Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit страница 4

Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit

Скачать книгу

kyk op haar horlosie en sien dis reeds halfelf.

      “Die aand het verbygevlieg,” sê sy. “Het jy die partytjie geniet, Kitty?”

      “Dit was heerlik, dankie. Ek het die hele aand net gewens dit was ek wat so lekker vakansie kon gaan hou.”

      “Jou beurt sal ook nog kom,” glimlag Elizabeth. Sy en Kitty het saam hier op Doringlaagte skoolgegaan en al die jare goeie vriendinne gebly.

      “Ons is nie almal ewe gelukkig nie,” sê Ralie Vermeulen speels vir Elizabeth. “Jy moet maar vir ons minderbevoorregtes alles kom vertel as jy terugkom. Ek hoop die rus doen dokter Herman goed. Ná al die jare verdien hy ’n lekker lang vakansie.”

      Sy bedoel natuurlik ek en Mamma verdien dit nie, dink Elizabeth, maar sy bedank die matrone ewe stemmig. Ook sy is vanaand in ’n besonder toegeeflike bui!

      Hugo draai na matrone Vermeulen en sê: “Ek moet nog ’n draai by die hospitaal gaan maak. Wil jy en Kitty nie sommer saam met my ry nie?”

      “Dankie, dit sal baie gaaf wees, dokter Slabbert,” antwoord sy sonder aarseling. “Dokter Roux het gesê hy sal ons terugneem, maar as jy in elk geval hospitaal toe moet gaan …”

      “Ek moet gaan,” verseker hy haar koel. “Dit sal nie moeite wees nie.”

      Die man kan by tye so ongeërg klink, dink Elizabeth. Dis asof dit geen verskil aan hom maak of hulle ry en of hulle bly nie – wat seker ook die geval is. As Hugo net één maal verlief kon raak, behoorlik verlief kon raak, en liefs op ’n meisie wat nie eens na hom wil kyk nie, sal hy miskien ook mens word. Maar as hy die dag verlief raak, sal dit seker op ’n masjien soos matrone Vermeulen wees, met sy emosies deeglik onder beheer. En of Hugo daarvan bewus is of nie, Ralie Vermeulen is besig om haar web vir hom te spin.

      Hulle gesels hiervan en daarvan totdat Kitty, wat die meeste van die tyd in stilte na hulle geluister het, impulsief vir Hugo sê: “Ons was almal so verbaas om te hoor die nuwe dokter is ’n vrou. Het Dokter haar al ontmoet?”

      Elizabeth hou haar asem op.

      “Nog nie,” antwoord Hugo koel. “Maar ons nuuskierigheid sal seker gou bevredig word.”

      Kitty bloos verleë, bewus van die matrone se bestraffende blik.

      “Dis maar net menslik om nuuskierig te wees,” sê Elizabeth liggies, maar Hugo maak of hy haar nie hoor nie. Sy vriendelikheid het verdwyn; hy is skielik weer die koel, saaklike dokter.

      “Tot siens, Elizabeth,” sê hy en steek sy hand na haar toe uit. “Geniet die vakansie.”

      Dan verdwyn hy tussen die gaste saam met die matrone en ’n blosende Kitty.

      “En waaroor het jy en Hugo so druk staan en gesels?” vra Arrie du Randt langs Elizabeth. Arrie boer in die distrik en hy en Boet is boesemvriende.

      “Sommer hiervan en daarvan,” glimlag sy.

      “Sluit hiervan en daarvan die nuwe dokter in?” vra hy nuuskierig.

      “En waarom stel jy in die nuwe dokter belang, Arrie? ’n Sterk, gesonde kêrel soos jy?” vra sy streng, maar met vonkelende oë.

      “Ek kry darem partymaal verkoue,” sê hy pateties.

      Elizabeth lag heerlik: “Solank jy net nie jou hart breek nie, Arrie..”

      “Dink jy daar is gevaar voor?” vra hy gretig. “Ek bedoel, as ’n man nou geïnteresseerd is in die vrou en nie in die dokter nie. Kan … kan jy nie vir my ’n idee gee wat om te verwag nie?”

      Sy skud haar kop glimlaggend.

      “Ek het nie die vaagste benul nie. Sy is nog jonk, dis al wat ek weet.”

      “Wat sê jou pa?”

      “My pa was in haar getuigskrifte geïnteresseerd, nie in die kleur van haar oë nie,” antwoord sy gemaak streng.

      “Dan sal ek maar geduldig moet wag,” sê Arrie. “Jammer sy is nie veearts nie, nè – dan kon ek haar al om die ander dag op Oupossie gehad het. Maar toe maar, ek sal ’n plan maak.”

      “Arrie, jy praat nou sommer groot!”

      “Ja, dis waar,” erken hy. “Dis die gedagte aan ’n nuwe gesig hier op ons ou dorpie wat my so opgewonde maak. Jy weet, ek word nie jonger nie. Dis tyd dat ek aan die toekoms begin dink.”

      “Hier is genoeg oulike meisies op Doringlaagte om van te kies.”

      “Oulike meisies, ja, maar niemand wat ou Arrie se hart vinniger laat klop nie.”

      “Jy het te uitsoekerig geword. Dis reeds ’n teken van gevorderde jare!”

      Later stap sy en Arrie na haar ouers toe sodat hy van hulle afskeid kan neem. Herman Truter sit sy arm om sy dogter en kyk glimlaggend af na haar.

      “En toe, was dit lekker om weer al die ou vriende te sien?”

      “Dit was baie lekker. Ek dink net dokter Karin de Wet se ore tuit seker vanaand.”

      “Dit wil ek glo. Dit het beslis die klomp weer iets gegee om oor te gesels. Ek het gewonder: was dit waaroor jy en Hugo netnou gesels het?”

      Sy glimlag ondeund.

      “Ek het probeer, maar Hugo het weggeskram. Dit het darem nie gelyk of my tergery hom juis ontstel nie.” Haar pa antwoord nie en ná ’n rukkie vervolg sy: “Ek sal nou nie graag my vakansie daarvoor wil prysgee nie, maar ek sou tog baie graag die volgende paar weke hier op Doringlaagte wou wees.”

      Hoofstuk 3

      Karin de Wet het laat op ’n Vrydagmiddag op Doringlaagte aangekom. Haar eerste indruk is van vaal huisies, stowwerige strate en kaalvoetkinders wat op die sypaadjies speel. Sy hou by die eerste garage stil om uit te vind waar die hotel is waar dokter Truter voorlopig vir haar plek bespreek het. Terwyl sy wag, kom ’n groot swart motor uit die teenoorgestelde rigting aangery en hou regoor haar stil. Dadelik spring ’n petroljoggie vorentoe.

      “Maak maar vol, Jim.”

      “Maak so.” Hy is reeds besig by die petrolpomp. “ Water? Bande?”

      “Asseblief. En maak gou, ek is haastig.”

      Jim roep ’n ander petroljoggie wat ’n entjie weg besig is om ’n band op te pomp en hy los alles net so om te kom hand bysit. Terwyl sy wag, loer Karin na die man wat so ’n beroering by die petrolpompe kan veroorsaak, maar hy is besig om ’n aantekening in sy sakboekie te maak en sy kan net sy donker hare en sterk profiel sien. Skielik kyk hy op en ’n paar koel bruin oë betrag haar nuuskierig. Hulle kyk ’n oomblik na mekaar, dan draai hy ongeërg sy kop weg, skakel sy motor aan en ry weg.

      Die hotel is haar te wagte en haar bagasie word dadelik na haar kamer op die eerste verdieping geneem. Die man by ontvangs sê dokter Roux het gevra dat sy asseblief dadelik moet laat weet wanneer sy aankom, en bied aan om sy nommer vir haar te skakel.

      Sy aarsel ’n oomblik. Sy

Скачать книгу