Die Jongste Meisie in Maasdorpskool. Stella Blakemore

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore страница 6

Die Jongste Meisie in Maasdorpskool - Stella Blakemore Maasdorp

Скачать книгу

jou ma jou toe pak gegee?” vra die besproete Terrie.

      “Nee, ek wens sy het,” antwoord Kobie. “Sy het al my sakgeld teruggehou. Ruth mag vir my geld gee vir die allernoodsaaklikste goed.”

      “En ek het gesê as Kobie gestraf word, dan ek ook,” sê Elsabe. “Ek het al my geld aan my pa teruggestuur en net ’n paar rand gehou.”

      “Jy was verspot!” sê Tokkie. “Hoekom het jy so ’n lawwe ding gedoen? As jy dit gehou het, kon jy vir Kobie daarvan gegee het.”

      “Maggies! Dis waar!” Kobie klink spyt. “Jy was ’n aap, Elsabe. Ek weet regtig nie hoe ons deur hierdie kwartaal gaan kom nie.” Nou sien sy Breggie vir die eerste maal raak. “Wie is dit?”

      Tokkie begin al in die rondte dans.

      “’n Kind!” roep sy uit. “’n Lekker vet kind! Maak ons van haar sop? Of eet ons haar met melk en suiker?”

      Breggie kyk haar aan sonder vrees en sê: “Ek is nie vet nie.”

      “Bly stil!” betig Hannie haar sussie skerp.

      Die jonger kinders by Maasdorp moet hulle plek ken. Sy wil nie hê Breggie moet sommer van die begin af ongewild wees nie. Maar die ander lag oor Breggie se ouderwetse manier.

      “Hierjy! Moenie so parmantig wees nie!” sê Tokkie. “Dit lyk my jy soek ’n pak!”

      “Gee maar liewer vir Hannie pak,” sê Kobie. “Dis haar skuld dat haar sussie so bederf is.”

      “Nou toe kom!” daag Hannie haar uit. “Jy sal moet sterk wees as jy my wil pak gee.”

      Kobie het al haar sorge vergeet. Sy gryp ’n pantoffel en stamp ’n stoel uit haar pad.

      Al laggende spring Hannie weg en daar volg ’n gejaag en rumoer wat die dak laat skud.

      “Keer voor daar!” roep Kobie vir Terrie. “Vang haar!”

      “Vang haar self!” lag Terrie.

      “Toe, gou, Hannie!” Dis Tokkie se stem. “O … sy het jou! Spring oor die bed!”

      Die deur bars oop en Vera kom haastig binne. Sy is slaapkamerprefek vir graad nege. Dis nie ’n maklike taak om die klomp in toom te hou nie.

      Kobie staan bo-op ’n bed met ’n pantoffel in haar hand, terwyl Hannie plat op die vloer lê. Die ander meisies skater soos hulle lag.

      “Wat beteken dit?” vra Vera streng.

      Niemand antwoord nie.

      “Kobie, wat maak jy daar?”

      “Ek, Vera?”

      “Ja, natuurlik. Klim dadelik van die bed af. En jy, Hannie? Leer jy op die vloer swem?”

      Die ander sondebokke giggel, want Hannie is een van die beste swemmers in die skool. Sy staan op en stof haar klere af. Vera kyk die twee meisies streng aan.

      “En julle twee is nou in graad tien! Kobie, ek weet nie wat nog met jou gaan gebeur nie. Jy begin elke kwartaal so! Julle voel seker nou baie trots, nê?”

      Kobie se bruin oë vonkel.

      “Ekskuus dat ek so ’n bietjie uitgelate was, Vera,” sê sy ewe gedweë. “Ek is so bly om weer by die skool te wees. Tuis verstaan niemand my nie. Daar is ek doodongelukkig!”

      Vera kan nie help om effens te glimlag nie.

      “Ek dink hulle verstaan jou heeltemal goed! Hannie, dis g’n plek vir jou sussie nie. Neem haar na Matrone toe en kom dan terug en pak uit.”

      “Goed, Vera.”

      “Dis almal groot meisies,” sê Breggie buite in die gang.

      “Ja.”

      “En moet ek luister na alles wat hulle vir my sê?”

      Hannie lyk onrustig.

      “Nee … nie eintlik nie. Jy moet maar liewer by die jonger kinders bly.”

      “Maar daardie meisies is die enigste mense in hierdie plek van wie ek hou,” sê Breggie.

      “Dis nie vir jou om te sê van wie jy hou of nie hou nie!” maan Hannie. “Julle kleintjies is veronderstel om julle monde te hou.”

      Matrone ken kinders deur en deur. Mens kan sommer dadelik sien jy durf nie met haar speel nie.

      “Kom,” sê sy toe Hannie haar sussie voorgestel het, “ons gaan na jou kamer toe sodat ons jou goed kan uitpak.”

      “Dankie,” antwoord Breggie beleef. “Maar dis nie nodig om my na ’n ander kamer te neem nie. Ek gaan by Hannie slaap.” Matrone lag.

      “Nee, nee! Jy gaan in ’n pragtige kamer slaap saam met baie ander meisietjies van jou ouderdom. Jy weet nie hoe lekker dit gaan wees nie.”

      “Ek dink nie dit sal baie lekker wees nie,” sê die nuwe leerder, nog beleef, maar nou ’n bietjie meer beslis. “Dit sal vir my lekkerder wees om by Hannie te slaap, dankie.”

      Matrone kyk haar stip aan. Die donkerblou oë is sag en onskuldig, maar Breggie se kennetjie getuig van vasberadenheid.

      “Kom!” sê Matrone. “Hier kies ons nie ons eie kamers nie. Elkeen moet vat wat sy kry. Toe nou, Hannie! Ek en Breggie sal alleen regkom.”

      Breggie se oë volg haar suster die kamer uit. Dan kyk sy op na Matrone.

      “Mammie sal baie ontevrede wees as sy weet dat Hannie my alleen laat staan het!”

      Matrone begin nou sien hoe die saak staan.

      “Kyk!” sê sy. “Hou jy nou op om stout te wees. Hannie het haar eie maats en jy jou eie. Die eerste ding wat jy sal moet leer, is om gehoorsaam te wees. Ek ken die regte medisyne vir stout kinders.”

      “Wat?” vra Breggie benoud.

      “Dit sal jy nog sien. Daar is baie dinge … soos droë brood eet en in die hoek staan.”

      Breggie swyg ’n oomblik.

      “Ek is gewoond om in die hoek te staan,” sê sy eindelik. “Maar ek hou nie van droë brood nie.”

      Matrone kry swaar om nie te lag nie.

      “Dan sal ek weet wat om te doen. Kom nou. Ons gaan kamer toe.”

      Breggie loop met woede in haar hartjie agterna. Die skool se kanse om eendag van haar ’n gekleurde venster te kry, is maar skraal.

      Hannie stap onvergenoeg terug na haar eie kamer.

      Ek het nie gedink Breggie gaan so lastig wees nie! dink sy. Nou ja, as sy haar nie hier kan aanpas nie, sal Mammie haar aan die end van die kwartaal wegneem.

      Sy

Скачать книгу