Die Einde van verslawing. Dr Volker Hitzeroth

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth

Скачать книгу

en statistiese handleiding, vierde uitgawe met hersiene teks (DSM IV TR), het spesifieke stelle kriteria vir alkoholmisbruik (voldoening aan een van vier kriteria binne die laaste maand) en afhanklikheid (voldoening aan drie uit sewe kriteria oor die laaste jaar). Ander diagnostiese kriteria bestaan egter ook wat gebruik kan word vir hierdie soort studies. Dit sou spesifiek van belang wees as meer as een studie met mekaar vergelyk en ontleed word, omdat die metodologieë kan verskil en die kriteria na verskillende stelsels van klassifikasie kan verwys.

      Twee belangrike konsepte wat verstaan moet word in ons bepaling van die gebruik van dwelms en alkohol binne ’n bepaalde bevolking of bevolkingsnit hou verband met die konsepte voorkoms en omvang.

      1 Voorkoms verwys na die totale aantal gevalle van gebruikers, misbruikers of afhanklikes van dwelms en alkohol op ’n bepaalde tydstip. Voorkoms is dus gewoonlik ’n dwarssnittelling van die teenwoordigheid van ’n spesifieke toedrag van sake. Daar is verskillende soorte voorkomste, insluitende puntvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle op ’n bepaalde tydstip; leeftydvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle binne ’n leeftyd geneem tot op die tydstip waarop die ondersoek gedoen is; en bestekvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle binne ’n voorafbepaalde en duidelik afgebakende tydsbestek.

      2 Omvang verwys na die aantal nuut aangemelde gevalle binne ’n spesifieke en voorafbepaalde tydsbestek. Dit is dus ’n aanduider van nuut aangemelde gevalle binne ’n spesifieke tydsbestek, wat gewoonlik gedefinieer word as ’n bestek van een jaar, maar ook langer of korter kan wees, byvoorbeeld een maand of tien jaar.

      Hoewel regerings, groot organisasies, nie-regeringsorganisasies en selfs universiteitsdepartemente inligting oor dwelm- en alkoholgebruik wil bekom, is toegang tot inligting duur, omslagtig en tydrowend. In Suid-Afrika word die situasie verder gekompliseer omdat ons ’n ontwikkelende nasie is met beperkte finansiering, tegnologie en menslike hulpbronne.

      Die Verenigde State van Amerika

      Die Verenigde State het toegang tot groot epidemiologiese studies, wat die gebruik van dwelms en alkohol binne hul bevolking ondersoek het. In die jare tagtig en negentig en vroeg in hierdie eeu is verskeie studies deur verskillende organisasies begin. Hierdie ondersoeke het duisende mense van oor die hele Amerika as steekproef gebruik om die leeftydvoorkoms van die gebruik, misbruik en afhanklikheid van dwelms en alkohol te bepaal.

      Afhangende van watter ondersoek geraadpleeg word, is die leeftydvoorkoms van alkoholmisbruik tussen 4,9% en 17,8%, terwyl die leeftydvoorkoms van alkohol-afhanklikheid wissel tussen 5,4% en 14,1%. Hierdie gemiddelde syfers weerspieël nie die beduidend hoër vlakke van alkoholmisbruik en -afhanklikheid binne die manlike bevolking nie, wat relatief baie laer is vir die vroulike bevolking. Die leeftydvoorkomsvlak vir die misbruik en afhanklikheid van cannabis is ongeveer 11,8%, terwyl die leeftydvoorkoms vir die misbruik en afhanklikheid van ander dwelms relatief laag is (die meeste ondersoeke dui minder as 3,9% aan, terwyl een studie 7,9% aangedui het). Die leeftydvoorkoms vir afhanklikheid van nikotien wissel tussen 13% en 24%.

      Suid-Afrika

      Terwyl Suid-Afrika nie toegang tot sulke groot studies het as wat in Amerika gedoen is nie, het ons tog ’n paar opnames wat plaaslik die situasie met betrekking tot dwelms probeer bepaal het. Dié ondersoeke sluit die werk in van navorsers met uiteenlopende affiliasies, wat in uiteenlopende omgewings en met verskillende metodologieë gewerk het. ’n Omvattende oorsig is derhalwe moeilik. Die studies sluit ’n paar opnames in wat by skole en onder huishoudings gedoen is, sowel as onder kommersiële sekswerkers en rondom MIV-risikogedrag, dwelminspuitpatrone en homoseksuele mans.

      Alkohol in Suid-Afrika

      Vergeleke met ander lande wêreldwyd het Suid-Afrika een van die gevaarlikste en skadelikste gebruikspatrone van alkohol. Alkohol word hier met ’n hoë las van mortaliteit en morbiditeit vereenselwig. Die lewensalkoholgebruik is omtrent 40%, terwyl die teenswoordige alkoholgebruik binne die laaste maand ongeveer 30% is. Ongeveer 25% tot 33% van alle alkoholgebruikers raak meestal in naweke by gevaarlike drinkery betrokke. Gevaarlike en skadelike alkoholgebruik deur adolessente en jong volwassenes strek van 2% tot 17%, en by volwassenes van 5% tot 17%. Sulke gevaarlike en skadelike alkoholgebruik gebeur onder mans én vroue in plattelandse sowel as stedelike gebiede in die meeste provinsies en dit sluit alle rassegroepe in.

      In die ondersoek na alkoholgebruik in verskillende bevolkingsgroepe is in ’n paar peilings onder jong adolessente bevind die huidige vlak van alkoholgebruik is 21% tot 62%, met alkoholvergryp wat op 14% tot 40% van die bevolking staan. Daar is bevind dat gevaarlike en skadelike drinkery op 19% staan. Peilings onder Suid-Afrikaanse studente het gewys die alkoholgebruiksvlak strek van 22% tot 80%, met alkoholvergryp wat in die laaste maand strek van 6% tot 43%. Gevaarlike en skadelike drinkery strek van 17% tot 58%.

      ’n Studie onder mynwerkers het aangetoon dat 9,3% van hulle daagliks alkohol gebruik. Van diegene is 15,3% afhanklik van alkohol. ’n Studie wat onder plaaswerkers in die Wes-Kaap gedoen is, het aangetoon 87% van hulle is potensieel afhanklik van alkohol. ’n Peiling wat in ’n weermagkliniek in Kaapstad onderneem is, het onthul dat 13,3% van die respondente hulle oorgee aan gevaarlike en skadelike drinkery. ’n Peiling wat in ’n landelike buitepasiëntekliniek vir primêre sorg onderneem is, het aangetoon 19,2% van die kliënte raak by riskante en gevaarlike drinkery betrokke, terwyl ’n studie van die rekords van ’n psigiatriese kliniek bevind het alkoholmisbruik is 6,3% onder vroue en 15,1% onder mans.

      Dagga in Suid-Afrika

      ’n Paar ondersoeke is reeds onderneem om die gebruiksvlak van dagga in Suid-Afrika te bepaal. Die adolessente leeftydgebruik van dagga wissel tussen 7% en 20%, terwyl die teenswoordige gebruik van dagga in dié bevolkingsnit tussen 2% en 9% wissel. Dit lyk of adolessente in hul vroeë tienerjare dagga begin gebruik. Daar is bevind dat onlangse en teenswoordige daggagebruik onder volwassenes 2% is, terwyl hierdie speling in ’n toegespitste ondersoek onder opvoeders selfs laer was (ongeveer 0,3%). ’n Peiling onder mynwerkers dui op ’n selfaanmeldingsvlak van 7,2% vir leeftyddaggagebruik en ’n teenswoordige daggagebruik van 2,3%, terwyl in urinetoetse bevind is die teenswoordige daggagebruik is in werklikheid 9,1%. ’n Verdere peiling onder gearresteerdes wat in drie groot stede in Suid-Afrika ondervra en getoets is, het onthul dat slegs 54% van die respondente wat positief vir dagga getoets is, vermeld het dat hulle in die laaste maand die dwelm gebruik het.

      Heroïen in Suid-Afrika

      Verskeie peilings is in Suid-Afrika op huishoudelike, skool- en gemeenskapsvlak gedoen. Die resultate toon ’n respondentetal wat wissel tussen ongeveer 1% en 4% wat vermeld dat hulle minstens een maal in hul lewe heroïen gebruik het. Tussen 1% en 3% het teenswoordige gebruik van heroïen vermeld. In ondersoeke wat by verskillende fuifpartytjies gedoen is, het tussen 4,8% en12% van die respondente ’n heroïengebruik van minstens een maal in hul lewe vermeld.

      In ’n Kaapstadse ondersoek na heroïengebruik en MIV-verwante risiko’s waartydens onderhoude met 239 heroïengebruikers in Kaapstad gevoer is, is ’n groot persentasie van veelvuldige dwelmgebruik aangemeld – met tabak, alkohol, dagga, metamfetamien (tik) en Mandrax as die algemeenste ander middels wat gebruik word. Die algemeenste ouderdom vir die aanvangsgebruik van heroïen was 20 jaar. Die meeste van diegene wat ander dwelms voor heroïen gebruik het, het met dagga en Mandrax begin.

      Uit hierdie snit het 24% van die persone oor die laaste maand heroïen binneaars ingeneem, terwyl 77% van die inspuiters oor die laaste drie dae heroïen ingespuit het, waarvan 80% daagliks. Die algemene aanvangsouderdom vir die inspuit van heroïen was 22 jaar. Die inspuitings is meestal tuis gedoen, in die huise van vriende of die woonplekke van dwelmhandelaars. Van die heroïengebruikers wat binneaarse toediening van heroïen oor die laaste maand vermeld het, het 89% minstens een maal ’n spuitnaald gedeel met óf ’n nabye vriend óf ’n gereelde seksmaat óf ’n toevallige seksmaat. Die

Скачать книгу