Donkermaan. André P. Brink

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donkermaan - André P. Brink страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Donkermaan - André P. Brink

Скачать книгу

haar bokspring en wroet.

      Vyf maande later is die arme vrou genadiglik dood, na vier laaste dae van onbeskryflike pyn en angs, begelei van die al meer besete, onophoudelike kopulasie van die twee minnaars. En toe was dit verby. By Susara se begrafnis moes hulle Willem vashou, want hy wou met alle geweld in die graf spring. Drie dae later, nadat die gaste weer weg is – in daardie dae was ’n begrafnis ’n groot sosiale gebeurtenis – het Willem allenig teruggeloop huis toe. Ure lank het hy in die verlate taverne bly sit en staar na die muur, sonder om te raak aan die beker slegte bier op die versplinterde eikehouttafel voor hom. Toe Antje met die sagte suiggeluide van haar kaal voete oor die misvloer na hom toe kom, het hy haar net bruusk beduie om pad te gee. Dit was asof al sy wellus met die uitblaas van sy vrou se laaste asem uit hom verdamp het.

      Op dié afstand is dit moeilik om te sê of die einde voorspelbaar behoort te gewees het. Willem Mostert het oornag oud geword. Hy het al humeuriger geraak, verseg om die taverne oop te sluit of mense te sien. En toe het daar ’n gemor onder die slawe begin. Fatima was die eerste wat hom kom herinner het dat hy belowe het om haar vry te laat. As sy haar tyd beter gekies het, sou hy dalk anders gereageer het. Maar soos dit toe gebeur het, het hy haar ’n loesing gegee erger as al sy vorige buitensporighede. Daarop het die ander, voorgegaan deur Cupido en Adonis, kom eis dat hulle beloon word vir wat hulle gedoen het terwyl hy Antje die hof gemaak het. In die konfrontasie het Antje die fout begaan om haar téén hulle by Willem te skaar. En toe was dit net ’n kwessie van tyd voor die saak voor die Raad van Justisie beland het.

      Die verrassendste van die hele gedoente was dat die ou Willem Mostert self nooit voor die hof gedaag is nie, nie eens as getuie nie. Dit was Antje wat aangekla is van moord, maar selfs onder die foltering het sy geweier om ’n woord teen haar baas te uiter; die ander slawe, aangekla as medepligtiges, het allerhande wilde beskuldigings gemaak, maar niemand het dit ernstig opgeneem nie. Amptelik is daar nooit met ’n vinger na die raaiselagtige tavernier gewys nie. Inteendeel, selfs nog voor die saak verhoor is, het dominee Le Boucq persoonlik getuig oor Willem se voorbeeldige gedrag en sy kommer oor sy vrou se gesondheid gedurende al die maande van haar slopende siekte. Dokter Bronssvinkel het dit bevestig. Watter suurlemoensap daar nog verder deurgeloop het, weet ons nie. Al wat mens met sekerheid kan sê, is dat Willem nooit aangekla is nie. In die woorde van ’n skerpsinnige historikus na aanleiding van ’n ander soortgelyke saak:

      “We may … assume that one of the state’s ambitions was to maintain the social and judicial distance which existed between masters and slaves at the Cape. To place a member of the Cape’s élite in the same case as criminal slaves, and to judge this member as a co-conspirator of these slaves, was obviously more than the Court of Justice could stomach. To declare them as equals before the law would be to undermine the structures of inequality which bound the Cape’s colonial society together” (Penn, p. 56).

      Op ’n deurskynde blou-en-goue herfsdag in Maart 1711 is Antje van Bengale verhoor, gevonnis en tereggestel. Destyds het die regspleging korte mette met ’n beskuldigde gemaak. Aan haar medeslawe is vonnisse van verskillende grade opgelê, vanaf géseling tot lewenslange gevangenskap op Robbeneiland, maar net sy is ter dood veroordeel. Soos Vermeulen dit saamvat, is sy “veroordeel om na die plek van openbare teregstelling geneem te word om daar aan ’n paal vasgemaak, met warm ysters gebrand, en met ’n koord verwurg te word totdat die dood intree. Daarna is haar kop en haar regterhand verwyder en op stawe by die ingang van die Kasteel opgestel, en haar oorblyfsels vasgemaak aan ’n gevurkte paal waar dit moes bly totdat dit verteer is deur die lug en die voëls van die hemel” (op. cit., p. 116).

      Oubaas Willem Mostert was in die skare wat op die Parade vergader het om die teregstelling by te woon. Daarna is hy terug na die pastorij van dominee Le Boucq wat aan hom herberg verskaf het en aan wie hy daardie nag ’n belydenis afgelê het (wat by die daaropvolgende ondersoek aan die hof voorgelê is met die wysigings en skrappings wat die godsman goed geag het). Twee dae na Antje se teregstelling het Willem stilletjies in die nag die afsonderlike ledemate van die eens beminde liggaam bymekaar gemaak en teruggery na sy huis in Papenboom. In die afwesigheid van enige vaste getuienis, is dit die konsensus wat bereik is onder die enkele historici wat dit die moeite werd geag het om die treurige geskiedenis op te teken. Nadat Willem sy voorneme aan die predikant bekend gemaak het, het Le Boucq glo sy bes probeer om hom af te raai – so altans het hy later getuig – maar sonder sukses.

      ’n Week daarna het ’n reisiger op pad na Constantia by die opstal in Papenboom aangedoen om perde om te ruil, en gewaar dat die deure en vensters oopstaan. Die plek was verlate, en besmet van ’n afskuwelike stank. Te huiwerig om self ondersoek in te stel, het die vreemdeling ’n ent verder by die brouery gaan hulp soek. Daarvandaan is ’n paar slawe uitgestuur. Hulle het ou Willem Mostert se ontbindende lyk met ’n riem om die nek aan ’n swaar dwarstak van ’n akkerboom langs die huis aangetref. Van Antje van Bengale se lyk was daar geen teken nie.

      Onvermydelik het daar in dié bygelowige tyd gou stories begin rondgaan oor ’n spook wat daar dwaal, en niemand het kans gesien om ’n eiendom aan te skaf wat onder ander omstandighede nogal ’n winskopie kon gewees het nie. ’n Jaar daarna is die huis op aanbeveling van die Gereformeerde Kerk tot op sy fondamente afgebreek. Die landgoed is onderverdeel en die randerwe teen redelike pryse van die hand gesit. Maar die middelste stuk het onverkoop bly lê, en dit ten spyte van die gunstige ligging vlak teen die hoofroete in ’n lommerryke buitewyk van die vinnig groeiende nedersetting. Eers teen die end van die negentiende eeu het ’n bejaarde immigrant uit Engeland die erf gekoop en op die oorblyfsels van die ou fondamente ’n nuwe huis in die koloniale Victoriaanse styl laat bou.

      5

      Die vreemde meisie in my studeerkamer het haar gemaklik op die ou rusbank uitgevly, gestut teen ’n paar groot kussings, een been onder haar ingevou, die ander gestrek oor ’n armleuning. Terwyl ek aan die vertel was, het sy twee keer haar wynglas aangevul. Daarna bly sit sy ’n lang ruk doodstil in die uitflikkerende vuur en staar. Toe sy weer praat, klink sy eerder beskuldigend as verwonderd:

      “Dink jy dis genuine Antje van Bengale wat ek in die gang gesien het?”

      “Wie anders kon dit wees?”

      “Het jy al met haar gepraat?”

      “Ek het haar nog nooit self gesien nie, maar ek dink mens sou kon sê ek was al bewus van haar teenwoordigheid. Wat natuurlik my verbeelding kon gewees het.”

      “Hoe kan jy dan so seker wees dis sy wat ek gesien het?”

      “My huishoudster het haar gesien. Ek kry die indruk hulle gesels nogal gereeld.”

      Sy sit orent en swaai haar bene van die bank af (weer daardie ontsenuende glimp). “Sê jy dit om my bang te praat?”

      “Hoekom sou ek?”

      Aan die kepie tussen haar oë kan ek sien dat sy nadink. Na ’n rukkie sê sy: “Miskien was dit net ’n skaduwee. Of anders was my verbeelding in overdrive. Op ’n nag soos dié …”

      ’n Rukkie was ons albei stil. Ek was bewus van die onritmiese solfatone van die houers in die gang, van nat takke wat teen ’n venster skraap, ’n geluid in die skoorsteen. Soos iets uit Langenhoven, of Leipoldt.

      “Hoekom praat jy nie met Magrieta daaroor nie?” vra ek. “Helder oordag.”

      “Beteken dit ek kan hier kom bly?”

      “As jy wil, ja.”

      “Thanks. Ek sal daaroor dink en jou laat weet.”

      Nog ’n stilte. Sy gaan buk by die kaggel en karring die vuur weer aan die gang, gooi die laaste twee stompies uit die houtkas op

Скачать книгу