Die Jongste Meisie in Maasdorpskool. Stella Blakemore

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore страница 8

Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore Maasdorp

Скачать книгу

sy het my niggie Adele by Muizenberg ontmoet en met haar oor die skool gesels. Adele was vantevore ook hier en sy was baie gek na Wessie.”

      “En wie kry ons dan miskien?” vra Kobie.

      “Yskis!”

      Terrie wys ’n ondeunde glimlag.

      Die sewe meisies wat na graad tien oorgeplaas is, kan dit nie glo nie. Hul gesigte is die ene verbasing en misnoeë. “Wat!” kry Kobie eindelik uit.

      Net Elsabe lyk hoog in haar skik.

      “Ek is bly!” sê sy.

      “Is jy van jou verstand af?” vra Kobie. “Net omdat jy met Yskis dweep, wil jy hê ons moet almal psalms van geluk sing noudat sy ons in die hande het? Dit kan tog nie waar wees nie!”

      “Dit is waar,” sê Elsabe ’n bietjie sku. “Sy het dit vir my in die vakansie geskryf.”

      “Wie het?”

      “Juffrou Muller.”

      Die brood val uit ’n hele paar hande.

      “Mag!” kry Tokkie eindelik uit.

      “Wil jy vir my sê dat Yskis vir jou geskryf het?” vra Kobie.

      Elsabe word ’n bietjie rooi. “Ja.”

      “Maar hoekom?”

      “Omdat ek vir haar geskryf het. Sy het net geantwoord.”

      “Jy is ’n wonderlike mens!” sê Hannie. “Hoe het jy Yskis so mak gekry?”

      Elsabe vererg haar.

      “Julle is verspot. Waar kom julle almal aan die idee dat juffrou Muller so kwaai is? Kobie, jy het tog self gesê sy was baie aangenaam daardie dag toe sy jou met haar motor na die orkesoefening geneem het.”

      “Ja, ek het, en ek trek dit nie terug nie, maar Yskis buitekant die skool en Yskis in die klas is twee verskillende mense! Dit was erg genoeg toe ons haar net vir wiskunde gehad het. Ek kan my nie indink hoe die lewe nou sal wees nie.”

      “Toe ek vanmiddag gekom het, het ek haar hier voor raakgeloop,” sê Tokkie. “Noudat ek terugdink, kan ek onthou daar was so ’n besonderse lig in haar oë.”

      “Ag, onsin!” sê Elsabe. “Julle maak julle verniet bang. Ek het nog nooit met juffrou Muller moeilikheid gehad nie.”

      “Nou ja, ek het!” sê Terrie nadruklik. “Eenkeer het my suster vir my ’n soort salf gegee om hierdie aaklige sproete mee weg te neem. Die eerste maal wat ek dit gebruik het, het my gesig vel-af gegaan en toe Yskis daarvan hoor, het sy die salf gevat en ek het dit nooit weer gesien nie.”

      “Jy behoort bly te wees!” sê Elsabe. “Jy kon tog nie aanhou om die vel van jou gesig af te brand nie!”

      “Wat ek graag wil weet, is wat het van daardie buisie salf geword, dis al!” sê Terrie op ’n suggestiewe toon. “Sy’t g’n reg gehad om dit te hou nie. Sy het dan nie eens sproete nie.”

      “Ja-nee,” sê Kobie. “’n Sproet sou nooit op haar kon bestaan nie. Die arme dingetjie sou doodgaan van skrik.” Breggie stoot aan Hannie se arm.

      “Het jy klaar geëet?” vra sy. “Ek het. Kom ons loop.”

      “Sjuut!” sê Hannie.

      “Ja, maar hoekom moet ons hier bly sit as ons klaar geëet het?”

      “Bly tog stil! Wat makeer jou vandag? By die huis staan jy nie sommer op as jy klaar is nie. Hoekom wil jy dit hier doen?”

      “Ek ken nie een van hierdie meisies nie en hulle praat bog. Ek kan nie sien hoekom ek na hulle gebabbel moet sit en luister nie.”

      Hannie kyk op om te sien of die ander gehoor het, maar gelukkig is hulle te besig om juffrou Muller te bespreek.

      “Jy kan nie sommer maak soos jy wil nie,” sê sy vir Breggie. “Na die ete moet jy altyd wag tot Vera gedank het.”

      Breggie skuif haar stoel.

      “Ek dink die skool is ’n vreeslike nare plek!” sê sy bitter. “Ek wens ek het nooit hierheen gekom nie. Wat gaan ons nou doen?”

      “As ons klaar uitgepak het, kan ons doen wat ons wil.”

      “Dan kan ek en jy lekker gaan speel.”

      “Nee, jy moet liewer die ander kleintjies leer ken. Ek sal jou speelkamer toe vat.”

      “Nee, ek wil hulle nie ken nie.”

      “Maar jy moet, anders sal jy niemand hê om mee te speel nie.”

      “Ek gaan met jou speel.”

      “Ja, maar jy kan nie altyd by my bly nie. Die ander kinders in my klas sal nie daarvan hou nie. Jy is nog te jonk.”

      “Dis niks!” sê Breggie. “Noudat ek hier is, sal jy jou tog nie oor hulle bekommer nie.”

      Hannie sug.

      “Moenie so kinderagtig wees nie! Jy kan mos nie verwag dat ek al my maats moet prysgee nie. Jy moet jou eie maats maak.”

      Breggie se onderlip bewe.

      “Mag ek dan nooit met jou praat nie?”

      Gelukkig lui die klokkie en nadat Vera gedank het, stap almal uit.

      Kobie en haar maats loop en gesels.

      “Waarheen gaan ons?” wil Tokkie weet.

      “Noudat julle in graad tien is, mag julle na die groot meisies se sitkamer gaan,” sê Terrie.

      “Nee dankie!” antwoord Kobie vinnig. “Ek gaan nie daarheen sodat die prefekte hulle neuse vir my kan optrek nie. Hulle dink mos die skool is spesiaal vir hulle gebou. Ruth word elke dag ’n bietjie erger, al is sy my suster. Verbeel julle, dis sy wat gister die telefoon beantwoord het toe daardie vroumens gebel het om my by Ma te verklik. In plaas van om stil te bly, gaan roep sy mooi my ma!”

      “Foei, dis gemeen!” sê Terrie. “Hoekom het sy so iets gedoen?”

      Kobie se gesig trek op ’n plooi toe sy haar ouer suster namaak.

      “Sy sê sy gaan my nie meer beskerm nie. Sy sê ek moet nou regtig leer om my nie langer soos ’n laerskoolkind te gedra nie.”

      “Maggies!” sê Tokkie. “Sy klink kompleet soos ’n onderwyseres!”

      “Ek dink prefekte is maar naar,” sê Terrie. “So gou as wat meisies in matriek kom, verbeel hulle hulle is watwonders.”

      Terrie kry ’n onplesierige gedagte.

      “Eendag sal ons ook in matriek wees!” sê sy treurig. “Kyk, ek is byna vyftien. Nie te lank meer nie, dan loop

Скачать книгу