Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk страница 6

Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

van die treinwiele.

      “Kroonstad!” kom dit opgewonde van Annemarie terwyl sy haar mantel oor haar arm gooi en haar handsakkie optel. Sy sluk en probeer vir Petro glimlag, maar haar hart hamer ineens benoud in haar ore.

      “Jou mense sal hier wees om jou te kom haal, Annemarie?” vra oom Gideon besorg.

      “Ja … ja, dankie, oom. Ek het getelegrafeer dat ek kom. Baie, baie dankie dat ek saam met julle kon reis. Ek sal Petro laat weet wanneer ek teruggaan … dalk kan ons dan weer saamreis,” sê Annemarie en kom orent.

      “Maak so, Annemarie,” kom dit glimlaggend van tant Helena. “Dit was aangenaam om jou as geselskap te hê. Ek wens net dit was ons wat reeds die einde van ons reis bereik het.”

      Petro soengroet Annemarie en help oom Gideon om Annemarie se ligter bagasie uit die trein te dra.

      Op die stasieperron wemel dit van Britse soldate in rooi baadjies en ander in kakiedrag. Annemarie bly ’n paar oomblikke lank half verwilderd staan, wuif vir oulaas vir Petro en haar mense, en stap dan in die rigting van die bagasiewa aan die onderpunt van die trein.

      Eers meen sy dat sy haar net verbeel, maar dan kom sy agter dat ’n lang, blonde, Engelse offisier haar doelgerig volg. Tog probeer hy nie om haar in te haal nie.

      Wat wil hy van haar hê? wonder sy en kyk half verlore om haar rond. Waar draai Lea en haar pa? Sy het tog uitdruklik in haar telegram geskryf dat sy Woensdag sal arriveer. Het Lea dalk nie haar telegram ontvang nie?

      “Verskoon my, meneer,” sê sy aan ’n kruier wat besig is om die koffers wat afgelaai is, op sy bagasiewaentjie te pak. “Is my bagasie al afgelaai? Ek is juffrou Annemarie de Villiers van Stellenbosch-distrik.”

      “Dag, niggie. Ja, ja, moet ek die twee koffers na die wagkamer bring, of is jou mense al hier?” vra die kruier vriendelik.

      ’n Dertigtal Engelse soldate wat haar en die kruier vinnig nader, trek Annemarie se aandag af, en op daardie oomblik sluit die blonde, Engelse offisier by haar aan.

      “Annemarie! Wat ’n verrassing!” sê hy in Engels en neem haar in sy arms. “Praat Engels!” fluister hy dringend in Afrikaans, sy mond digby haar oor asof hy haar soen. “Help my. Noem my John. Praat net!”

      Vir ’n breukdeel van ’n sekonde is Annemarie deel van ’n vrees veel groter as syself. Wie is die man? Spioen? Hy praat Afrikaans soos ’n Afrikaner, ten spyte van sy Britse uniform. Hy kon Jean gewees het . ..

      “John!” val sy naam in ’n vreugdevolle uitroep oor haar lippe en haar glimlag straal haar oënskynlike blydskap. “Dan het jy onthou om my te kom haal? Ek het so uitgesien na hierdie dag.”

      Die groepie Engelse soldate fluit geamuseerd en maak tergende aanmerkings terwyl Annemarie en die Britse offisier in omhelsing bly staan, sy gesig half verskuil teen haar hoed en hare.

      “Liewe Annemarie … As jy net weet hoe ek na jou verlang het. Vandat ek jou daar in Kaapstad op die bal ontmoet het, kon ek nie ’n oomblik lank jou beeld uit my siel weer nie. Ek is verlore sonder jou …” gaan die Britse offisier hartstogtelik voort.

      “Hemel, is dit so erg?” vra Annemarie half onthuts.

      “Erger. As hulle my betrap, land ek voor ’n vuurpeloton,” praat hy in haar oor, staan tru wanneer die soldate ’n paar tree verder by die wagkamer indraai, en raap haar koffers van die bagasiewaentjie af. “Dankie, meneer, ek sal my meisie se bagasie dra. Hier is ’n fooitjie,” sê hy weer in Engels, druk ’n muntstuk in die man se hand, en begin saam met Annemarie wegstap na die hek.

      “Hou aan my arm vas en praat net! Vertel van jou pa en ma … van enigiets,” fluister hy wanneer hulle die wagte by die ingang nader en glimlag verlief in haar oë. “O, liefling, ek kan nog nie glo dat jy by my kom kuier het nie.”

      “As die oorlog net verby is … Ek kan nie wag totdat ons vir altyd bymekaar is nie, John. Hoe lank moet julle nog veg?” vra Annemarie en slaag daarin om ’n tikkie verwytend te klink.

      “Totdat die koppige Boere besef hulle is verslaan. Maar dit sal binnekort, wees, glo my. Hulle het nie meer kos of klere nie, behalwe die klere wat hulle van ons soldate steel.”

      Hulle bereik die straat voor die stasie en is vir ’n oomblik lank redelik privaat.

      “Waarheen nou, meisie?” vra John gedemp.

      “My mense het my nie kom haal nie, maar ek wil na die hoek van Plein- en Kerkstraat gaan.”

      “Dis nie ver nie. Stap saam,” beveel hy.

      “Maar jy kan nie albei my koffers dra nie!” protesteer sy. “Ek sal iemand kry om jou te help.”

      “Nee!” snerp hy. “Kom net!”

      Twee Tommies kom aangestap en John glimlag weer verlief en besing Annemarie se oë en hare in ’n liriese Engels.

      Annemarie glimlag met lippe wat nie langer enige gevoel het nie, praat met hom, maar is slegs bewus van die dawerende geklop van haar hart in haar ore en die draaiende vreesgevoel op die krop van haar maag.

      “Hier is ons – en dis naby die poskantoor,” sê John enkele minute later en dra die koffers tot net binne die tuinhekkie. “Dankie, Annemarie, baie dankie. Ek glo ons sien mekaar eendag weer.”

      “Aan die einde van die oorlog?” vra sy ongelowig.

      “Aan die einde van die reënboog,” sê hy, sy glimlag tergend, maar met ’n onverwagte erns in sy oë. Hy neem haar hand en raak dit liggies met sy lippe aan. “Tot siens, Annemarie.”

      “Tot siens … John,” groet sy, verdwaas dat sy die einde van haar vreemde avontuur bereik het en tog niks oorgekom het nie.

      Hy draai om en loop lank en lenig oor die straat in die rigting van die poskantoor, trots in elke tree en in die houding van sy skouers.

      Wie is hy? Tog nie werklik John nie … Waarom is hy hier? Hy is ’n spioen, daaraan twyfel sy nie. As hy net sy werklike naam aan haar genoem het …

      Sy sug verlangend en byt half onthuts op haar onderlip; goeiste, sy is tog nie langer ’n skooldogter wat op elke aantreklike gesig verlief raak nie! Maar John … haar Boerespioen is nie sommer net ’n mooi gesig nie. Hy is ’n man van durf en daad wat moontlik selfs op hierdie oomblik sy lewe vir die vryheid van die twee Republieke waag. As die Kakies hom net nie vang nie …

      Sy sidder en draai om, loop deur die tuinhekkie en druk dit agter haar toe. Haar koffers sal seker ’n paar oomblikke lank veilig wees, besluit sy, stap na die voordeur en klop aan.

      ’n Kleurlingvrou in ’n netjiese wit uniform en ’n frilletjiesvoorskoot en -hoed maak die voordeur oomblikke later oop, maak ’n hoflike kniebuiging en vra glimlaggend:

      “Môre, juffrou. Wie moet ek sê is hier?”

      “Goeiemôre. Ek is Annemarie de Villiers en ek kom vir juffrou Lea …” begin sy en swyg wanneer ’n lang, effens gesette vrou, geklee in ’n swart, lang rok, die ontvangsportaal binnekom.

      “Goeiemôre, juffrou. Ek is jammer, maar dokter Neethling werk tans bykans voltyds in die konsentrasiekamp. Was dit dringend?”

Скачать книгу