Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade - Chris Karsten страница 2

Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade - Chris Karsten

Скачать книгу

’n laaste uitspanplek soek.“

      In Augustus 1997, by sy geliefde staanplek voor die groot albasterrotse op Stompneusbaai, braai hy, nou 61, snoek in ’n drom. Maar Pieter is beswaard. “Die onsekerheid vreet ons op. Ons het gedroom dat hierdie plek ons laaste uitspanplek sou word. Maar daar is mense wat wil hê ek en Jenny moet hier skoert.”

      Hy probeer al jare amptelik die stukkie grond huur waarop die Spookhuis nou weer staan. In April 1987 is die staanplek vir “verblyfdoeleindes” aan hom verhuur “vir ’n periode van nege jaar en elf maande met ’n opsie om die huur vir ’n verdere tydperk te verleng”.

      “Ons wil net in vrede en liefde aanbly,” sê Pieter. “Ons onmiddellike droom is om net weer ’n toilet en ’n badkamer met lopende water te hê.”

      Toe kom die skokke. Bouplanne kan nie goedgekeur word nie, want dit is ’n staatskusreserwe waar hy wil bou, sê die oorgangsraad vir Pieter. En ’n petisie teen “plakkery” word opgestel, want Pieter het intussen ’n tydelike sinkstruktuur oor die lekkende ou woonwa gebou om die winterreën uit te weer, met ’n tydelike houthuisie op ’n bestaande betonblad neffens.

      Hy sê in ’n brief aan die Weskus-oorgangsraad erf 17 is natuurlikerwys deel van ’n bestaande woongebied en histories ’n woonerf. In die laaste 35 jaar is dit vir langer as 20 jaar bewoon en niemand het gekla nie. In die onmiddellike omgewing is verskeie geboue op die kusreserwe, selfs nog nader aan die water. Party daarvan is selfs deur die munisipaliteit opgerig. Hy kla ook in die brief dat hy vier maande laas aan die skryf kon kom met sy eie skrywery. “Die kop is maar die hele tyd net met die onsekerhede van ons verblyf besig, aan die wonder waar het ek ’n fout begaan dat ek verdien om so uitgesonder te word, dat my lewe so ontwrig moet word?”

      Terwyl die briewewisseling en rompslomp voortduur, skryf Pieter op 20 Augustus 1997 ’n brief aan Rapport: “Die oorweldigende reaksie van bure en vriende landwyd oor my en Jenny se probleme met ons verblyf, vervul ons met groot dankbaarheid, ook teenoor ons Skepper. ’n Wonderlike genade is dit om onder sulke omstandighede te besef daar is iemand wat vir jou omgee. ’n Onbekende vriend daar ver in die noorde, in Mpumalanga se kontrei, het selfs aangebied om ’n trustfonds te stig om ons finansieel te ondersteun. Aan almal wat hand uitgereik het om ons te help, ’n dankie diep uit die hart. Geld is egter nie die behoefte nie. Wat nodig is, is die gebede van medegelowiges dat die Here ons duidelik lei om sy wil te verstaan. Ons wil graag hierdie holte vir ons voet hê, waar die doodsengel van malaria nie voortdurend oor ons skouers loer nie. – Pieter Pieterse, Stompneusbaai.”

      In die houthuis met sy sandvloer by Boventrekstraat 15 word Pieter tydig en ontydig deur besoekers oorval. Hy kry min tyd vir skryf, want hy kan niemand die deur wys nie. En hy stig ’n natuurskool vir kinders van die plaaslike gemeenskappe van die omgewing, soos van St. Helenabaai se Agterbaai. Hy leer hulle van die natuur en gee die kinders voëlname: Muisvoël, Kwêvoël … Hy is Oupa Uil, hul leermeester, met die bril teen die voorkop.

      En hy is betrokke by dominee Fanie se NG gemeente van Agterbaai, nog voor daar ’n kerkgebou was en daar nog in die skoolsaal kerk gehou is. Pieter het later die nuwe kerk help bou en verf, en Sondae ry hy vir Susan Kouter-hulle en Klara Garies-hulle van Stompbaai met sy 4x4 aan kerk toe.

      Terug Bosveld toe

      Ná die draai van die millennium soek Pieter afsondering vir die boeke wat nog uit sy kop moet kom. Tussen die Weskus en die Bosveld kan hy nie kies nie, maar nou breek sy Bosveld-tyd weer aan. Met ’n swaar hart pak Pieter en Jenny weer eens op, haak die Spookhuis aan en vertrek in 2001 op hul laaste tog, terug Bosveld toe, die wêreld waar Pieter gebore en grootgeword het, en wat hom so na aan die hart lê, naas die Weskus.

      Saam met die trek kom Oom Koos se Kas (die koskas wat soveel swerftogte meegemaak het), die kiaattafeltjie uit die Caprivi-tyd, en ’n reddingsboei uit die Weskus, want selfs in die Bosveld kan hy nie sonder sy seeherinneringe leef nie.

      Hulle koop ’n huis in Butterflystraat op Marlothpark, Mpumalanga, sy en die Ingelsman se laaste staanplek. Marlothpark is ’n bosryke dorpie wat aan die suide van die Krugerwildtuin net die Krokodilrivier as grens het, sonder heinings.

      Dit is ’n goeie plek vir Pieter, die natuurmens, om te kan skryf. Bo is die sterre oop, en saans kan jy die leeus hoor brul. Bokke is nie ongehoord in dié strate nie. En die huis het ’n swembad waar Pieter buite in die tuin by ’n tafeltjie met sy laptoppie kan sit en skryf, kaalvoet en sonder hemp, die getroue Spookhuis langsaan ingetrek.

      Op die reddingsboei verf hy die naam van hul huis: Genade.

      Pieter het baie wat hom besig hou, sy volle aandag vereis. In Maart 2001 neem hy saam met Zack du Plessis oor as aanbieder van die TV-program Maak ’n las ná die dood van Tolla van der Merwe. En hy skryf aan ’n nuwe boek. Hy en Jenny raak ook betrokke by Komatipoort se NG gemeente, help met die versorging van vigspasiënte en Pieter doen selfs “sendingwerk” onder plaaslike mense, vlot in hul taal. Hy is bekend in die woonbuurt Naas buite Komatipoort.

       Op die reddingsboei verf hy die naam van hul huis: Genade.

      In Oktober en November 2001 help Kenneth Mhlongo hom met ligte bouery aan die huis op Marlothpark, en kap ook die onkruid in die tuin uit.

      Kenneth is 27 jaar oud en toe Pieter en Jenny in Mosambiek gereis het (waaroor hy in 1995 die reisverhaal “Mosambiek, hier kom ons!” geskryf het), was hy ’n opgeskote seun in dié land. Pieter maan plek-plek in sy boek oor die ellende in Mosambiek, maar kan nie voorsien dat Kenneth, soos ’n stroom van sy landgenote, ook ’n paar jaar later uit sy geboorteland sou padgee om die grens naby Komatipoort onwettig oor te steek op soek na ’n beter toekoms nie.

      Dat Pieter en Kenneth mekaar op Marlothpark sou teëkom, is deur die noodlot so bestem. Maar Kenneth is dankbaar vir die werk en Pieter is goed vir hom, leen hom selfs sy drafskoene sodat die dorings nie sy voete steek wanneer hy die onkruid in die erf uitkap nie. (Hy sê werkers kan hom Pieter noem, of meneer of oom of selfs sir, maar net nooit baas of oubaas nie.)

      In Desember 2001 verdwyn Kenneth. Pieter is nie bewus daarvan dat die polisie Kenneth as onwettige immigrant in hegtenis geneem het nie, maar in Maart 2002, tussen die polisieselle en die hof, ontsnap Kenneth. Hy wil nie teruggaan Mosambiek toe nie, en gaan plak in Naas.

      Hier ken hy vir Phillemon Malinga en Ndukwana Sesh Makamo, albei 21 en ook albei uit Mosambiek. En hy ontmoet die ouer Frans Shabangu (31).

      In Februarie 2002 kry Pieter en Jenny op Marlothpark besoek van sy uitgewer-suster, Marietjie. Hy het ’n manuskrip gereed vir haar redigering. Hy noem dit Manaka: Plek van die horings, ’n verhaal wat hom in Barotseland in Zambië afspeel waar hy en Jenny destyds erelede van die Mafwe-stam geword het.

      Maar hy werk reeds weer geesdriftig aan ’n nuwe een, nog nie baie ver gevorder nie, maar die titel het hy klaar: Takgalani: Plek van blydskap. Pieter vertel vir Marietjie van sy hoofkarakters, Bina (“die een wat dans”) en Benye. Daar is ook ’n halsstarrige donkie in die storie.

      Sy doen voorstelle oor hoe sy meen die boek moet eindig, want sy sien dit, uit sy vertellings, as ’n “verhaal van bemagtiging”, van mense wat opnuut ’n lewe moes gaan begin, van mense wat hulle uit die boswêreld aan die Weskus gaan hervestig het.

      In Maart kry Jenny die goeie nuus dat haar suster uit Australië in Somerset-Wes by haar pa kom kuier, én haar broer-hulle het ’n nuwe baba. Pieter sê dit is reg dat sy gaan, maar hy kan nie saamgaan nie, nie met die boek wat nou so broei nie. Vroeg in Maart vat Jenny die lang pad Kaap toe.

      Sy sou aanvanklik op Woensdag

Скачать книгу