Die Jongste Meisie in Maasdorpskool. Stella Blakemore

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore страница 5

Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore Maasdorp

Скачать книгу

is te vererg om na juffrou Cillié se praatjies te luister.

      “Dankie,” sê sy in ’n sagte maar besliste stem. “Maar ek wil liewer by Hannie slaap.”

      “Moenie verspot wees nie!” soebat Hannie.

      Sy vrees haar sussie gaan haar nog baie in die skande steek. “Ag, sy is nog ’n bietjie vreemd,” paai juffrou Cillié. “Later as sy eers die kleintjies leer ken het, sal dit beter gaan.”

      Maar juffrou Cillié sou nog besef dat mens Breggie nie so gou van haar standpunt kan laat afsien nie.

      “Ek dink Mammie wil hê ek moet by Hannie slaap,” hou die helder stemmetjie aan.

      Die gesprek word nou onderbreek, want hulle hou voor die groot skooldeur stil.

      “Los maar julle tasse hier in die voorportaal,” sê juffrou Cillié. “En kom groet juffrou Van der Westhuizen. Sy is in die kantoor.”

      Breggie kyk belangstellend rond. In die groot voorportaal staan ’n mooi rangskikking. Langs die wye trap wat na die tweede verdieping lei, is ’n pragtige gekleurde venster. Breggie kyk op na juffrou Cillié.

      “Dis ’n mooi venster,” sê sy.

      “Ja, dis ’n geskenk van een van die meisies wat jare gelede hier was. Sy is ryk en sy wou graag vir die skool iets gee omdat sy sulke gelukkige dae hier deurgebring het.”

      Breggie dink ’n bietjie oor die saak na, terwyl sy en Hannie voor die kantoor staan en wag. Sy wonder of sy ooit so lief sal word vir die skool dat sy ’n gekleurde venster daarvoor sal wil gee. Omstandighede sal nog baie moet verander voor sy sover kom. Verbeel jou om saam met ’n klomp vreemde kinders te slaap! Nee wat, aan so ’n skool sal sy beslis nie ’n stukkie glas gee nie.

      ’n Meisie van omtrent sewentien kom met die trap af.

      “En toe, Hannie,” sê sy vriendelik. “Hoe gaan dit met jou?”

      “Goed, dankie, Vera.”

      “Is dit jou sussie?”

      “Ja.”

      “Sy is beslis ’n aanwins vir die skool, met daardie groot blou oë.”

      Vera loop haastig die gang af asof sy baie te doen het. “Wie is dit?” wil Breggie weet.

      “Dis Vera de Korte. Sy is ons hoofmeisie.”

      “Ek wonder of ek van haar gaan hou,” sê Breggie.

      Juffrou Cillié, wat net toe uit die kantoor kom, hoor haar laaste woorde en lag.

      “Dit maak eintlik meer saak of Vera van jou hou of nie.” Breggie kyk die onderwyseres vyandig aan en stap die kantoor binne.

      Juffrou Van der Westhuizen kyk vriendelik op van haar skryftafel toe die twee meisies binnestap.

      “Dag, Hannie. En is dit jou sussie? Breggie, ek hoop jy gaan gelukkig wees hier by ons. Was sy al in haar kamer?”

      “Nee,” antwoord juffrou Cillié. “Ek het hulle maar eers hiernatoe gebring.”

      “Dan kan jy haar nou soontoe neem, Hannie.”

      “Goed, Juffrou.”

      “Ek het met Matrone gepraat,” sê die hoof. “Al is julle sewe oorgesit na graad tien, bly julle maar in julle ou kamer. Daar is nie plek in die graadtiens se kamer nie.”

      Hannie is hoog in haar skik met dié mededeling.

      “Is dít juffrou Van der Westhuizen?” vra Breggie toe hulle weer buitekant is. “Ek hou glad nie van haar nie.”

      “Jy moet versigtig wees wat jy sê!” soebat Hannie. “Jy is nog skaars tien minute in die skool!”

      “Ek kan dit nie help nie. Ek weet net ek gaan nie van haar hou nie.”

      “Jy is verspot!” sê Hannie ongeduldig. “Hier is my kamer. Onthou nou net, die meisies is almal ouer as jy. Moenie so baie praat nie!”

      3

      _____________

      Die graadneges se slaapkamer

      Die meisies in graad nege steur hulle nie baie aan dissipline nie. Al is sewe van hulle ook nou oorgeplaas na graad tien, maak dit nog geen verskil aan hulle doen en late nie. Hulle is nog net so uitbundig soos altyd. Toe Hannie dus die deur oopmaak, kry sy twee opgerolde kouse vol in die gesig. Hoor en sien vergaan in die groot blou-en-wit kamer.

      “Haai!” roep Hannie verskrik uit.

      Die ander dertig meisies wil hulle doodlag.

      “Mooi skoot!” skree een met ’n koddige gesiggie vol sproete. “Ek het dit eintlik vir Bettie bedoel, maar ek is seker sy gun dit vir jou.”

      Hannie gooi die kouse blitsvinnig terug en lag.

      “Julle is ’n wilde spul in graad nege. Dis darem jammer ons slimmes kan nie in ons eie kamer bly nie.”

      “Toe maar! Die graadtiens sal julle laat deurloop. Dit sal g’n week wees nie, dan soebat julle om na ons terug te kom.”

      “Waar is Kobie?”

      Die gordyne van een van die afskortings gaan oop en Kobie se nors gesiggie loer daaruit. Haar goue krulle staan penorent en sy lyk baie klein in ’n wit onderrokkie.

      “Hallo!” sê sy terneergedruk.

      “Wat makeer dan?”

      Hannie is verstom om die lewendige Kobie so te sien.

      “Alles makeer!”

      “Ja, vra haar maar!” sê Terrie. “Sy begin die kwartaal goed. Wil met niemand ’n woord praat nie! Seker te trots omdat sy nou in graad tien is.”

      Elsabe, wat besig was om uit te pak, kom haar maat te hulp.

      “Dis nie waar nie. Sy het genoeg om oor siek te lyk. Ek ook. Ons moet hierdie kwartaal so te sê sonder sakgeld klaarkom.”

      Die ander meisies kom belangstellend nader.

      “Hoekom dan so?” wil Tienkie weet wat nog haar oë afvee.

      Sy verlang altyd huis toe, maar as Kobie ongelukkig is, moet ’n mens jou eie verdriet vergeet.

      ’n Bos rooi hare verraai Tokkie se teenwoordigheid.

      “Sy het gister in die Kaap ’n vreeslike stel afgetrap,” sê sy skelm. “Ek sal nie verbaas wees as sy dalk pak gekry het nie.”

      “Moenie verspot wees nie!” sê Kobie verontwaardig. “Dis gemeen van jou om vir my te lag. Dis alles jou skuld. As dit nie vir jou neef was nie, dan was ons nie in die moeilikheid nie.”

      “Wat

Скачать книгу