Donkermaan. André P. Brink
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Donkermaan - André P. Brink страница 16
Magrieta het omgeswaai en haar asem vinnig ingetrek. Dit was weer die meisie, vlak by die grootste van die ou akkerbome in die tuin. Dié keer was haar kop darem op die regte plek. En daar was iets so hartseer en verlate in haar houding dat Magrieta haar vrees voel verdamp het.
“Wie – wie’s jy?” het sy gestamel, terwyl sy sorg dat daar ’n veilige afstand tussen hulle bly.
“Ek is Antje,” het die meisie in ’n ongewone aksent gesê. Omdat Magrieta nog nooit Hollands gehoor het nie, kon sy dit nie eien nie; maar dit was nie moeilik om te verstaan nie. “Ek moet met jou praat,” het die onbekende jong vrou gesoebat.
Maar Magrieta was nog steeds te benoud om te bly staan. So vinnig as sy kon, is sy in die koeltestraat af; en al wat sy kon dink, was: Hier sien hulle my nie weer nie. Maar reeds op die trein stad toe het haar gewete haar begin pla. Het sy nou ooit die regte ding gedoen? Daardie arme meisie het so verbouereerd geklink, asof sy regtig iets baie dringends te sê gehad het. Sê nou dit was nie eens ’n egte spook nie?
Haar ma, ook oorstuur toe sy die storie hoor, het haar teruggeneem na die Slams. Dit was tog hy wat belowe het om hulle teen die bose te beskerm, en kyk nou wat gebeur het.
Tot hulle verbasing was die oubaas hoog in sy skik. “Allah is voorwaar wonderbaarlik,” het hy gesê (iets wat die vrome Christenvrou moet ontstig het). “Dit beteken dat dit glad nie ’n bose gees is nie, maar een wat dit goed bedoel. As sy jou wou kwaad aandoen, sou sy nooit haar kop teruggesit het nie. Luister nou mooi, my kind. As sy ooit weer met jou praat, dan moet jy nie weghardloop nie. Bly staan waar jy is, gee haar antwoord, doen net wat sy vir jou sê. En as sy jou wil groet, draai dan ’n sakdoek om jou hand.”
Hoogs benoud, maar tog met ’n gevoel van bravade, is Magrieta die volgende dag terug werk toe. ’n Week lank het niks verder gebeur nie. Sy het net begin dink dat dit tog maar haar verbeelding was – dalk as gevolg van iets wat sy geëet het, of God se straf oor die vryhede wat sy haar verloofde, Andries, die aand voor die eerste besoeking toegelaat het – toe Antje weer haar opwagting maak. Dié dag was Magrieta alleen in die opwaskamer, besig met die skottelgoed. Dit was ’n winderige dag, ’n behoorlike swart sedoos, na dae en nagte van gietende reën. Agter haar het daar skielik ’n stem opgeklink. Sy het dit onmiddellik herken.
“Magrieta.”
Sy het oor haar hele lyf aan die bewe geraak.
“Magrieta, ek is jou vriendin.” Elke woord duidelik en apart uitgespreek in daardie half-vreemde, half-bekende tongval, asof sy wou doodseker maak sy word reg verstaan.
“Ag heretjie tog,” het Magrieta gefluister.
“Jy moet dadelik hier uit die kombuis uit padgee. Hardloop so vinnig as jy kan voordeur toe, uit in die voortuin.”
“Maar …”
“Hardloop, Magrieta!”
Magrieta het gehardloop. Toe sy by die voordeur op die breë stoep uitkom, het sy ’n onaardse gedruis teen die sykant van die huis gehoor. Eers toe sy in die tuin kom, het sy gewaar wat gebeur het. Die akkerboom voor die kombuisvenster, hol van ouderdom – die einste boom waaronder Antje die vorige keer haar verskyning gemaak het – is omgewaai deur die wind, al die swart wortels uit die deurweekte aarde uitgeruk. Dit het dwarsdeur die dak ingeval en die grootste gedeelte van die kombuis daaronder in puin gelê. Waar Magrieta by die wasbak in die opwaskamer gestaan het, was nou net ’n hoop rommel.
Sy het agteruit van die toneel af begin loop tot sy weer by die voorstoep terug was. Daar het sy haar vasgedruk teen die paletjies onder die broekieskant van die veranda. Sy was te geskok om selfs te huil. En sy’t nog net daar gestaan, yskoud tot op die bot, toe mevrou Benade van haar inkopies af terugkom. Al wat Magrieta kon uitkry, was: “Merrim, sy’t my uit die dood uit gered. Dit was weer daai Antje-vrou.”
Die vrou het haar binnetoe geneem en haar op die vloer in die spaarkamer laat lê (mens kon darem nie ’n bediende op ’n bed toelaat nie), waar sy vir Magrieta sal volatile ingegee het, haar met ’n strykkombers toegegooi het, en haar kans gegee het om tot verhaal te kom. Dit was hoe Antje haar aangetref het. Vir die eerste keer het hulle ordentlik gesels. Daarna het dit nog baie kere gebeur totdat dit mettertyd iets van ’n daaglikse roetine geword het. Met verloop van tyd het Magrieta al haar vroeë bedugtheid afgeskud. En sy was so ’n voorslag in die huis dat haar werkgewers besluit het om maar die aardigheid te duld van ’n bediende wat gesprekke voer met ’n teenwoordigheid wat niemand anders kon sien nie.
Maar dit was eers ’n jaar later, toe Magrieta al drie maande getroud was en pas ontdek het dat sy verwag, dat die verhouding verdiep het tot iets wat mens werklik vriendskap kan noem. Sy was weer allenig tuis, dié keer besig om die greinhoutvloer in die eetkamer op te vryf, toe Antje voor die lang glimmende eetkamertafel kom staan. Die tafel was nog sigbaar dwarsdeur die omlyning van haar liggaam.
“Magrieta,” het sy gesê (teen dié tyd al in ’n skaflike Afrikaans), “ek wil hê jy moet nou dadelik jou werk los en huis toe gaan.”
“Maar dis nog oggend,” het sy teëgepraat. “Die Merrim gat mos kwaad wees.”
“Dit kan ons later regsien. Daar’s nou belangriker dinge om te doen.”
“Maar wat is dit dan?”
“Gaan kyk, jy sal sien.”
Met haar hart in haar keel is Magrieta daar uit op die lang pad huis toe – af na Nuweland se stasie en in stad toe, daarvandaan na Hanoverstraat toe en bult-op na die klein fletjie wat sy en Andries by ’n swendelaar van ’n huisbaas gehuur het. Daar het sy vir Andries en ’n halfkaal meisiekind op die voorkamer se vloer aangetref waar hy net besig was om sy belt los te maak en uit sy broek uit te klim. Magrieta het baie flink met die indringer klaargespeel; en nadat die meisie hande-viervoet by die deur uit is, met ’n paar stukkies klere teen haar borste vasgeklem, het sy met ’n kombuismes in die hand na Andries toe omgedraai. Hy kon net daar alle hoop op ’n mooi toekoms kwyt gewees het as ’n viskramer nie op daardie oomblik in die deur kom staan het om hulle ’n bos vars harders uit Houtbaai aan te bied nie.
Dit was ’n hele mare van verwyte, en trane, en ’n gesoebat, en beloftes, wat gelukkig uiteindelik uitgeloop het op vergiffenis. Daarna was dit nooit weer heeltemal dieselfde tussen hulle nie – “Een ding weet ek nou vir seker,” sou Magrieta baie keer deur die jare daarna herhaal: “’n man is ’n man, en dis maar ’n sleg ding om te wees” – maar dis te betwyfel of Andries dit ooit weer sou waag om oor die tou te trap. Magrieta het doodbedaard met haar lewe voortgegaan, tevrede dat haar getroue vriendin haar voortaan op die hoogte sou hou van wát daar ook al verder mag gebeur.
Daarvan kan ek self getuig. Daar was daardie één keer, amper dertig jaar gelede, drie maande nadat Riana die baba verloor het en ek in ’n soort besetenheid wat ek nou nog nie mooi kan verklaar nie, vir Alison huis toe gebring het. Die mooi musiekstudent, een naweek toe Riana en die seuns by haar ouers op die plaas was en Magrieta weg na haar familie in Distrik Ses. Ek soek nie verskonings nie. Ons het geweet dit was verkeerd. Maar ek was halsoorkop verlief, en na daardie maande van opstand en blindheid en seerkry wou ek nie dié kans laat verbygaan nie, ’n laaste gryp na alles wat van my begin wegglip het – al daardie melodramatiese dinge wat mens jou in so ’n oomblik van desperaatheid probeer wysmaak. Ons het te veel gedrink, iets wat my maar bitter selde oorkom; dit het gelyk of Alison net so hartstogtelik soos ek was; en hier op die rusbank in my studeerkamer het ons mekaar begin liefkoos, die begeerte te fel om nog na die slaapkamer te verskuif. Één herinnering sal my altyd bybly: Alison wat agteroor op die bank lê, haar gesig