Anderkant die scrap. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman страница 4

Anderkant die scrap - Dana Snyman

Скачать книгу

sitkierie.

      Die mans het pakklere gedra en die vroue hoede, en elke jaar is die baie bejaarde tant Breggie Stols, uitgevat in ’n Voortrekkerrok en -kappie, deur ’n verpleegster nader gelei en op ’n riempiestoel heel voor in die saal geïnstalleer. Tant Breggie was as kind in die konsentrasiekamp by Norvalspont en elke jaar moes sy vertel hoe die Engelse soldate glasstukke in die mieliemeel gegooi het.

      Oom Jassie het die Steinway-klavier uit die kerksaal soontoe gebring met sy Chev-bakkie en voor die tyd het ons afgerolde programme ontvang waarop die verloop van die verrigtinge uitgestippel is: Verwelkoming. Vlaghysing. Diens. Rede.

      Daardie jare was daar nie toesprake op Geloftefees nie: ’n Rede is gelewer.

      Op dorpe soos ons s’n was dit dikwels ’n adjunkminister wat die rede kom lewer het. Hy het in ’n swart Mercedes daar aangekom, vergesel van ’n borselkoplyfwag. Mevrou Dokter Nel het ’n angelier aan sy lapel vasgesteek terwyl oom Jassie goed sê soos: “As ons als moet weet wat daai man weet, slaap ons nie snags nie.” Of: “Hy’s ’n baie plat op die aarde mens, die minister.”

      Oom Swart het min of meer almal behalwe die tortelduiwe in die bome verwelkom, dan het oom Badie nader marsjeer in sy Voortrekkeruniform, sy Hou Koers-gordel styf om sy maag gespan, met twee verkenners, ’n seun en ’n meisie, agterna. “Liek-ja. Liek-ja. Halt. Stuit. Een, twee.” Dan het oom Badie beveel: “Maak gereed om die vlag te hys!” Dan het die seun en meisie nader aan die vlagpaal getree en die tou losgemaak, waarna oom Badie gebulder het: “Hys die vlag! Ontplooi die vlag!”

      Daarna het Willempie, wat jare later ’n verhouding met ’n bekende manlike Kaapse modeontwerper sou hê, sy trompet gelig. Dan het ons die vlaglied gesing: “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra: ‘Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika’?”

      Daarna het Oudominee orent gekom en gepreek van die wonderwerk wat daardie dag by Bloedrivier gebeur het:

       43 000 Zoeloes deur voorlaaiers gedood; een Trekker lig deur ’n assegaai gewond. (Die getalle kan verkeerd wees, maar dis hoe ek dit onthou.)

      Daarna was dit ’n bie-sondere voorreg vir oom Swart om die minister aan die woord te stel. Dit het ’n goeie adjunkminister meer as ’n uur geneem om die rede te lewer, en natuurlik is die woord “kommunis” geil gebruik en natuurlik is verwys na die Afrikaner se roeping in Afrika, terwyl die dakplate kraak in die hitte en oom Lieb in vervoering luister en aantekeninge in ’n boekie maak, tant Hester haar koel waai met haar program, ’n geitjie teen die muur uitskarrel, oom Jorrie in sy strandstoel sit en slaap, vae kampherinneringe in tant Breggie se brein roer, oom Seef ’n vlieg doodklap, ’n baba in die derde ry van agter begin huil, die meisies hoopvol na die minister se lyfwag staar en die koffiewater begin kook in die groot, silwer urn in die kombuis.

      Nadat die minister gaan sit en sy natgeswete gesig met ’n sakdoek afgevee het, het tant Sophie, wat eens op ’n tyd kortstondig lid van André Huguenot se toneelgeselskap was, die gelofte voorgedra: “Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring, en dat ons ’n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

      Word daar steeds op 16 Desember Geloftefees by die Vaalbosfees-terrein gehou? Ek wonder. Ek was jare laas daar of by enige ander Geloftefees.

      Wat het van toe tot nou met my gebeur?

      GEESTELIKE WEERBAARHEID

      God het ons, die Afrikaners, met ’n bepaalde doel hier aan die suidpunt van Afrika geplaas. Die Kommuniste wil die wêreld beheer, en Elvis Presley moedig die jeug met sy lang hare en wiegende heupe aan om teen alle gesag in opstand te kom.

      Swart mense aanbid voorvadergeeste en het nie die wiel uitgevind nie.

      Dit is sonde om op Sondae te swem en koerante te koop, want die Bybel sê op ’n Sondag moet jy rus.

      Bram Fischer het bomme geplant en verhoudings met swart vroue gehad, Jan van Riebeeck het Die Beskawing na Afrika gebring en vir Harry die Strandloper ’n spieël gegee; en die Beatles se liedjie “Lucy in the Sky with Diamonds” staan vir LSD.

      Die dag wanneer die Kommuniste oorneem, gaan hulle jou slegs een ding vra: “Glo jy aan die Here?” En as jy sê “ja” gaan hulle jou in ’n donker tronk onder die aarde gooi waar jy vir maande gaan sit en net van brood leef terwyl daar aanhoudend water op jou drup-drup-drup, totdat daardie gedrup-drup-drup jou later mal maak en jy begin skreeu. Dan haal hulle jou uit die tronk, sit ’n stomende bord kos voor jou neer, en vra: “Glo jy steeds aan die Here?”

      As jy sê “ja” gooi hulle jou terug in die tronk. As jy sê “nee” laat hulle jou uitkom, maar dan gaan jy eendag wanneer jy doodgaan, hel toe.

      Om Springbokradio te luister en Chappies te kou, maak jou permissief, en as jy permissief is, is jy ’n maklike prooi vir die Kommuniste, want die Kommuniste gebruik die permissiewe jeug – en die swartes – om hulle vuil werk vir hulle te doen.

      Dit is gevaarlik om na Neil Diamond-plate te luister want as jy sy plate agteruit speel, is daar allerhande verskuilde boodskappe wat jou onderbewuste indring en jou dinge laat doen wat jy nie regtig wil doen nie.

      Die Mosambiekse president Samora Machel se naam het ’n dieper betekenis. Die SA-MO-R-A staan vir Suid-Afrika, Mosambiek, Rhodesië en Angola. Suid-Afrika is die enigste van daardie lande wat nog nie ’n swart president het nie, dit beteken ons is die laaste vesting teen die Kommuniste in Afrika.

      Onder Jan Smuts-lughawe se aanloopbaan word ’n paar eskaders vegvliegtuie gebêre; en as al China se inwoners op dieselfde oomblik in die lug spring en weer op hul voete land, is dit genoeg om die aarde uit sy wentelbaan te ruk. Die Springbok-vleuel, Chris Pope, is ’n Kommunis want hy studeer op Ikeys en neem aan politieke optogte deel. Dis goed om ’n swart taal te leer praat want dan kan jy hoor wat sê hulle agter jou rug van jou, en die Vrymesselaars is anders as die Rapportryers, die Vrymesselaars wil saam met die Kommuniste die wêreld beheer.

      Die Illuminati, weer, is nog magtiger as die Vrymesselaars en die Kommuniste. Hulle – die Illuminati – is twaalf mans wat in Amerika sit en hulle het slegs een doel voor oë: wêreldoorheersing. Prins Philip van Engeland is ’n grootkop in die Illuminati, asook die Rothschilds van Amerika. Generaal Jan Smuts was ook tot met sy dood deel van die Illuminati, daarom is dit goed dat hy die verkiesing in ’48 in Standerton verloor het.

      Sodra die Illuminati in beheer van die wêreld is, sal jy die nommer 666 op jou arm moet laat tatoeëer as jy iets wil koop. En as jy dit doen, verloën jy God en gaan jy hel toe. Of nee, jy gaan nie net hel toe nie, jy gaan vir ewig hel toe.

      Dink aan ’n berg so groot soos Tafelberg, maar dit is van diamant gemaak. Sê nou een keer per jaar kom ’n voëltjie en vryf sy bekkie slegs een keer teen daardie berg. Die tydperk wat dit daardie voëltjie sal neem om die hele berg met sy bekkie weg te slyp, is soos een sekonde van die ewigheid.

      Daarom is dit belangrik om paraat te wees en jou vyand, veral die Kommuniste en die Illuminati, te ken. Jy moet ook onder meer in staat wees om ’n tou op ses verskillende maniere te knoop as jy in tye van nood in die veld wil oorleef: Jy moet die skuifknoop kan maak, die vissersknoop, die voorslagknoop, die kniehalterknoop, die skenkelknoop en die booglynknoop.

      Jy

Скачать книгу