Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk страница 4

Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

gewonder of ek nie vir rukkie by die Groenewalds in Kaapstad kan gaan kuier nie?”

      “Die Groenewalds?” vra oom Jacob.

      “Ja, Oupa. Oupa het oom Gideon en tant Helena al ontmoet, want ek het saam met Petro Groenewald op Wellington gestudeer en …”

      “Ja, ja, ek onthou nou,” val oom Jacob haar in die rede, “maar dit gaan nie help as jy nou eers aan hulle skryf en hoor of jy welkom is nie. Die verlowingspartytjie is oor twee dae.”

      “Ek het reeds geskryf en ’n uitnodiging ontvang, Oupa,” antwoord Annemarie met ’n skalkse glimlaggie. “As Oupa my net môre met die kapkar Stellenbosch toe kan neem, sal ek daar die trein haal na Kaapstad. Dan kan ek maar gaan, Oupa?”

      “Natuurlik kan jy, maar ek sal jou persoonlik by die Groenewalds besorg. Nee a, geen kleindogter van my ry sommer so alleen per trein die wêreld vol nie. Toe, gaan pak jy nou maar en kry jou portmanto’tjies gereed,” sê oom Jacob, sy stemtoon ineens goedig, byna troetelend. “En, kind, onthou my tog om jou ’n geldjie in die hand te stop. Jou ouma kla juis heeldag dat jy ’n paar nuwe rokke nodig het.”

      “Ek sal dankie, Oupa,” antwoord Annemarie en stap die vinnig binne, haastig om by tant Gertruida te kom.

      “En wat sê hy, hartjie?” vra tant Gertruida toe Annemarie oomblikke later haar kamer binnestap waar haar ouma besig is om haar klere in ’n ligbruin trommel te pak.

      “Hy het ingestem, Ouma, … dat ek by die Groenewalds kan gaan kuier,” antwoord Annemarie en slaan haar blik skuldig neer.

      “En van Kroonstad?” vra tant Gertruida vinnig.

      Annemarie byt op haar onderlip en kyk sku na haar grootmoeder. “Ek het nie die durf gehad om hom te vra nie, Ouma. Ek weet ek is vry om te doen wat ek wil vandat ek mondig is, maar ek kan Oupa nie opsetlik seermaak nie. Solank Ouma weet en verstaan, is dit mos genoeg,” antwoord sy pleitend.

      Tant Gertruida sug diep en vat haar hande op haar maag saam.

      “Dis soos jy sê, hartjie, maar ek weet nie so mooi nie. Jy sê die Groenewalds vertrek Maandag na Johannesburg om vir hulle mense daar te gaan kuier, en dat jy maklik sal kan saamry tot op Kroonstad en by jou vriendinnetjie daar sal kan kuier … maar of ek moet instem, weet ek nog nie. Daar is oorlog in die Vrystaat en Transvaal.”

      “Ouma vergeet een ding: Jean is my broer, en hy is deel van daardie oorlog. As Ouma Jean liefhet, as Ouma my liefhet, laat my asseblief toe om na hom te gaan soek,” pleit Annemarie desperaat en steek haar regterhand in ’n smekende gebaar na tant Gertruida uit.

      2

      Hartseer en verlange na haar enigste kleinseun lê vlak in tant Gertruida se oë. Sy steek haar arms na Annemarie uit en vou haar teen haar bors.

      “My kind … my arme kind,” praat sy sag, deernisvol. “Ek durf jou nie teëhou nie, maar ek kwel my oor wat met jou daar in die vreemde kan gebeur. Maar Jean is jou broer en my kleinseun, en as jy voel jy moet gaan … Ag, kind, as ek nie so vol vrese was nie.”

      Annemarie ontspan in tant Gertruida se arms, wetende dat die stryd reeds gewonne is.

      “Ek sal versigtig wees, Ouma, en boonop sal ek mos nie lank wegbly nie. Ek wil net gaan uitvind wat van Jean geword het, en dan kom ek dadelik weer terug.”

      “En jou oupa, hartjie? Gaan jy niks vir hom sê nie?” vra tant Gertruida onseker.

      “Nie nou al nie, Ouma. Sodra ek op Kroonstad aankom, sal ek Ouma-hulle dadelik laat weet,” beloof Annemarie en haal ’n pypkaneelkleurige lang rok wat van sersje gemaak is uit haar hangkas. Die kraag, skouerstrook en mouboordjies is versier met ’n roomkleurige kant oor pienk satyn en afgerond met pypkaneelkleurige koord. “Ek dink ek sal dié rokkie dra wanneer Oupa my Kaapstad toe neem, Ouma. Ek sal my hoed wat met dieselfde kleur lint versier is, dra, en my donkerbruin mantel saamneem ingeval dit koud word.”

      “Maak so, Annemarie. En kyk maar of jy nie vir jou ’n paar koel organdie- of chiffonbloesies in die Kaap kan koop nie. Hulle is so nuttig saam met ’n paar goeie rompe,” sê tant Gertruida en vroetel in haar voorskootsak. “Daarvan gepraat, kind … Hier, dis vyftig pond wat ek so in die stilligheid gespaar het. Ek sal hoor of Oupa ook vir jou vyftig pond kan gee, want ’n mens weet nooit hoeveel geld jy daar in die vreemde sal nodig kry nie.”

      “Maar vyftig pond, Ouma! Dis ’n fortuin!” roep Annemarie uit terwyl sy die geborduurde brokaat-en-satynsakkie met die geld onwillig neem.

      “Almiskie, hartjie, maar Kroonstad lê ver en gedurende die oorlogstyd is alles skaars en duur. Toe, neem nou maar die geld. Wie weet, dalk kan jy nog vir Jean ook help.”

      “Dankie, Ouma.” Annemarie probeer glimlag, maar die trane van dankbaarheid wat warm agter haar ooglede brand, laat haar hard op haar onderlip byt en sy draai haastig weg om tant Gertruida met die inpakkery te help.

      Oom Jacob hou met sy kapkar en vier perde onder ’n skaduryke boom stil en beduie met sy sweep na die ruim dorpswoning regs van hom.

      “Dis die huis van die Groenewalds, hè, sussie?”

      “Ja, Oupa. Ek het nie verwag Oupa sal so goed onthou nie, want Oupa het my nog net eenkeer hier kom aflaai. Sal ons maar afklim?” vra Annemarie en hou die voordeur van die Groenewalds se woning gespanne dop. As Petro of tant Helena nou net nie onverwags hulle verskyning maak en alles bederf nie, dink sy benoud. Sê nou hulle praat oor hulle besoek aan Johannesburg en die feit dat sy saam met hulle tot op Kroonstad sal reis? Haar oupa sal ’n toeval kry!

      “Klim af, kind, en gaan groet solank die mense,” antwoord oom Jacob, draai hom om en roep na die man wat te perd aangery kom. “Opskud, Simson! Ons moet die meisiekind se bagasie aflaai,” roep hy sy agterryer nader.

      Annemarie wag nie langer nie, stoot die traliehek oop, en drafstap in die tuinpaadjie op na die voordeur van die woning.

      “Annemarie!” roep ’n lang, skraal meisie met rooibruin hare, ’n sprinkeling sproete op haar effense spits neusie en vriendelike grysgroen oë verras uit die voordeur en omhels Annemarie. “Wêreld, maar ek is bly jy het besluit om saam met ons Johannesburg toe te reis. ’n Treinreis kan so vervelig wees, veral omdat die Britse troepe …”

      “Sjuut!” sis Annemarie, haar oë donker van skrik, en stoot Petro die huis binne. “Asseblief, Petro, my oupa mag nie weet dat ek saam met julle tot op Kroonstad reis nie.”

      “Maar hoekom nie?” vra Petro oorbluf.

      “Ek sal alles later verduidelik. Asseblief, gee net voor dat ek by julle kom kuier. Hier kom Oupa en Simson nou met my bagasie,” versoek Annemarie dringend. “Jy onthou mos nog my oupa, oom Jacob Malan, Petro?” vra sy met ongewone hartlikheid.

      “Natuurlik,” antwoord Petro, haar glimlaggie effens vaal, en steek haar hand na oom Jacob uit. “Môre, oom. Oom-hulle is mos vroeg hier in die Kaap.”

      “Dag, niggie. Ons plaasmense staan graag saam met die hoenders op, want om in die hitte van die dag te ry, is ook nie aangenaam nie. Gaan dit nog goed met jou ouers?” verneem oom Jacob.

      “Baie goed, dankie, oom. Oom-hulle kan die trommels en koffers net hier laat – een van die mans sal dit later na Annemarie se kamer toe bring. Het oom tyd om iets te drink?”

Скачать книгу