Bloedfamilie. MS Burger

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bloedfamilie - MS Burger страница 5

Bloedfamilie - MS Burger

Скачать книгу

maak die venster op ’n skreef oop en skakel die lamp aan. Nadat ek nog ’n glas wyn geskink het, lees ek weer deur my verhaal. Nie sleg nie, glad nie sleg nie, dink ek, effens trots. Dalk ’n bietjie lomp en debuutagtig, maar ek is seker dit kan reggestel word. En daar en dan, moedig of moedswillig, dalk al effens dronk, besluit ek om nog een allerlaaste keer ’n verhaal oor my ma te probeer skryf.

      Ja, ja, al my vorige pogings het tot vervelige, terapeutiese relase verwater, dit weet ek. Maar ek moet nog een maal probeer, sommer nóú alle verhale en aantekeninge oor my ma soek en deurkyk vir iets wat met ’n paar los herinneringe gekombineer kan word vir ’n laaste herskryf. Daarna sal ek dit laat rus.

      In die slaapkamer maak ek my kasdeure oop. ’n Paar kouse val uit, ’n trui en ’n rugsak. (“Hier sal ’n kat nie eens haar kleintjies kry nie.”) Terwyl ek delf in my laai waarin ek my korrespondensie bêre, onthou ek hoe ek in ’n oomblik van bedonnerdheid, voordat ek vir ’n paar jaar oorsee gedros het, al my ma se briewe aan my verbrand het. Dit was vir my eie beswil, het ek destyds geredeneer, ’n lekker groot vuur gemaak en sommer briewe van ou geliefdes en skoolvriende bygeneuk, asook ’n Kimberley-skouprogram van 1982 wat deur P.W. Botha geteken is. Ek is nou spyt oor die verlore briewe, en P.W. se handtekening kon dalk iets werd gewees het. Al korrespondensie van my ma wat behoue gebly het, is ’n paar verjaardagkaartjies wat sy by die DBV gekoop het, elkeen versigtig onderteken met “Liefde, Ma”. Niks meer nie. Ek wonder wanneer ek opgehou het om haar Mamma te noem.

      Ek versaak my klerekas en soek verder. Gelukkig lewer my lessenaar gou ’n verrassing op, ’n verhaal sonder titel, in pen en in ’n duidelike en stadige handskrif geskryf.

      “Eet tog nou vir ’n slag ordentlik, my kind, nou-nou is jy weer so maer soos ’n kraai,” por my ma reeds aan my suster nog voordat ons behoorlik aansit vir ete.

      “Julle eet mos van alles, nè? Ek ken julle kinders ook nie aldag nie. So vol fiemies as julle lus het. Sal een van julle asseblief vir ons die sjampanje oopmaak? En moenie dat die prop skiet nie; dit mors net.”

      Die liggies aan die plastiekgroen Kersboom in die hoek van die sitkamer werk lankal nie meer nie. Dis die idee wat tel, sê my ma gewoonlik terwyl sy die boompie versier. Vir Kersfees het ek vir my ma ’n kasset van Dean Martin gegee en vir my suster Quality Street-sjokolade, wat sy nie oopgemaak het nie. My ma het vir ons elkeen vyftig rand gegee en vir my ’n foto van Dean Martin in die Huisgenoot gewys soos hy aan die einde van sy lewe gelyk het. Van die drank, het sy opgemerk. Die bottel sug toe ek die prop met my duime uitwerk.

      “Oppas dat jy nie mors nie,” sê my ma terwyl ek die drie glase vol skink. “En versigtig nou, dis my beste glase. Toe nou, Sussie, gee vir my jou bord dat ek vir jou kan skep.” Ek merk hoe die vel om my ma se boarms verlep toe sy my suster se bord neem, en ek kyk weg.

      Die huis ruik na voosgekookte kos en hondeasems. Net voordat ons begin eet, lui die telefoon en my ma skuif haar stoel krapperig agteruit.

      “Dis jou pa,” sê sy aan niemand in die besonder nie toe sy terugkom, en ek staan op.

      “Happy Christmas, my kind, van almal hier!” My pa praat aanhoudend en hard en op die agtergrond hoor ek ’n helse lawaai, klappers wat skiet en mense wat gil.

      “Happy Christmas vir julle ook.”

      “Hou jy darem lekker vakansie? Jy’s nie weer siek nie, is jy? Ek sal vir jou sê, dis hier so warm dat ons in die swembad boer.”

      Hy was nooit iemand wat alleen kon wees nie.

      “Roep gou vir Sussie dat ek met haar ook kan praat.”

      Hulle praat gewoonlik nie lank nie. Nie oor die telefoon of andersins nie. My suster kom sit weer, net so stil soos wat sy opgestaan het.

      “Wel, geseënde Kersfees en smaaklike ete,” sê my ma. “Ek hoop nie die kos is nou koud nie.”

      Ons eet in stilte, met net die skerp geluide van messe en vurke tussen ons.

      “Kom, jy eet soos ’n voëltjie; hierso, skep vir jou nog.”

      My suster lig haar hande en skud haar kop, maar my ma gee reeds die bak aartappelslaai aan. “Toe nou, Sussie.”

      “Nee dankie, nie nou nie,” sê my suster en druk die bak weg.

      My ma stoot die aartappelslaai terug.

      “Wat is dit met jou!”

      “Ek het genoeg gehad,” sê my suster, kry die bak met albei hande beet en skuif dit oor die tafel sodat die tafeldoek frommel.

      My ma gryp die ander kant van die bak. Die aartappelslaai doen ’n paar rondomtalies tussen my ma en my suster – ou Verergdheid en klein Desperaatheid wat mekaar nou aangluur – links, regs, links regs. ’n Mes val. Ek merk hoe baie my suster se hande soos my ma s’n lyk. ’n Vurk klingel agterna, ’n glas sjampanje wieg op ’n dun steeltjie, eers na die een kant toe, dan die ander kant, en kantel toe met ’n blikgeluid om. Sjampanje stroom deur die ertjies in my suster se bord en stol in ’n dik, naar souserigheid van mayonnaise en blatjang. My ma trek haar asem so hard in dat dit deur haar neusvleuels fluit, haar lyf ’n uitroepteken. Ek proes toe my suster die gemors met haar poedinglepel en servet probeer opdam. ’n Vlek het intussen soos ’n woeste silhoeët oor die tafeldoek uitgesprei.

      “Wat maak jy? Ag nee, Sussie, ek het jou mos gesê, man!”

      ’n Aartjie op my suster se voorkop bult en toe rooi hale in haar nek begin krap, spring sy op. Haar stoel klap teen die terracottateëls. Die honde het intussen hul snoete in die aartappelslaai gedruk en morsig begin vreet.

      “Sien jy nou,” sê my ma vir my met haar kraakbeenlippe, “dit was nie nodig om te lag nie.”

      Dit is toe dat ek opstaan en langs die see, tot ver verby die akwarium, gaan stap.

      Terug by die huis, sien ek deur die oop voordeur my ma het voor die televisie aan die slaap geraak met haar honde op haar skoot. Toe sy die traliehek hoor, gaan haar oë oop, net om dadelik weer toe te rol. Die son skyn in plasse oor die vloer. Ek sien sy het lipstiffie aangesit.

      “Jy raak nou lekker cheeky, nè. Waarheen het jy verdwyn? Jy moenie so lank wegbly sonder om te sê waar jy gaan nie. En kyk tog of Sussie beter voel; sy is al vir ure doenig in die badkamer.”

      Ek klop liggies en aanhoudend aan die badkamerdeur totdat sy antwoord.

      “Kom tog nou uit, man. Jy’t dit mos nie aspris gedoen nie.”

      Die water rommel toe sy die badprop uittrek en kort daarna die toilet twee maal ná mekaar spoel. Net voordat sy haar kamerdeur agter haar toetrek, sien ek hoe dun haar skouers deur haar T-hemp druk en hoe los haar broek om haar middel en heupe vou. Bamboesbeentjies, ’n rugstring van klippies, ’n treurende lyf.

      Dié verhaal speel in die tagtigerjare af. Ons kon destyds nie geweet het nie. Ons kon nie.

      “My hele familie was nog altyd skraal,” het my ma aanvanklik gesê, halftrots.

      By die huis het my suster in haar kamer weggekruip en onophoudelik na The Carpenters geluister – “talking to myself and feeling old”. Nadat sy by die skool flou geword het, het die skoolhoof my ma ingeroep. Maar dit sou nog ’n paar maande neem voordat my suster, haar hare dof en plat teen haar kop gekam, armoediglik maer saam met my en my ma in die enigste psigiater in Oos-Londen

Скачать книгу