Die Tyd van die kombi's. Koos Kombuis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Tyd van die kombi's - Koos Kombuis страница 5

Die Tyd van die kombi's - Koos Kombuis

Скачать книгу

elektriese krag, voel ek nietemin asof ek afgesny is van die buitewêreld.

      Die tweede skok – dit was nie so ’n groot skok soos die eerste een nie, maar dit was nogtans ’n skok – was toe ek verder deur die koerant blaai en sien dat my ou pel en voormalige bestuurder, Dirk Uys – voorheen bekend as Dagga-Dirk Uys – ’n artikel geskryf het.

      Dirk skryf of praat gewoonlik slegs so een maal elke drie jaar in die media, en al waaroor hy dan skryf of praat, is dinge wat meer as twintig jaar gelede gebeur het waaroor hy nou nog kwaad is.

      In sy nuutste artikel het hy oudergewoonte woedend te velde getrek teen die Afrikaanse pers en media van die 1980’s.

      Dirk is ’n briljante skrywer. Hy is snaakser en eindeloos meer subtiel as Max du Preez. Hy het ook ’n baie groter baard as Max du Preez.

      Alles in die artikel was waar. Ek kon alles wat Dirk sê, beaam. Daar is net twee probleme met die artikel: eerstens, dit is ’n kwarteeu te laat gepubliseer. Tweedens, daar word nêrens in die artikel melding gemaak van die feit dat Jacob Zuma onlangs gedreig het om die vrye pers in die Nuwe Suid-Afrika te muilband nie.

      Ek wonder of Dirk al gehoor het van laas nag se kragonderbreking.

      Ek wonder of hy besef laas nag se kragonderbreking is simbolies (en ook simptomaties) van iets skrikwekkends wat vandag besig is om met die hele land te gebeur.

      Ek wonder of hy besef dit is nog nie die einde van die revolusie nie.

      Ons het wel gedink dis die einde, daai aand toe die kar ons tref, daai aand toe ons Kombi ’n halwe straatblok ver gerol het. Daardie aand was dit asof ons revolusie besig was om te kantel – ek het dit aangevoel die oomblik toe die Kombi omkantel en begin gly – ons was besig om te kantel en te val, om spoed te verloor. Dinge sou nooit weer dieselfde wees nie. Of sou dit?

      Anyway, dis tyd dat ek die rêrige storie begin skryf. Waar sal ek begin? Sal ek my lyf Thabo Mbeki hou en begin met iets uit Dickens? Sou iets wat soos Dickens klink die nodige gravitas verleen aan hierdie chaotiese klomp gebeure?

      vanaf 1969 tot nou

      Dit was die slegste van tye, dit was die beste van tye, dit was ’n baie ontstellende tyd, dit was erger as die hemel en beter as die hel, dit was ’n vuurwarm tyd, dit was ’n onstuimige tyd, dit was ’n tyd van vreeslike flaters en aaklige idealisme, dit was ’n tyd van verskriklike babalaas en ongelooflike dekadensie, dit was ’n tyd van dood en lewe, saamwerk en uiteenspat, woede en vreugde, dit was ’n tyd van papbroeke en helde en dwergies en beswymelde tienermeisies en korrupte platemaatskappye, en bedwelmde apatie en morsige orgasmes, en amper al hierdie goed het gebeur agter in onpadwaardige Kombi’s in die middel van die highway, teen ’n gemiddelde snelheid van ongeveer honderd-en-veertig kilometer per uur.

      In die begin – voor die koms van die Kombi’s – het ek net woorde gehad. ’n Hele klomp woorde, en ’n paar wysies, maar nie vreeslik baie wysies nie, want my kitaar was gewoonlik uit tune uit, en ek het net drie of vier akkoorde geken.

      En g’n wonder my kitaar was so uit tune uit nie! Ek het dit in standerd sewe gekoop by my pel Nabba, vir presies vier rand. Vier RAND, vir ’n hele kitaar! Ja, ’n skamele sestien biljoen Zimbabwe-dollars volgens gister se koerse! Maar nou ja, dit was die jaar 1969, ek was skaars vyftien jaar oud, en vier rand het baie geklink; dit was meer as wat ek in ’n week verdien het met blare hark en papiere optel in die tuin.

      In 1969 was daar nog nie amptelik iets soos ’n algemene Afrikaneropstand teen nasionalisme nie.

      Vir die meeste van ons was dit ’n tyd van volslae onskuld.

      Maar dalk was die onskuld nie volslae onskuldig nie, want party van ons het toe al begin agterkom iets is verkeerd.

      In 1969 het nog net ’n handjievol Afrikaanse skrywers en digters die regime bevraagteken. Die meeste van hierdie skrywers en digters was in Parys. (Nie Parys, Vrystaat, nie, maar Parys, Frankryk.) Die vlammetjies van protes wat aangesteek is daar ver deur hierdie ontevrede ballinge sou egter geleidelik lei na ’n groter vuur van revolusie.

      So: wanneer het wit protes werklik begin? Vir my was dit meer as vyf-en-twintig jaar gelede, vanaf my eie private ballingskap, my feitlik onverklaarbare keuse, toe ek vanuit die sagte arms van die literêre establishment gedonner het tot in daardie klein armoedige kamertjie in die hoerhuis in Langstraat saam met Jillian Botha.

      En tog, al was ek toe nog nie van al die dinge bewus nie – ek was nooit ’n Sestiger nie, en ek was nooit betrokke by Musiek en Liriek nie – wek die jaar 1969 ’n spesiale eggo op. Hoewel ek self nog nie in 1969 so aktief in die kultuur was nie, het ek toe al baie dinge sien gebeur, en daarom is 1969 ’n belangrike jaar vir my ook, ’n seminale jaar.

      Eerstens was 1969 die jaar van die Woodstock-fees in Amerika. Die meeste Suid-Afrikaners het nie hiervan geweet nie. Vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse musiekliefhebber was die belangrikste mylpaal van 1969 nie Woodstock nie, maar die feit dat ’n liedjie met die naam “Lily the Pink” op ons Top Twintig was. Daar was egter wel ’n klompie van ons wat ons ore op die grond gehad het, wat geweet het van Woodstock en wat dit beteken.

      Die Woodstock-fees sou op die ou end vir die tieners van die wêreld beteken wat die Franse Revolusie vir die werkersklasse van die wêreld beteken het. Dit was ’n wekroep na selfbewusssyn, die begin van ’n patroon van jeugdige aggressie, dit was iets nuuts om na te strewe, iets om na te boots, dit was iets groots en heiligs en ontsaglik edel; dit was die opening-salvo van die oorlog teen middelmatige middelklaswaardes wat vandag nog voortduur. Dit was die taal wat ons wou praat.

      Die Afrikaanse skrywers en digters in Parys, die ontevrede uitgewekenes, het op hul beurt gesorg dat 1969 die seminale begin was van groot literêre gebeure in Afrikaans. Dit was midde-in die betekenisvolle periode in die skrywer André P. Brink se loopbaan tussen die publikasie van sy laaste soetsappige boek – Miskien nooit – en die skryf van die eerste van ’n reeks sterk, invloedryke anti-apartheidromans soos Kennis van die aand. Mens kan maar net gis oor wat presies hierdie kopskuif in Brink veroorsaak het, en waar sy gedagtes in die jaar 1969 rondgedwaal het.

      Dit was ook in 1969 dat Breyten Breytenbach vir die eerste keer ware literêre volwassenheid sou bereik as digter met sy bundel Kouevuur; ’n baanbrekerswerk, ’n mylpaal vir Afrikaanse poësie.

      Gepraat van poësie, daar was natuurlik ook Antjie Krog. Hierdie skooldogter-digteres sou in 1970 haar opspraakwekkende, eksplisiete debuutbundel, Dogter van Jefta, publiseer. Sonder twyfel was 1969 – toe sy sewentien was – die jaar waarin sy haar eie seksuele ontwaking ervaar het.

      Soos die toeval dit wou hê, was 1969 die jaar waarin David Kramer gematrikuleer het by Worcester se Hoër Seunskool. Hy sou uiteindelik sy eie Kombi-revolusie begin, en, jare na Voëlvry, brûe bou op die platteland om wit en bruin musikante nader aan mekaar te bring. (Ek kan nie help om te wonder wat sou gebeur het as hy destyds, in 1969, vir Antjie ontmoet het nie.)

      Op die keper beskou was 1969 ’n jaar van klein ontkiemings, versteekte moontlikhede, potensiaal. Hoewel ek self nog nie aktief was nie, het ek dit aangevoel daar waar ek in my slaapkamertjie in Cluverweg, Stellenbosch, my vierrand-kitaar sit en speel het – die stadige ontwaking van ’n nuwe wêreldkultuur, die heerlike belofte van ’n lewe anderkant apartheid en Calvinisme.

      Min mense het dit besef. Ons protes het nog lank nie die hoofopskrifte gehaal nie. Maar ek sal 1969 altyd onthou as Die Jaar van die Kitaar.

scan0001.jpg

      Dit

Скачать книгу