekke sterwe van motorkapers se koeëls, ons vir jou Suid-Afrika.

      Ons gaan nie langer verskoning vir apartheid vra nie, sê ons ook. Apartheid kan nie die skuld vir alles kry nie. Ons moet ophou om so te wroeg. Kom ons gaan eerder ’n naweek Sabie toe saam met RSG se 4x4-klub. Kom ons gaan kyk eerder na die All Blacks op Loftus. Kom ons gaan koop Warren Buffett se nuwe boek, want het jy gehoor, ’n mens kan nou Buffett se Berkshire Hathaway-aandele ook in Suid-Afrika koop.

      Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen en oor die rege-ring kla, en op die sewende dag moet jy krieket kyk en in die Tygervallei Mall rondstap. En moenie ’n ouer vrou meer “tannie” noem nie, dit laat ’n vrou oud voel, en niemand, mans of vrouens, is meer bereid om oud te wees nie.

      Ons is wie ons is, maar wie dít is, weet ons nie altyd nie.

      Is ons die Kinders van Verwoerd of die Boetmangenerasie? Is ons Afrikaners of Afrikaanses of Boere of sommer net Suid-Afrikaners?

      Is ons misplaaste Europeërs? Of afgedwaalde Afrikane?

      Ons wag vir die wederopstanding van die ou stories wat ruimer en vryer geword het om bakens te wees op ons trek die onbekende in.

      Ons wil saam met Henry van Eeden in ’n groot saal wag, bevrees, maar met geloof, wil ons wag. Ons wil ons arms lig en in volkome vertroue wag op die beeld van waarheid in gelid van die liefde.

      Die liniaaltoets

      Ons sit in Ore se klas, ek en Ratel en Boenas, Dafel, Buys, Kuiken, en Canned Fruit met sy bril. Ons is die enigste seuns in 6B. Ore staan buite op die stoep in die sonnetjie en rook, want ons gaan nie vandag boekhou hê nie. Die Skoolsuster gaan ons ondersoek.

      “Ons is in die bollie, boys,” sê Ratel en kyk met sy donker ogies na ons. “Weet julle wat doen sy met jou?”

      “Wat?” vra Kuiken. “Wat?”

      “Sy druk ’n liniaal hier voor tussen jou bene onder jou njellas vas.”

      “Goedige bliksem!” roep Boenas. “En dan?”

      “Dan moet jy hoes, pappie.”

      “En dan?” vra Kuiken.

      “As jou njellas nie oplig nie, het jy trouble.”

      Niemand het vooraf vir ons gesê Die Skoolsuster kom ons ondersoek nie: Kopbeen, die hoof, het net vanoggend in die vierkant afgekondig: “Mense, Die Skoolsuster is vandag hier om die standerdsesse te ondersoek. Gee asseblief jul same-werking. Dankie.”

      Op die stoep op pad na Ore se klas het die groter seuns na ons beduie, en gelag.

      Ore se klas is naby ou Kopbeen se kantoor, oorkant die vlagpaal waar Piet Skyfies, die hoofseun, elke oggend die vlag hys, nadat ons die skoollied klaar gesing het. Die meisies is eerste by Die Skoolsuster. Kopbeen het ’n tydelike spreekkamer vir haar in die boekstoor naby die kamerverlaat laat inrig.

      “Sy kan ook sien as jy Bob Martins drink,” sê Ratel.

      “Genuine?” vra ons almal byna gelyk.

      “Genuine.”

      Almal van ons drink Bob Martin-hondepille, want hulle sê dit laat jou hare mooi blink. Maar Bob Martins is glo sleg vir jou niere.

      Ratel wip uit sy bank uit. “’n Man is nou lus vir ’n skyf,” sê hy, “maar netnou ruik sy my.”

      Ratel is al een van ons wat rook. Ratel weet goed wat ons nie weet nie. Party kinders sê hy is ’n probleemkind. Op sy boeksak het hy die name van twee popgroepe, AC/DC en Deep Purple,

Скачать книгу