Donkermaan. André P. Brink
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Donkermaan - André P. Brink страница 14
“Hoekom vra jy?”
“Dis veronderstel om Antje se storie te wees, maar sy feature omtrent glad nie.”
“Dalk is dit waarom sy nog altyd hier dwaal.”
“Dalk is jy reg,” sê sy. Dit lyk asof sy dit ernstiger opneem as wat ek dit bedoel het.
Dit was een van daardie gesprekke wanneer die gewig van wat nie gesê is nie, voelbaar raak onder die woorde. Op ’n manier – vir my altans – was Antje in haar afwesigheid meer teenwoordig as enigiets anders rondom ons in die halfdonkerte van die studeerkamer. Soos ’n donker maan wat ’n dowwe skynsel oor ons laat val, van iewers baie ver vandaan, en baie lank gelede.
Die meisie skink die laaste druppels wyn in haar glas. “Dink jy sy het enige sê daarin gehad?”
“As iemand weet, sal dit net Magrieta wees.”
“Mans hou daarvan om vrouens rond te fok.”
“Nie alle mans nie.”
“Willem Mostert het.”
“Ek het nie net aan hom gedink nie.”
Ek sien die verwringing van haar gesig in die glas. “G’n man sal my weer rondfok nie.”
“Praat jy nou van die prokureur?”
Sy haal haar skouers op. In die skemerte glim haar oë soos ’n kat s’n.
“Wil jy liewer nie daaroor praat nie?” vra ek versigtig.
“Dis nie dit nie.” Sy sit haar glas neer. “Jy weet, ek het amper nie vanaand gekom nie. Ek was so die moer in vir hom. Mens dink kastig jy ken iemand – ek meen, dit was ’n paar jaar gewees – en skielik kom jy agter hy’s ’n total stranger. In die begin was hy so considerate, al die outydse goed soos blomme, geskenke, you name it. En toe moet jy hoor wat praat hy vanaand, toe die gesoebat nie help nie. Asof dit ek was wat hóm uitgegooi het. Nou sê hy dis ek wat hom in die balls geskop het, ek meen, jisses!” Sy lig haar arms en begin haar kop so heftig krap dat die kort hare soos ’n donker stralekrans in die dowwe lig orent staan.
“Maar in die begin was dit tog seker anders?”
“Dit was bloody marvellous.” Haar oë half-toe. “Hy’t my oral saamgeneem. Toe hy uitvind ek was nog nie oorsee nie, het hy my die hele wêreld gaan wys. Parys, Rome, Praag, Tokio, Hong-Kong, New York, die hele tutti. Dit was ’n fees.” ’n Diep tevrede lag in haar keel, gevolg deur een van haar handomkeer veranderinge van luim: “Het jy al baie getravel?”
“Nie soveel nie. Veral nie vir vakansie nie. Twee keer saam met my vrou, Riana, toe die kinders nog op skool was en by hulle oupa en ouma kon bly. Dit was onvergeetlik. Die konserte: Furtwängler, Kubelik, Gieseking, Rubinstein, Kempff, almal in die vlees. Die museums. En dan natuurlik die biblioteke. Die British Library, en die Bodleian, en Trinity College. Die Bibliothèque Nationale. Coïmbra. Toe ons by die manuskripte in die Vatikaan kom, het ek gedink: Laat nou, Here, u kneg in vrede sterwe, want my oë het die wonder van die boek gesien. In later jare is ek eintlik net op sakereise weg, konferensies en so, wanneer die biblioteek my gestuur het. Maar my heel belangrikste reise …” Ek bly stil. “Jammer, nou verveel ek jou seker.”
“Nee, ek wil hoor.”
Ek het skielik verleë gevoel. Hoe sou sy hierop reageer? Maar te hel daarmee, het ek gedink. “My eintlike reise, dié wat regtig saak gemaak het, was nog altyd in boeke.” En natuurlik, noudat ek daarmee begin het, kon ek nie weer ophou nie. “Ek het in Spanje gaan swerf saam met Don Quixote – ek gaan nou nog elke somer – en na Sint Petersburg met Dostojewski in die winter. Tussenin gaan ek Parys toe saam met Balzac, of met Zola as ek kans sien: hy kan nogal veeleisend raak op ’n reis. Of Londen toe saam met Dickens, natuurlik. En deur die strate van Dublin met Joyce. Of Praag toe met Kafka, na Algerië met Camus, of Boston met Henry James, of na ’n ver klein planeet saam met die Klein Prinsie. Ek was al op ’n paar uitputtende reise deur Australië saam met Patrick White, en deur Kanada se noordelike wildernis met Atwood. Ek is deur al wat see is saam met Melville, en kruis en dwars oor Amerika met Kerouac, en met Humbert Humbert, die arme donner.” Ek het my begin kortvat. “Jammer, maar as ek eers aan die gang kom …”
“Ek sal nie omgee om op so ’n trip te gaan nie,” sê sy, ver uit die verborge dieptes van haar stem.
“Daar’s niks soos reis om uit te vind of jy met iemand oor die weg kan kom nie.”
“Ek weet nie so seker nie. Ek meen, ek en Brian het goed klaargekom,” sê sy. “Ons trips saam was fabulous. Ek was altyd op ’n soort high. Met dit en al het dit nie uitgewerk nie. Eers agterna het ek besef ek kon nooit regtig relax by hom nie. Of miskien raak mens net ouer, jy soek iets anders.”
“As jy my vra, het jy tyd nodig om eers weer jou lewe uit te sorteer.”
Sy skuif dieper tussen die kussings in. “Ek voel safe hier by jou,” sê sy op haar onthutsende, reguit manier. “Ek dink nie ek het in baie jare so safe gevoel nie.” Haar oë kyk my ’n lang ruk rustig en ondersoekend aan. Nie een van ons kyk weg nie. “Ek weet nie hoekom nie,” sê sy dan. “Ek meen, ek ken jou skaars.” (Presies, dink ek. Vir al wat sy weet, kan ek ’n seksmaniak of ’n reeksmoordenaar wees. Dit maak haar vertroue tegelyk ontstellend en ontwapenend.)
“Ek self het lank laas so openlik met enigiemand gesels,” erken ek.
Rondom ons was die nag, en die donker, die reën, die afgeleë stad van waar mens af en toe ontliggaamde rammelings en sirenes kon hoor, die lang verlede, en naamlose gevare en roofdiere wat skuil in die nag; maar al wat saak gemaak het, was dié klein ruimte wat ons so terloops en vlugtig kon deel. Hierna sou ons aparte lewens seker weer hul eie koerse gaan, maar vir hierdie tydjie was ons hier, saam, met ’n vae bewustheid van ander, meer geheime ruimtes wat nog eendag verken sou kon word, later, miskien; op die oomblik was dit genoeg om hier te wees.
Ek het gesit en luister na die drupgeluide uit die gang.
“Nog koffie?” het ek later aangebied.
“Graag,” het sy lomerig geantwoord. “Gee jy om as ek hier bly wag?”
“Natuurlik nie.” By die deur het ek geaarsel en omgedraai. “Jy’s nie bang Antje kom dalk terug nie?”
Sy het nie geantwoord nie; miskien het sy nie eens gehoor nie.
Toe ek terugkom met die koffie, was sy vas aan die slaap op die bank, opgerol in ’n fetusposisie, met die kat by haar voete, ’n half-geslote hand teen haar mond. ’n Lang ruk het ek so na haar bly staan en kyk. Toe ’n paar goed uit die pad geskuif en die skinkbord op ’n hoek van die lessenaar neergesit. Daarna het ek ’n kombers in my kamer gaan haal en dit baie versigtig, om haar nie te pla nie, oor haar gegooi. Die leeslamp het ek laat brand.
Ek het die hele nag niks geslaap nie, maar dit was goed om wakker te lê. Toe ek die volgende oggend met vars gemaakte koffie in die studeerkamer terugkom, was sy weg.
6
Geen teken van haar gister, Sondag, nie. Die hele triestige dag – effense reënvlae, wind, kort tussenposes van halfhartige son – het ek bly wag dat die telefoon moet lui. Wat sy ook al besluit, sy sou tog darem seker laat weet? Maar met elke uur wat verbygaan,