Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit страница 5

Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit

Скачать книгу

      Hy draai die slinger van die telefoon, tel die gehoorbuis op en gee ná ’n rukkie die dokter se nommer. Karin glimlag. Sy het vergeet daar is nie oral outomatiese sentrales nie.

      Dit is mevrou Roux wat die telefoon beantwoord.

      “Goeienaand,” sê Karin. “Dit is Karin de Wet wat praat.”

      “O, goeienaand, Dokter.” Mevrou Roux se stem klink heelwat hartliker. Sy het seker gedink dis ’n pasiënt wat met etenstyd bel. “Ons was jou die hele middag al te wagte.”

      “Ek het nou net gekom – ek was nog nie eens in my kamer nie.”

      “Dan sal ek jou nie lank hou nie,” gaan die vriendelike stem voort. “Ons wou net hoor of jy nie vanaand by ons wil kom eet nie. Daar is tog seker ’n paar dingetjies waaroor jy en Isak wil gesels en môre is Saterdag, dan sal daar nie veel kans wees nie.”

      “Baie dankie, ek sal graag kom.” Sy het nie uitgesien na die ete alleen in die hotel nie, veral nie op die eerste aand nie. “Ek sal net graag gou wil bad – tensy julle haastig is om te eet.”

      Die vrou lag.

      “Bad maar lekker – Isak is nog by die hospitaal. Ek sal my seun stuur om jou so oor ’n halfuur te kom haal.”

      Opgebeur sit Karin die gehoorbuis terug. Mevrou Roux klink vriendelik en sy sien uit daarna om haar te ontmoet. Dit klink ook asof dokter Roux-hulle besig is en bly sal wees om ’n bietjie hulp te kry.

      Ná ’n warm bad voel sy weer soos ’n nuwe mens en sy doen moeite met haar voorkoms. Sy borsel haar donker hare tot hulle blink en grimeer liggies. Dan maak sy ’n enkelstring pêrels om haar nek vas en staan van die spieël af terug om die effek te bestudeer.

      Nee, sy lyk piekfyn.

      Daar word aan die deur geklop en haastig gryp sy haar ligte woljassie voor sy oopmaak.

      “Kosie Roux is hier om die dokter te kom haal!” kondig die bediende aan.

      “Dankie, ek kom,” sê sy en glimlag effens geamuseerd. Niemand het haar nog as “juffrou” aangespreek nie. Dit is “dokter” voor en “dokter” agter, baie formeel en korrek, byna asof hulle trots is op die onderskeiding wat hulle te beurt val om haar te kan huisves.

      Kosie Roux is ’n blonde seun van omtrent agtien jaar, lank en lomp en nog ’n bietjie onseker oor wat hy met sy hande en voete moet aanvang. Maar hy het ’n aantreklike grinnik, sy handdruk is ferm en sterk, en hy is duidelik tuis agter die stuur van sy pa se motor.

      Die voordeur van die Rouxs se huis staan oop en die lig skyn warm en vriendelik na buite. Mevrou Roux kom haar tegemoet en sy neem haar hand in albei hare terwyl sy ondersoekend in haar gesig kyk.

      “Jy lyk of jy nog op die skoolbanke moet sit,” sê sy glimlaggend. “Hoe kan jy dan al ’n dokter wees?”

      “Goeienaand, mevrou Roux,” groet Karin, en sy weet dat sy baie van die groot, blonde vrou gaan hou. “Dis maar net die lig wat so vleiend is.”

      “Moenie glo nie. Geen lig kan my gesig meer vlei nie. Maar kom in. Ek verwag Isak darem nou enige oomblik.”

      “Is hulle baie besig?”

      “Hulle is maar altyd besig, maar dit het die afgelope week besonder druk gegaan. Ek het gehoop Hugo sou ook vanaand saam met ons kon eet, maar hy moes weer uit in die distrik en sal seker eers laat terug wees. Dis ook feitlik ’n saak van onmoontlikheid om twee dokters gelyk aan dieselfde etenstafel te kry. Glo my, ons het al baie probeer.”

      “Ek weet,” glimlag Karin. “My pa is ook ’n dokter.”

      “So?” sê mevrou Roux belangstellend. “Nou begryp ek, maar ek sal sowaar nooit ’n dogter van my toelaat om dokter te word nie.”

      Sy sê dit op so ’n manier dat Karin nie aanstoot kan neem nie. Maar sy is nie lus vir ’n debat oor die onderwerp nie en vra dus belangstellend: “Is Hugo die ander vennoot? Sy van het my vir die oomblik ontgaan.”

      “Ja, Hugo Slabbert. Ek wou graag gehad het jy moet hom ook vanaand ontmoet, maar hy het darem belowe om hierlangs te kom as hy betyds terug is. Sit, Karin – jy gee mos nie om dat ek jou Karin noem nie, nè? – en maak jou tuis. Ek wil net gou kombuis toe gaan.”

      Terwyl sy alleen in die sitkamer is, kyk Karin met belangstelling om haar rond. Dit is seker ’n taamlik nuwe huis, besluit sy, want die vensters en ligte is modern. Terselfdertyd skep die breë vensterbanke en kosyne en hoë plafon die indruk van stewigheid en ouderdom, en sy dink dat sy lanklaas so ’n aantreklike vertrek gesien het. Die stinkhoutmeubels is pragtig, die kamer is vol herfsblomme en die groen volvloermat skep ’n rustige atmosfeer. Die hele vertrek getuig van goeie smaak.

      “Ek het die vertrek sit en bewonder terwyl jy weg was,” sê Karin toe haar gasvrou terugkom.

      “Dis ’n ou huis wat ons laat verbreek het. Die meeste mure het bly staan, maar dit was ook omtrent al. Maar kom, terwyl ons vir Isak wag, skink ek solank vir ons elkeen ’n glasie sjerrie.”

      Karin het net die glasie by haar geneem toe hulle ’n motordeur buite hoor klap en ’n paar oomblikke later kom Isak Roux die sitkamer binne.

      “Mag, maar ek is honger,” sê hy met die intrapslag. “Ek hoop die kos is klaar.”

      “Die kos is klaar,” antwoord sy vrou kalm. “Karin, dis my man, soos jy seker geraai het. Dokter De Wet, Isak.”

      Dokter Roux kyk haar ’n oomblik onseker aan, dan stap hy met ’n uitgestrekte hand na haar toe en sê glimlaggend: “Welkom in ons midde, Dokter. Ek hoop jy is taaier as wat jy lyk.”

      Sy glimlag.

      “Heelwat taaier – die lewe het my al goed gebrei. As ek môreoggend my werksklere aanhet, lyk ek ook heeltemal anders.”

      Isak Roux skink vir homself ’n glasie sjerrie.

      “Ek is bly om dit te hoor. Ons sal jou sommer dadelik in die werk moet steek. Ons het gewoonlik nie Saterdagmiddae spreekure nie, maar in die oggende gaan dit baie druk. Baie mense uit die distrik kom die naweek dorp toe en maak dan sommer van die kans gebruik om die dokter te kom sien. Dis die werkers se vry dag, die skoolkinders is tuis …”

      Sy luister belangstellend.

      “Ek verstaan. Dis die soort dag waarna ’n mens nie juis uitsien nie.”

      “Saterdagmiddag is daar darem gewoonlik kans vir tennis of gholf,” sê hy laggend. “Dit vergoed vir die oggend se gejaagdheid. Ongelukkig – of gelukkig – weet ’n mens nooit vooraf of jy die middag los sal wees nie.” Hy hou sy glasie omhoog. “Ons drink op jou, dokter De Wet.” Hy neem ’n slukkie en vra: “Speel jy tennis of gholf?”

      “So ’n bietjie van albei.”

      “Dan kan jy gerus môremiddag saam met ons kom tennis speel.”

      “Dankie, dit sal gaaf wees,” sê sy dadelik.

      Hulle gesels nog ’n rukkie, dan is dit tyd vir ete. Karin, wat die dag nie veel geëet het nie, val smaaklik aan die lekker kos weg.

Скачать книгу