Die Jongste Meisie in Maasdorpskool. Stella Blakemore

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore страница

Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore Maasdorp

Скачать книгу

      

title.jpg

      Die jongste meisie in Maasdorpskool

      Kan ons ’n petisie opstel om die boeke weer in druk te kry? Só laat weet ’n boekwinkelbestuurder in ’n dringende e-pos. Dis Meimaand 2001, en ek, my joernalis-sus Hannelie en Jomarié Dick werk saam aan ’n storie wat ons na aan die hart lê: ’n artikel vir die tydskrif Insig se Julie-uitgawe oor die jeugboekskrywer Stella Blakemore en haar immergewilde kosskoolreekse Maasdorp en Keurboslaan (onder die skuilnaam Theunis Krogh).

      In ’n kort advertensie op die webtuiste LitNet nooi ons lesers om hulle herinneringe aan onder andere die Kobieboeke per e-pos aan te stuur. En die reaksie is verstommend. In brief ná brief kom die belydenisse: “Ek het die Maasdorpboeke verslind!”. “Dit het my so lief gemaak vir lees dat dit deesdae my ultimate drug is.” Talle is nie skaam om te erken dat die boeke verslawend was nie. Sommige erken selfs dat hulle vandag nog skelm ‘terugsluip’ na die Maasdorpwêreld. “Ek wou ook soos hulle presteer, iets bereik – van geweet wees.” “Maasdorp het gehelp om ’n paar geslagte Afrikaanse lesers lief te maak vir lees.” “Ons is ’n groep vriendinne wat beplan om al die Maasdorp en Keurboslaan boeke saam te neem ouetehuis toe!”

      “Ek dink dat die balans tussen enersyds avontuurlike kattekwaad en andersyds pligsbesef, dissipline en hoë standaarde hetsy in spel of akademie of musiek, wat tog in die reekse uitgebeeld word, op my ’n onuitwisbare indruk gelaat het.” “Vandag weet ek dat daar lank nie meer sulke mense bestaan nie – maar ’n mens kan seker maar bly hoop.” “Ek sal my oogtande gee om die hele reeks iewers te kry en dit eendag vir my kleindogter te kan gee.”

      Uit die navorsing vir die artikel blyk dit duidelik dat die blywende waarde van Blakemore se werk dikwels oorskadu word deur die nostalgie waarmee dit omsluier is, maar dat dit ’n reuse-impak gemaak het, is onbetwisbaar. Ondanks kritiek staan Stella Blakemore steeds bekend as een van dié jeugboekskrywers wat Afrikaanse kinders laat lees het met ontvlugtingsleesstof van die hoogste gehalte. Die verskyning van die Insig-artikel, wat die drie van ons aangepak het as ’n huldeblyk aan die grootliks onbekende vrou agter ons gunsteling jeugtydstories, het bygedra om die vlam van belangstelling in Stella se werk weer aan te blaas. Maar die boeke is haas onbekombaar en is besig om versamelaarsitems te word. Uit alle oorde kom die versugting: is daar nie dalk die moontlikheid dat die Maasdorp-reeks heruitgegee kan word nie?

      Einde 2003 kom die goeie nuus: Human & Rousseau beplan om ’n Afrikaanse Retro Reeks uit te gee ná baie jare se talle versoeke. En dit bring ons dus weer by die vraag: wie WAS die enigmatiese vrou agter die Maasdorp-reeks wat vandag nog soveel emosie ontlok?

      Stella Blakemore kan beskryf word as ’n wêreldburger by uitstek en haar lewe was interessant genoeg om self ’n boek of twee vol te maak. Blakemore is op 13 April 1906 in ’n “hensopper-tentjie” naby Koppies in die Vrystaat gebore. Haar ma was ’n musiekonderwyseres en Boeremeisie, haar pa, kaptein Percy Blakemore, ’n offisier in die Britse leër. Hy verlaat sy vrou en kind vroeg (Stella was slegs vier jaar oud) om ’n beroepskaartspeler in Engeland te word.

      Stella was van jongs af op kosskool, maar tog het sy nie positiewe herinnerings daaraan nie, al laat sy die kosskoollewe in haar boeke idillies klink. In ’n brief aan haar uitgewer van later jare, Jan van Schaik, sê sy dat haar kinderjare “dreary” was: “Ek hou altyd daarvan om oor lekker kinderjare te skryf, waarskynlik omdat my eie so mistroostig was. My ma het alles op aarde vir my gedoen, behalwe om ’n tuiste vir my te gee. Sy het ’n ding gehad oor kosskole en ’n meer skrikwekkende bestaan vir ’n kind is daar nie.”

      Ná haar skoolopleiding verwerf sy ’n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of Music, sy studeer opera in Italië en Duitsland, en bedryf in die jare rondom die Tweede Wêreldoorlog haar eie suksesvolle musiekskool, die Blakemore Studios, in Pretoria. Sy is reeds in 1933 in Londen getroud met die Wallieser David Owen, ’n siviele ingenieur, en saam reis hulle later die wêreld deur en trek agter sy werksprojekte aan. Hulle woon onder meer in Ghana, Ivoorkus, Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland.

      Stella het in die jare twintig in Duitsland begin skryf en haar eerste werk was ’n toneelstukkie, Die Goue Sleutel. Die meisies van Maasdorp het in 1932 die eerste keer verskyn toe Blakemore 26 was. Nog 15 boeke in die Maasdorp-reeks het gevolg, wat in ’n latere uitgawe in 12 boeke vervat is. In 1940 het die eerste van twintig boeke in die Keurboslaan-reeks verskyn. Sy het haar oupa, Theunis Krogh, se naam as skuilnaam gebruik. In totaal het sy sowat vyftig jeugverhale geskryf. Sy het al haar boeke met drie vingers op haar ou Remington tikmasjien getik.

      Alhoewel sy die grootste deel van haar lewe buite Suid-Afrika gewoon het, het sy in Afrikaans aanhou skryf en was sy tot met haar dood baie verknog aan haar Afrikaanse wortels. Baie van haar briewe sluit sy af met ’n belydenis dat sy “homesick beyond words” is. Stella Blakemore is in 1991 op 85 in Noord-Ierland oorlede. Sy het twee aangenome kinders gehad, Seline en Peter, en ses kleinkinders.

      Susan Booyens

      Februarie 2004

      1

      _____________

      In die knyp

      Kobie gooi die komberse af, steek haar vingers deur haar goue krulle en gaap. Al is dit nege-uur in die môre is die gordyne nog toegetrek, en in die bed oorkant hare is niks van die slaper te sien nie, behalwe ’n klein bondeltjie. Maar Kobie is wakker, en sy kan nie insien hoekom ander mense nog wil slaap nie.

      “Haai!” roep sy.

      Die bondel in die ander bed kreun effens en rol om.

      “Haai is in die see!” sê Elsabe ontevrede. “Is dit dan al dag?”

      “Natuurlik! Jy dink seker ek het jou die laaste paar dae van die vakansie huis toe gebring sodat jy kan lê en slaap. Haikona, ek soek geselskap!”

      Elsabe gaap.

      “Dit lyk vir my julle mense slaap nooit nie. Ons het gisteraand twaalfuur eers kom slaap en my oë voel behoorlik asof hulle vol sand is. Maar die opvoering was darem pragtig. Ek het so iets nog nooit gesien nie.”

      “Dis lekker om soos jy te wees,” sê Kobie. “Jy is ’n hele veertien jaar oud en tog is daar so baie dinge wat jy nog nooit gesien het nie. Ek wens ek het my lewe op ’n eensame plaas deurgebring.”

      “Dit dink jy maar!” sê Elsabe. “Kyk hoe swaar het ek verlede kwartaal gekry toe ek skool toe gekom het. Maar dis iets van die verlede. Nou dink ek Maasdorp is die wonderlikste skool op die aarde. O, goeiemôre, mevrou Malan.”

      Mevrou Malan kom die kamer binne en trek die gordyne weg sodat die son kan inskyn. Sy kyk ontevrede na Kobie terwyl sy Elsabe sonder ’n glimlag antwoord.

      “Goeiemôre! Gaan julle meisies nie vanoggend opstaan nie, Jacoba?”

      “Ja, Mammie,” antwoord Kobie ewe beleef. Haar ma is die enigste mens vir wie sy regtig bang is. “Ons het nou net wakker geword.”

      “Dit kon ek verwag het! Ek hou niks daarvan dat kinders van julle ouderdom saans uitgaan en dan eers twaalfuur huis toe kom nie. Jou pa bederf jou gans te veel. Dis ’n goeie ding jy en Elsabe gaan môre terug skool toe. Soos dit vir my lyk, is Elsabe al klaar net so stout soos jy. Staan nou gou op. Ek wil julle winkel toe stuur.”

      “Ja, Mammie.”

      Toe mevrou Malan uit is, slaak Kobie ’n sug.

      “In

Скачать книгу