Anderkant die scrap. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman страница 5

Anderkant die scrap - Dana Snyman

Скачать книгу

die korrekte woord vir “riemruk” is selfbevlekking.

      Moet vir twee ure ná maaltye glad nie swem nie, jy kan maklik maagkrampe kry en verdrink. Onthou ook: Jy is die oë en ore van die polisie.

      Fotoboekiehelde soos Ruiter in Swart maak ’n bespotting van die Afrikaner, want geen Afrikanerheld sal soos Ruiter in Swart sy hond Midnight noem en vir ’n ou sê: “Vat so, jou niksnuts!” voor hy hom slaan nie.

      Meisies wat sulke lapskoenlappers en -appeltjies op hul denimbroeke dra, is “maklik” en hulle moenie verbaas wees as hul verkrag word nie.

      Dit alles het ek in 1975 op ’n veldskool van die destydse Transvaalse Onderwysdepartement in die Soutpansberg wys geword.

      DE AAR

      Onlangs kom ek toe weer op De Aar se stasie.

      Die plek het agteruit gegaan, het ek gou besef. Oral lê rommel rond en van die geboue is geplunder: die dakplate en vloerplanke verwyder, die kosyne en vensterrame uitgebreek. Die kroeg, die befaamde Bar op De Aar, bestaan ook nie meer nie. Ook nie die stasierestaurant nie. En nêrens was ’n mens te sien nie.

      Ek het lank op die perronne – daar is vier – rondgestap en probeer dink hoe dit gelyk het toe ek die eerste keer daar was. Ek was tien jaar oud en het saam met Ouma by oom Kerneels en tant Mary, wat naby Britstown geboer het, gaan kuier. Die perronne was daardie dag vol mense: passasiers en kruiers in swart baadjies en onderbaadjies met swart pette en waentjies waarvan die twee wiele in die middel gesit het, en oor die luidspreker het ’n hol stem die volgende vertrekkende trein aangekondig: Sloskloesbibber-Hanoverboeboejasskouveer- Middelburg.”

      In al die jare van toe tot nou kon ek nog nooit hoor wat stasie-aankondigers sê nie.

      Ek en Ouma het op een van die agterste perronne afgeklim, oral was die lawaai van treine wat shunt en fluitjies wat blaas, en by ’n ry tiekiebokse het mense staan en beduie asof iemand iewers iemand gerus wou stel. ’n Kruier het ons koffers en Ouma se vanity case kom vat, en ons het deur die tonnel gestap wat onderdeur die spoorlyne gaan.

      En toe, reg voor ons teen een van die geboue, het groot geverf gestaan: Maak jou gereed om jou Here te ontmoet. Dit onthou ek die beste.

      Dis ook hoe dit toe op De Aar-stasie vir my gevoel het: Dit is ’n belangrike plek dié, waar mense aandoen op pad na belangrike bestemmings. En dit was nogal so. Omtrent elke langafstandtrein in die land het deur De Aar geloop: op pad Kaap toe, Johannesburg toe, Port Elizabeth toe, Oos-Londen toe, Kimberley toe, Bloemfontein toe, Durban toe, Suidwes-Afrika toe.

      Sommige mense het selfs beweer naas Germiston het De Aar die besigste stasie in die land.

      Dit was voor die huidige era van padvervoer: 1 800 motors per uur deur Colesberg op ’n Paasnaweek en hordes vragmotors wat duike in die teer trap. Baie mense het toe nog trein gery en hul goedere en goed per trein laat karwei.

      Oom Kerneels en tant Mary het voor die sinjaalkamer vir ons gewag. Binne het ’n man in ’n blou uniform voor sulke lang hefbome gesit en oor die perron het ’n ander man aangedraf gekom. Hy het ’n bruin oorpak aangehad en in sy hand was ’n hamer waarmee hy teen elke treinwiel geklop het, “pieng-pieng-pieng, pieng-pieng-pieng”. Dit was ’n wheel-tapper. Sy voltydse werk was om teen elke inkomende trein se wiele te klop en aan die geluid te oordeel of daar nie dalk ’n kraak in die wiel is nie.

      Oom Kerneels het hom gegroet: “Dag, Driesman, hoe gaan dit?”

      Driesman het strammerig orent gekom, sy hand in die waai van sy rug: “Nee wat, my oom, dis weer net werk, werk, werk vandag.”

      Voor ons in oom Kerneels se Chev Impala plaas toe is, het ons eers in die stasie se restaurant gaan eet: pie-en-gravy – die lekkerste pie-en-gravy waaraan jy kan dink.

      Die pastei was tuisgebak met regte Karoo-vleis in, en dik, souserige sous, en eenkant ’n pers spatseltjie beetslaai. Jy het dit met ’n silwer Sheffield-mes en -vurk geëet, op ’n Royal Dalton-bord, op ’n tafel met ’n wit gestyfde tafeldoek.

      Terwyl ons aan die eet was, het ’n man met net een arm voor die venster verby gestap. Hy het ’n bruin uniform aangehad en in sy enigste hand het hy ’n silwer skofboks gedra. “Foei tog,” het tant Mary gesê. “Dis ou Swanepoel. Hy het een nag tussen twee treine in die shunting yard beland.”

      Dit was nie die laaste keer dat ek pie-en-gravy op De Aar geëet het nie. Oor die jare heen het ek sporadies trein gery: na oom Kerneels-hulle toe, Kaap toe, of tot op Touwsrivier waar ek ’n meisie gehad het.

      In 1982, ek dink dit was in September, was ek ook op De Aar-stasie, in ’n troepetrein op pad na die destydse Suidwes-Afrika – op pad Grens toe. Maar daardie dag het ek nie pie-en-gravy geëet nie. Ek en Charlie Gagiano, wat saam met my in die peloton was, het in die kroeg gaan sit en cane, passion fruit en lemonade drink terwyl ons gewag het vir ’n aansluiting Noorde toe.

      Dit was ’n bewolkte, triestige dag. Of miskien onthou ek verkeerd. In September is dit gewoonlik warm op De Aar.

      Bewolkte, triestige dae in die verlede word nooit sonskyndae wanneer jy daaraan terugdink nie.

      Ná die tweede of derde cane, passion fruit en lemonade, het ek by ’n tiekieboks op die perron huis toe gaan bel. Pa en Ma was nie tuis nie. Ek het maklik tien minute met Sheila, die vrou wat in ons huis gewerk het, oor die telefoon gepraat en toe ek terugkom in die kroeg, sit Charlie Gagiano daar met ’n boek, Inleiding tot die abnormale sielkunde – dit, as ek reg onthou, was die boek se titel. Charlie het dit by sy suster wat B.A. op Tukkies geswot het, geleen en in sy balsak saamgebring.

      “Hier’s die antwoord, buddy,” het hy gesê en die boek voor ons op die toonbank oopgeblaai. “Kies vir jou ’n siekte.”

      “Wat bedoel jy?” Ek het na die diagramme in die boek gekyk.

      “Dis easy, buddy: Hier beskryf hulle die crazy siektes. Kom’s kies elkeen een, dan swot ons dit op en maak of ons dit het. Maybe stuur hulle ons huis toe.”

      Ek het besluit ek wil ’n katatoniese skisofreen wees. Dit het vir my die maklikste geklink om na te maak, want katatoniese skisofrene praat glo nie, hulle sit net en staar stil voor hulle uit. Charlie wou aan ’n manies-paranoïese versteuring ly. Of so iets. Hy het manies begin grynslag, nes Jack Nicholson in One Flew over the Cuckoo’s Nest, en goed gesê soos: “Sien jy daai ou daar in die hoek, buddy. Ek dink hy tape ons gesprekke.”

      Dit is dwaas om te wil hê dinge moet dieselfde bly. Die lewe is verandering.

      Miskien word De Aar-stasie – en al die ander vernielde stasies in die land – eendag opgebou. Ek hoop so.

      Maar ’n groot gedeelte van ’n mens is jou herinneringe, en ek wil myself ken. Daarom het ek nou die dag meer as ’n uur daar op De Aar-stasie rondgestap en probeer dink hoe dit eens op ’n tyd was – ook hoe ek eens op ’n tyd was.

      Ek het slegs met een mens gepraat terwyl ek daar rondgestap het – nie dat daar baie was om mee te praat nie. Hy was ’n sinjaalmeester en het op een van die afgeskilferde hortjiesbanke op die perron gesit.

      “Shunt hier nog treine saans?” het ek hom gevra.

      “Net soms.”

      Die klank van treine wat shunt – dis ’n klank wat ek van altyd af ken. Jy is klein, jy lê warm

Скачать книгу