Anderkant die scrap. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman страница 6

Anderkant die scrap - Dana Snyman

Скачать книгу

jy jy is veilig. Dis net die treine op die stasie wat shunt.

      Mislei mens se herinneringe jou nie soms nie? wonder ek dikwels. Was daardie pie-en-gravy wat in die restaurant op perron 4 bedien is, regtig so lekker? Of is dit nou vir my belangrik dat dit lekker moes gewees het?

      Het ek nou die dag nie eintlik maar na my verlore onskuld daar op De Aar se stasie gaan soek nie?

      Ek en Charlie Gagiano het daardie middag in 1982 tot laat in die stasiekroeg gesit en cane, passion fruit en lemonade drink. Een van die ander ouens in ons peloton het later kom sê: “Korporaal Venter gaan ons almal opfok as julle nie nou kom nie.”

      Ons het ons nie aan hom gesteur nie. Charlie het sy Jack Nicholson-grynslag geflits en ek het katatonies voor my uit gestaar.

      Later hét korporaal Venter gekom, al 5 voet 3 duim van hom, gillend: “Ek tel drie, dan is julle op die dubbel, troepe! Ek sal julle borskaste ooppluk en op julle longe kak, lees julle my! Ek sê: Lees! Julle! My! Wil julle hê Swapo moet jul susters kom verkrag?”

      Ek het voor my bly uitstaar.

      “Is dit ’n kamera wat jy daar het, korporaal?” het Charlie gevra en na korporaal Venter se sakke beduie.

      “’n Kamera? Is jy fokken mal, Gagiano? Ons is nie op pad fokken Margate toe nie.”

      “Dis ’n kamera daai, korporaal. Kom uit met die waarheid.”

      Toe klap korporaal Venter Charlie bo van die stoel af en uit sy manies-paranoïese versteuring uit.

      Ons is kort daarna terug trein toe, ek en Charlie. Op die dubbel.

      Twee dae later het ons met die trein op Grootfontein in die noorde van Suidwes aangekom, van waar ons agterop Samil 20-vragmotors na die operasionele gebied geneem is. Die tweede dag daar bo het ek die eerste keer ’n lyk gesien.

      Ek was toe agtien jaar oud.

      SOLITARY MAN

      Nou die aand bel Floors met die nuus: Borrie Borman is dood – Borrie met die holte in die kop groot genoeg om ’n dubbele tot rum in te skink.

      Borrie het die laaste paar jaar in ’n rondawel op Katima Mulilo in die Caprivi gewoon. Hy het gesukkel om in die gewone lewe in Suid-Afrika aan te pas nadat hy een middag in 1985 tydens ’n skermutseling met Kubaanse en Swapomagte in Angola in die kop gewond is.

      Ek en Borrie het net een keer saam gekuier, in ’89, in die Hippo Lodge op Katima se kroeg. Die oorlog was vir die meeste van ons toe al verby. Ek was op pad na Barotseland in Wes-Zambië en het die middag in Katima stilgehou om vir Borrie te gaan sê Floors stuur groete. Die twee was saam in die army, in dieselfde peloton.

      Borrie het daardie middag Red Heart Rum en Coke gedrink, met ’n skyfie suurlemoen in. Hy het die skyfie self met ’n steak-mes gesny, uit ’n suurlemoen wat in ’n piering op die toonbank gelê het. Neil Diamond se plaat Hot August Night het op die hi-fi gespeel.

      Ek ken omtrent die hele Hot August Night uit my kop. Dit is ’n opname van ’n live show wat Neil op 24 Augustus 1973 in die Greek Theatre in Los Angeles gegee het. Pieta Nel het dit in 1975 die eerste keer vir my op hul plaas naby Crecy op die Springbokvlakte gespeel. Ons was toe in standerd 5 en in daardie stadium was dit die opruiendste musiek wat ek al gehoor het. Op kant 1 sing Neil in dieselfde liedjie (“Done too soon”) van Jesus en Patrice Lumumba.

      Die liedjie ná “Done too soon” is “Solitary Man”. Maar voor Neil “Solitary Man” sing, heet hy eers almal welkom – ook ’n klomp mense wat skynbaar in bome langs die Greek Theatre, ’n opelugteater, gesit het. Ek ken daardie woorde uit my kop: “Thank you, people in the audience, and the tree people out there, God bless you, I’m singing for you too ...”

      Borrie het ook daardie woorde geken. Hy het dit die middag in Hippo Lodge hardop saam met Neil gesê. Ek het hoendervleis gekry want ek was opeens terug in ’84 in die operasionele gebied naby Ombalantu. Ek was besig met my militêre diensplig en die middag laat was ons in ’n kontaksituasie in die bos. Skote het geklap. Mense het in die stof geval. Versterkings is ingeroep, en later was daar nie meer skote nie. ’n Helikopter het gewondes kom oplaai. Ons peloton het op die grond langs ’n Buffel gesit, en iewers in die donker het een van die ouens in een van die ander pelotonne daardie woorde van Neil hardop gesê: “Thank you, people in the audience, and the tree people out there, God bless you, I’m singing for you too.”

      Dit was eienaardig. Oorlog is eienaardig. Of “eienaardig” is seker nie die regte woord nie. Maar wat is die regte woord om oorlog mee te beskryf? Is oorlog nie miskien anderkant woorde nie?

      Ek het die middag in die Hippo Lodge nie vir Borrie gevra of dit hy was wat daardie aand daar in die donker naby Ombalantu ou Neil se woorde gesê het nie. Ons het oor allerhande simpel goed gesels, ek en hy: rugby en visvang en meisies, en later het ek gegroet en gery.

      Ek het nie eens die holte in Borrie se kop gesien nie, want hy het die hele tyd ’n verbleikte boshoed opgehad.

      Alles wat ek verder van Borrie weet, het ek by Floors gehoor.

      Soms, laat in die aand, bel Floors my, en dan is hy dronk en effe poëties, en soms vertel hy my van Borrie.

      Borrie is kort ná die oorlog getroud en vier maande later weer van sy vrou geskei, sê Floors. Ná die egskeiding het hy op Katima gaan woon. Hy het ’n boot gekoop en mense op toere op die Zambezirivier geneem. Borrie het heen en weer in die Caprivi begin beweeg asof hy op soek was na die mens wat hy eens op ’n tyd was, sê Floors.

      Hy het soms vir Borrie gebel, sê Floors, maar dit was moeilik om met hom oor die telefoon te praat. Dit was asof Borrie se tong heel eerste begin doodgaan het.

      Die laaste ruk het Borrie min gepraat en dikwels nie uit sy rondawel gekom nie, sê Floors, en wanneer Borrie homself aan mense voorgestel het, het hy gesê: “Hallo, ek was Borrie Borman toe ek nog gelewe het.”

      Kort voor Borrie se dood, sê Floors, het ’n klomp van sy buddies vir hom op Katima gaan kuier. Hulle het glo gebraai en gekuier en gekuier en probeer onthou wat hulle al vergeet het; en laat die nag het Borrie elkeen glo toegelaat om ’n dubbele tot rum in die holte van sy kop te gooi en dit te drink.

      Floors het nou die aand oor die foon nie vir my gesê hoe Borrie dood is nie. Ek het hom ook nie gevra nie.

      JOB INTERVIEW (2006)

      “Well, Sir, according to your CV you matriculated in 1980?”

      “Yes, Mrs Khumalo.”

      “Moreover, you played some rugby?”

      “Yes, Ma’am.”

      “And you were an active member of the shooting club?”

      “Yes, Ma’am.”

      “What did you shoot at, Sir?”

      “We only shot target, Ma’am.”

      “Why, were you practising to shoot people at a later stage?”

      “No, Ma’am.”

      “Then, what was the necessity

Скачать книгу