Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit страница 6

Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit

Скачать книгу

een en dikwels drie, vier per dag.”

      Karin se oë rek. Sy het gedink daar is miskien drie, vier plaasbesoeke per week.

      “En hoe word die werk ingedeel?” vra sy.

      “Ons maak beurte, sover dit prakties moontlik is. Maar dikwels is een van ons besig met ’n bevalling of ander dringende werk en dan moet iemand anders maar jou beurt neem.” Hy glimlag. “Die man wat nog sy spore verdien, kry natuurlik maar die meeste plaasritte.”

      “Ek verstaan.” Sy glimlag ook effens. “So moet dit ook wees. Ek hoop net ek kan ’n goeie kaart van die distrik in die hande kry, anders sal ek mos nooit my pad kry nie.”

      Isak Roux gooi sy kop agteroor en lag heerlik.

      “Ons sal vir jou rofweg ’n kaart kan teken en die belangrikste paaie daarop aandui; verder sal jy maar self jou pad moet vind. Almal verdwaal gruwelik aan die begin, maar daar is gewoonlik iemand naby om jou weer reg te help.”

      “Die plaasritte sal iets nuuts wees,” sê sy kalm. “Maar ek het hierheen gekom om nuwe ondervinding op te doen.”

      Die dokter kyk goedkeurend na haar, maar voor hy kan praat, sê mevrou Roux, wat byna in stilte na hulle geluister het: “Besit jy ’n rewolwer, Karin?”

      Karin kyk effens onseker na haar. “Ja,” erken sy.

      “Neem dit altyd saam met jou as jy in die distrik uitgaan.”

      “Is dit regtig nodig?” Karin kyk fronsend van haar na dokter Roux.

      “Ek weet nie,” sê Isak Roux. “Ek het in al die jare nog nooit ’n rewolwer nodig gehad nie. Maar dit is miskien ’n goeie plan – veral aan die begin.”

      Hy sê nie reguit ‘omdat jy ’n vrou is nie’, maar sy bedoeling is duidelik. Karin neem egter nie aanstoot nie. Sy verwag nie spesiale toegewings of voorregte omdat sy ’n vrou is nie – inteendeel, sy sal beledig voel – maar in dié geval sal dit nie ’n skande wees om ’n rewolwer saam met haar te neem totdat sy die wêreld eers ’n bietjie verken het nie.

      Dokter Roux moes ’n rukkie ná aandete weer uit om ’n pasiënt te besoek, maar sy vrou het aangehou dat Karin nog ’n bietjie by haar moet kuier.

      “Dis nog te vroeg om te gaan slaap,” sê sy. “En jy wil tog nie alleen daar in die hotel gaan sit nie. Ek is ook alleen – Kosie het gaan kuier – so hou my maar geselskap tot Isak terugkom.”

      Karin was heeltemal gewillig om te bly. Die lekker ete en die gesprek oor haar nuwe werk het haar haar moegheid laat vergeet en sy voel nou te opgewonde om aan slaap te dink.

      Marie het haar breiwerk uitgehaal en hulle het heerlik gesels – of liewer, Marie het gesels terwyl Karin luister, met net af en toe ’n vragie om haar aan te moedig.

      “Ons het ’n baie mooi, moderne hospitaaltjie,” sê Marie trots toe Karin haar daaroor uitvra. “Ongelukkig is dit reeds weer te klein om in die behoefte te voorsien, maar die oorspronklike planne is opgestel met die oog op moontlike uitbreiding en ons hoop om binne ’n jaar nog met die aanbouery te begin. Daar is onder andere ’n kraamafdeling, ’n kindersaal en ’n goed toegeruste operasieteater – daarvoor het Herman Truter gesorg. En pasiënte kom van heinde en verre – te veel om met gemak te behartig.”

      Karin luister gretig, haar oë blink van belangstelling. Dan val iets haar by. Daar is die hele aand nog nie ’n woord oor die ander vennoot gerep nie.

      “Vertel my iets van dokter Slabbert,” vra sy. “Jy het die hele aand nog niks oor hom gesê nie.”

      “Dit was opsetlik,” sê Marie glimlaggend. “Ek het gedink jy moet maar jou eie gevolgtrekkings oor Hugo maak.”

      “Vertel asseblief, ek is nou baie nuuskierig.”

      “Hugo is die jongste van die drie vennote – hy is ’n bietjie langer as vier jaar op Doringlaagte. Hy is so twee-en-dertig jaar oud, ongetroud, en ’n baie goeie chirurg. Hy en Herman Truter het al die operasies gedoen – Isak is nie ’n chirurg nie. Hugo het die reputasie dat hy ’n vrouehater is en die jong meisies probeer tevergeefs hulle strikke vir hom stel. Sy werk kom eerste en alles anders is ondergeskik.” Met ’n ondeunde glimlaggie eindig sy: “Die res van die prentjie sal jy maar self moet inkleur.”

      “As hy regtig ’n vrouehater is, verwelkom hy seker nie ’n vrouedokter hier op Doringlaagte nie,” sê sy en haar stem is koeler as wat sy bedoel het.

      Net toe klap ’n motordeur buite en haastige voetstappe word in die tuinpaadjie gehoor.

      “Miskien is dit nou Hugo,” sê Marie Roux kalm en gespanne wag Karin om te sien of sy reg is.

      Hoofstuk 4

      Daar word liggies aan die deur geklop en sonder om op ’n antwoord te wag, kom iemand die huis binne.

      “Mag ek maar inkom?” vra ’n lang donkerkopman in die deur van die sitkamer. Met ’n vreemde gevoel van opwinding herken Karin die man wat sy laat die middag by die garage gesien het.

      “Kom in, Hugo,” nooi Marie Roux vriendelik terwyl sy van die rusbank af opstaan. “Ek het begin wonder of jy nog hier sal aankom. Jy is net betyds vir ’n lekker koppie koffie. Maar kom, laat ek jou eers aan dokter De Wet voorstel. Dit is dokter Slabbert, Karin.”

      “Goeienaand, dokter Slabbert.”

      “Goeienaand, dokter De Wet.” Hugo Slabbert se stem is bruusk maar nie onvriendelik nie, maar daar is nie ’n flikkering van herkenning in die koel bruin oë nie. Sy handdruk is sterk, sy blik deurdringend. Hy kyk net ’n oomblik af in haar oë, maar sy voel dat hy in dié een oomblik alles – van haar kortgeknipte swart hare en rooi lippe tot haar hoëhakskoene – raaksien.

      “Sit, Hugo,” nooi mevrou Roux. “Kom jy nou eers terug?”

      Hy gaan sit in een van die diep stoele en strek sy lang bene gemaklik voor hom uit.

      “Ek was net gou by die hospitaal aan. Is Isak nog nie tuis nie?”

      “Ek verwag hom enige oomblik. Het jy al iets geëet, of kan ek vir jou spek en eiers bak?”

      “Koffie en beskuit sal gaaf wees, dankie, Marie.”

      “Gesels julle twee dan ’n bietjie, ek gaan net gou die koffie maak.”

      ’n Rukkie nadat sy uit is, is daar stilte in die vertrek. Dan draai Hugo Slabbert na Karin en sê beleefd: “Ek hoop jy het ’n voorspoedige reis gehad?”

      “Baie voorspoedig, dankie. Dit was ’n lieflike dag om te ry.”

      Weer kom daar ’n stilte wat sy vasbeslote is om nie te verbreek nie. Intussen wonder sy of hy haar regtig nie herken het nie, of maar net uit pure moedswilligheid voorgee hy het nie. Die stilte wil net ongemaklik word toe hy skielik opstaan en na ’n groot vaas krisante toe stap wat op ’n lae tafeltjie staan. Liggies, byna liefkosend raak hy aan die blomme en buk vorentoe om aan hulle te ruik.

      “Is Marie se krisante nie pragtig nie?” sê hy.

      “Hulle

Скачать книгу