Die Neus. Deborah Steinmair
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Neus - Deborah Steinmair страница 5
Daar is ’n vel papier onder haar kombuisdeur. Uit Claude se drukker. Sy gaan sit en lees:
Die huis was (en ek scheme dis nog steeds) geregistreer in die naam van Myer Spiewak van Ficksburg. Onse valley nogal. Ek neem aan dit het te doen met die onopgeloste moord waarvan jy gepraat het. Jy het gesê dit lui ’n klokkie. Het dit iets met jou history uit te waai? Hei, dit was nie te moeilik nie.
Vra maar as daar nog iets is, bra. Jy het vyf nommers in die kol gehad. Cool bananas, orakel.
Op daardie oomblik lui die telefoon. Sy tel dit op, luister vir ’n halfminuut na die bekende asemhaling en sê: “Mnr. Spiewak. Myer? Ek het jou hulp nodig. Ek reken dis tyd dat ons ontmoet.”
Die handstuk word aan die ander kant met ’n sagte klikgeluid neergesit. Dis ook ’n outydse telefoon, soos hare. Die ervaring is soveel anders as om op ’n selfoontoetsbord met een vinger doodgedruk te word.
Sy sit een voet voor die ander en stap na die boekrak. Sy trek haar skouers terug, blaaie na mekaar. Sy staan pynlik soos ’n ballerina op die puntjies van haar tone en wieg. Sy haal diep asem, strek en mik en skep die vrou, haar ma, se hoededoos met haar vingerpunte van die rak af. Die koevert wat bo-op gelê het, val ook agter die boekrak in. Gits.
Sy gaan sit op die mat op die stoep en keer die doos om. Dis so te sê leeg. En tog tuimel jare voor haar voete uit.
• ELF •
Vier foto’s wat nooit aan haar gewys is nie, dwarrel af na die growwe mat. ’n Onmoontlik blonde dogtertjie poseer in ’n wit valletjiesrokkie. Dan weer gestewel en gespoor met wolmus en slee. Die landskap agter haar is uitheems: skerp bergpieke, sneeu, kastele, grasvelde vol blommetjies, ’n meer. Agter op een foto in verbleikte vulpen, in ’n ou Europese sierskrif, die inskripsie: Rosi. Die volgende foto is jare later, in Suid-Afrika, geneem: ’n opgeskote dogter voor die Voortrekkermonument, steeds baie blond en pynlik maer. Dis nie Marie Gruber, haar ma, die vrou wat haar aangeneem het nie. Rosi. Is dit Rosalie? Was sy haar ma? Hoekom is Aga se hare dan raafswart?
Die laaste foto is van ’n man, met donker hare en ’n broeiende uitdrukking. Hy lyk soos Clark Gable met heelwat kleiner ore. Haar hand skulp onwillekeurig om haar eie oor, piepklein. Haar pa? Haar grootoom Myer? Die foto is reg van voor geneem en sy kan nie oordeel hoe groot sy neus is nie, maar in die manier waarop die lig val, is daar wel die suggestie van ’n geboogde brug.
Die hoededoos bevat geen briewe nie. Daar is ’n spaarboekie van ’n bouvereniging wat onlangs gelikwideer is, met ’n balans van R540 655. Daar is haar graad I-skoolrapport: Agathe se lees- en skryfvaardighede is ver bogemiddeld, maar haar sosiale vaardighede is min of meer afwesig. Sy is totaal ongesosialiseer. ’n Spesiale skool sou veel meer geskik wees om haar unieke persoonlikheidsprobleme die hoof te bied.
Die volgende item laat ’n traan langs haar neus afrol. Soos altyd verbaas die nattigheid haar. Sy was nie bewus daarvan dat sy hartseer is nie. Dis ’n houtkruis wat sy in standerd een met ’n knipmes uitgekerf het. ’n Kersgeskenk vir die vrou, haar ma. “Nouja, van wanneer af dra ek miskien halssnoere? Verdomde Rooms-Katolieke het alle geval ons lewens van vroeg af al verfomfaai. Nou goed, dan sê ek seker maar dankie, Agathe. Jy weet ons vier nie Kersfees nie. Dis ’n heidense fees, niks te doen met die ware geboorte van die Heer nie. En dogtertjies hou hulle nie op met knipmesse nie. Gaan doen jou tuiswerk.”
Die voorwerp op die bodem van die hoededoos laat haar koud kry. Dis ’n silwerhangertjie. Sy knip dit oop, natuurlik knip sy dit oop. Binne lê twee opgekrulde haarlokkies, een blond en een raafswart. In daardie oomblik, finaal, skuif die verlede bo-oor die hede, dit sluk die hede met ’n sagte hikgeluid in. Sy en die Schwarzbraun-baba word herenig. Een. Sy was sy. Sy is sy. Aga Schwarzbraun?
• TWAALF •
Niemand gaan haar skoppend en skreeuend die 21ste eeu binnesleep nie. Sy stap posbus toe. Sy steek haar hand in die metaalhokkie, lig die brief uit en skud die slakke versigtig af. Dis van Jesse.
Sy skeur dit oop sonder om twee keer te dink.
Jy’s ’n perskeblom. Ja, dit was ’n bom. In die poskantoor, waar ons op daardie oomblik verbygestap het. Ek wil nie daaroor praat nie. Joan is op slag dood en daardie sin lyk nou, amper 17 jaar later, steeds so verkeerd op ’n aarde wat maar aanhou draai. Ja, dis ’n ring. Ek weet nie waarom jou gawe my nie verstom nie. Jy is reg oor my arm. En oë. Dis al, jy hoef nie te gaan soek na die ring nie. Ek weet nou presies waar dit is. Ek het destyds, so gou ek weer op die been was, navraag gedoen oor die skoonmakers op die toneel. Dit was die polisie, nie die munisipaliteit nie. Ek het destyds al, blind soos ’n mol ofte nie, ’n goeie gevoel gehad wie die ring in sy sak gesteek het (ek is ook nie sonder intuïsie nie), maar daar was nie bewyse nie. Ek gaan hom eenvoudig konfronteer en vra om die regte ding te doen, om na sy gewete te luister. Laat weet asseblief hoeveel ek verskuldig is en in watter rekening ek dit oorplaas. En as daar enigiets anders is wat ek vir jou kan doen. Ooit. Ek hou ook daarvan om my kop te gebruik. Ek het ure tot my beskikking vir navorsing en jy sal verbaas wees oor wat ek alles kan bykom. My rekenaar kan praat. Dit voel asof ek jou nog altyd ken. Ek wens ek kon jou handskrif sien. Daar is iets in die ritme van jou woorde, wanneer dit voorgelees word. Ek herken dit. Jesse.
Sy begin maar bou aan ’n nuwe muur wat kronkel soos ’n slang. Miskien pluk daar ’n effense glimlag aan haar mondhoeke; sy voel dit in die spanning van die vel oor haar geboogde neus-brug. Die oggendson streel oor die agterkant van haar nek. Dis ’n draaglike aanraking. Flaubert verjaag ’n mossie van sy halwe appel. Dis die blinkste oggend. Claude loer deur die heining, sien die wêreld is in orde en trek dan sy mopkop terug in sy eie erf. Môre besoek Xavier Vercuyl hul Vrystaatse dorpie. Miskien klop haar hart ’n bietjie vinniger.
• DERTIEN •
Kwart voor drie was sy voor die stadsaal. Daar was reeds ’n miernes van mense wat op die sypaadjie saamdrom. Haar ergste scenario. Sy het maar haar kop laag gehou, die fedora oor haar oë getrek. Sy het staanplek in die saal gekry. Xavier se praatjie was lank en ja, soort van precious. ’n Bietjie van ’n kaartmannetjie met sy digte haredos na agter gekam, in swart hemp en paisley-krawat. Welluidende stem, geronde vokale, konsonante versigtig omlyn: “In my jongste roman verken ek temas rondom vervreemding en verslingering …” As Claude daar was, sou hy geprewel het: “Hellooo dude, jy skryf soppy love stories. Chillax.”
Sy kon niks herken van die onbevange troebadoer wat sy in sy briewe leer ken het nie. Sy het haar skerp elmboë na buite gedraai vir beskerming en die stormloop getrotseer. Sy het ’n boek gekoop en in die ry geval vir sy handtekening. Sy (verbasend klein) hand het ’n oomblik gehuiwer toe sy haar naam spel. Hy het sy silwer pen neergesit en opgekyk. Toe hy die boek teruggee, het hy vir ’n oomblik opgestaan. Hy moes opkyk na haar. Hy is selfs korter as Claude. Hy het haar gemeet met sy ligblou oë onder ruie goue wenkbroue. Sy het nie dadelik weggekyk nie. Hy het gelyk soos iemand wat ’n spook sien, en die gedaante ontroer hom. Ja, daar was ’n oomblik. Oogkontak. Maar sy verkies sy woorde. In briewe, ongepubliseer. Dit was dan dit.
Agtermiddag sit sy by die kombuistafel en kyk deur ’n vergrootglas na die dowwerige swart-wit foto van die blondekopdogtertjie. Bo die wit koppie is ’n uithangbord sigbaar. ’n Stasie? Die foto is redelik gekantel, asof die fotograaf beskonke of uitbundig gelukkig was. Die uithangbord verskyn naby die linkerkantste boonste hoek van die foto en verdwyn regs bo uit die foto. Net ’n gedeelte van die pleknaam is in die prentjie: EISDOR.
Die vrou wat haar ma was, het besonderhede oor haar verlede en oorsprong suinig bewaar en nooit ’n skreef inligting verklap nie. Aga was ’n buiteruimtelike