Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk страница 7

Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

van Lea? Is julle nuwe intrekkers?” vra tant Klara belangstellend, haar blik goedkeurend op Annemarie se organdiebloese wat met kant versier is, en die bypassende romp met die breë, versierde gordel.

      Annemarie kyk selfbewus na die hoededoos en sambreel in haar regterhand.

      “Ek het reeds Vrydag getelegrafeer dat ek vir ’n paar dae by Lea kom kuier, mevrou Neethling. Ek en Lea was saam op Wellington sy het my herhaalde kere uitgenooi om te kom kuier. Het sy nie my telegram ontvang nie?”

      “My liewe kind, dan is jý Annemarie de Villiers? Nee, meisie, ons het nie so ’n telegram gekry nie, maar dis niks buitengewoon gedurende die oorlogstye nie. Maar waar is jou ander bagasie? Nog op die stasie? Jy woon tog op ’n plaas naby Stellenbosch? Jou arme kind, jy is seker doodmoeg ná die lang treinrit,” gesels tant Klara borrelend en kyk met moederlike besorgdheid na Annemarie.

      “My koffers is net binnekant die tuinhekkie, mevrou,” beduie Annemarie en wys met haar hand na haar bagasie.

      “Noem my tant Klara, Annemarie,” versoek die ouer vrou en draai na die diensmeisie. “Jessica, laat Alfons jou help om die koffers in die vrykamer te kry.”

      “Goed, mevrou. Maar gaan mevrou nie vandag weer terug na die kamp toe nie? Mevrou het mos gesê mevrou kom net skoon klere vir juffrou Lea en meneer Nicolaas haal,” kom dit verwonderd van Jessica.

      Annemarie kyk vinnig na tant Klara, sien haar ongemaklike glimlaggie en praat gretig: “Moenie ter wille van my onnodige moeite doen nie, tant Klara. Ek … ek het ander familie op ’n plaas hier naby Kroonstad, en ek kan by hulle tuisgaan totdat ek … e … my broer gesien het. Tante weet nie dalk hoe ver is Braam Liebenberg van Swartland, se plaas van die dorp af nie?”

      “Braam Liebenberg?” Tant Klara frons en Annemarie kan haar vyandigheid aanvoel. “Is Braam familie van jou?”

      “Sy moeder en my pa was niggie en neef, tante. Hy is my kleinneef en my broer, Jean de Villiers, was glo sy voorman,” verduidelik Annemarie onwillig. “Tante het nie dalk gehoor wat van Jean geword het nie? Dis ter wille van hom dat ek hierheen gekom het, want ons het byna twee jaar lank nooit enige taal of tyding van hom gehad nie.”

      “My liewe kind, hoe kon jou ouers so iets toelaat? Of het Lea iets gesê van …”

      “My oupa en ouma Malan het my grootgemaak, tante, en op die oomblik weet net my ouma dat ek hierheen gekom het. Ek moes dit doen, want Jean is al wat ek het. Weet tante dalk iets van hom af?”

      Tant Klara kyk na die pleitende uitdrukking op Annemarie se gesiggie, laat haar lippe ’n woord begin vorm, maar besluit dan daarteen.

      “As jy my nie sal verkwalik dat ek so bitter ongasvry is nie, sal ek Alfons vra om jou sommer nog vanmiddag na jou kleinneef se plaas te neem, Annemarie. Swartland is skaars twee myl suid van die dorp, op die pad na Vredefort en Parys. Ek moet ongelukkig eers weer teruggaan na die kamp, want Lea help ook daar, en sy het skoon klere en goeie kos nodig. Daar is soveel siekes, soveel ellende, maar veels te min hande wat kan help.”

      “Ek wens ek kon help,” sê Annemarie medelydend.

      “Ek dink jy sal eers met jou kleinneef daaroor moet praat. Maar kom saam, dan wys ek jou solank jou kamer. Sodra jy jouself opgeknap het, sal ons saam tee drink in die voorkamer,” besluit tant Klara en stap vooruit na ’n deur wat na die gang lei.

      Aangesien sy kort voor haar aankoms op Kroonstad ’n skoon rok aangetrek het, besluit Annemarie om nie weer te verklee nie. Sy borsel haar lang hare uit en vat dit liggies bo-op haar kop saam. Nadat sy haar hande en gesig gewas het, sprinkel sy ’n bietjie van Riogaud se wit viooltjie-ekstrak op haar sakdoekie. Tevrede met die beeld wat die ovaalvormige spieël van die hangkas weerkaats, haas sy haar na die voorkamer.

      Het sy haar net verbeel, of wou tant Klara iets omtrent Jean aan haar vertel? Tant Klara het haar betyds bedink, daarom moet sy aanvaar dat dit slegte nuus is. Sy kon aanvoel dat tant Klara nie van Braam Liebenberg hou nie – waarom nie? Sy sal pleit en mooipraat, want sy moet weet wat hier aangaan. Dalk sal tant Klara tog meer lig op die saak kan werp.

      Sy stap uit die gang die ontvangsportaal binne en loop onwillekeurig stadiger toe sy ’n manstem uit die sitkamer hoor opklink. Iemand wat Engels praat – het John, die Boerespioen, dalk teruggekom? Sy hoop vuriglik hy het, maar terselfdertyd vrees sy vir sy veiligheid. Wat sou hy tog weer hier kom soek het?

      Sy gaan die sitkamer binne en bly teleurgesteld staan wanneer sy die middeljarige Engelse offisier by tant Klara gewaar.

      “Jammer, tante, as tante besoek het …” maak sy verskoning en begin wegdraai.

      “Nee, wag, Annemarie,” roep tant Klara haar terug. Sy wys met haar hand na die Engelse offisier. “Dis kaptein Norval, Annemarie – juffrou Annemarie de Villiers, kaptein,” stel sy Annemarie en die offisier aan mekaar voor.

      Die offisier knik styf en kyk afwagtend na tant Klara.

      “Ek het kaptein Norval verseker jy is ’n vreemdeling op Kroonstad, Annemarie, maar hy beweer dat jy ’n Boerespioen gehelp het om al die militêre telegramme uit die poskantoor te steel. Dit beteken natuurlik dat die Boeremagte presies weet wat die bewegings, getalsterkte en aanvalsplanne van die verskeie Britse magte in die omgewing is. Ek kan nie glo dat jy so iets sal doen nie, Annemarie. Ek is daarvan oortuig jy sal die kaptein die versekering kan gee dat jy nie met enige spioen saamgewerk het nie,” sê tant Klara nadruklik, ’n waarskuwende lig in haar oë

      “Hierdie jong dame is persoonlik deur my en van my medeoffisiere gesien toe sy in die geselskap van die spioen op die stasieperron rondgestap het,” kom dit grimmig van kaptein Norval.

      “O, nee, kaptein, u begaan ’n groot fout. Ek was wel op die stasie, maar ek was nie saam met ’n Boer nie. Hy was ’n Engelse offisier en sy naam is John, John Brown. Ons het heerlik gesels en hy het beloof om my weer te ontmoet. Hy was so gaaf om my koffers hierheen te dra en …”

      “Waar te ontmoet?” val kaptein Norval haar bars in die rede en kom gretig nader.

      Sy glimlag onskuldig, haar oë vonkelend.

      “Aan die einde van die reënboog, kaptein Norval,” antwoord sy bedees en bloos paslik.

      “Sulke onsin!” snerp die offisier. “U kom onmiddellik saam met my vir verdere ondervraging! Stap vooruit asseblief,” beveel hy en wys gebiedend na die deur.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами

Скачать книгу