Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk страница 5

Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

besigheid om af te handel en ek wil weer vroeg terug plaas toe.” Hy kyk na Annemarie, sy uitdrukking ineens besorg. “Jy het alles wat jy nodig het, kind? Laat weet tog maar net as jy dalk iets vergeet het.”

      “Ek sal, dankie, Oupa, maar ek is seker ek het alles ingepak. Tot siens, Oupa, en baie dankie vir al die moeite,” groet Annemarie. Sy hou oom Jacob ’n oomblik lank styf vas nadat hy haar gesoen het, en laat hom dan onwillig gaan. Liewe Oupa, dink sy skuldig. As dit net nie nodig was om hom te bedrieg nie, maar hy sal nooit toelaat dat sy die Vrystaat besoek terwyl die oorlog nog voortduur nie. Sal hy haar kan vergewe as hy eendag van haar bedrog uitvind?

      “Nou dan groet ek maar. Tot siens, niggie. Lekker kuier, Annemarie,” groet oom Jacob, draai om en stap met sware tred weg.

      “Liefde vir Ouma, Oupa!” roep Annemarie hom agterna en veg teen die warm trane wat dreig om haar oë vol te loop.

      Oom Jacob lig sy hand in erkenning dat hy haar gehoor het, maar kyk nie weer om nie. Oomblikke later maak hy die tuinhekkie agter hom toe en stap na sy kapkar.

      “Foeitog, hy is darem baie lief vir jou, Annemarie. Die meisies op kollege het altyd gesê jou grootouers bederf jou verskriklik omdat jy al is wat hulle het. Geen wonder jy trek altyd so mooi aan nie,” sê Petro en kyk waarderend na Annemarie se deftige uitrusting.

      “Hulle is goed vir my, maar soms wens ek ek was nie hulle enigste kleindogter nie,” antwoord Annemarie, haar stemtoon nog hartseer. “Oupa is soms oorbeskermend. Ek het my onderwysdiploma, maar Oupa weier volstrek dat ek gaan skoolhou. Volgens hom het ek ’n goeie geleerdheid nodig net ingeval ek eendag met ’n man trou wat my uitroei, en ek dan verplig sal wees om te gaan werk. Ek dink ek sal dit baie geniet as ek kan gaan skoolhou.

      “Is iemand ooit tevrede met sy lot?” vra Petro laggend. “Ek móét gaan skoolhou, want my broer is op die kweekskool in Stellenbosch en my jonger broertjies is ook nog op skool. My pa is net ’n bankbestuurder en hy verdien nie juis ’n fortuin nie. As my ma nie heelwat geërf het nie, sou ons nie hierdie mooi huis kon bekostig het nie.”

      “Het jy al ’n pos by ’n skool gekry?”

      “Ja, by juffrou Engela Smuts se skool vir jong meisies, maar gelukkig kon my pa haar oorreed dat ek ’n vakansie dringend nodig het ná al my jare van studie. Pappa moet om besigheidsredes Johannesburg toe gaan, en ek en Mamma het besluit dis die ideale geleentheid om by my suster te gaan kuier. Maar vertel my nou eers waarom jou oupa nie mag weet dat jy saam met ons na Kroonstad toe reis nie?”

      “Dink jy hy sal dit toelaat? Ek voel ontsettend skuldig omdat ek hom moet bedrieg, maar dis noodsaaklik dat iemand Kroonstad toe gaan om uit te vind wat van my broer geword het,” antwoord Annemarie en glimlag onseker vir die diensmeisie wat met ’n silwer skinkbord met tee en tuisgebakte koekies die voorportaal binnekom.

      “Waar sal juffrou-hulle tee drink?” vra die meisie

      “In die voorkamer, dankie, Cornelia. Dis koeler daar. Vra asseblief vir Thomas om juffrou Annemarie se bagasie na die vrykamer te neem.”

      “Goed, juffrou,” antwoord Cornelia, maak ’n kniebuiging en dra die skinkbord na ’n vertrek wat links uit die ontvangsportaal uitloop.

      Petro en Annemarie volg Cornelia na die woonkamer en Petro begin tee inskink.

      “Jou broer het mos eers op die aandelemark gespekuleer,” sê Petro aarselend terwyl sy ’n koppie tee na Annemarie uithou.

      “Ja, en dit reggekry om al sy kapitaal te verloor. Die hele Kaap het destyds daaroor gepraat,” antwoord Annemarie effens bitter. “Jean is nie die eerste of die enigste man wat al sy geld op die aandelemark verloor het nie. Hy was maar net onervare.”

      “Maar wat doen hy nou op Kroonstad?”

      “Hy was voorman op my kleinneef, Braam Liebenberg, se plaas net duskant Kroonstad. Ek wil net gaan … gaan uitvind of dit nog goed gaan met hom, want ons het byna twee jaar gelede laas van hom gehoor.”

      “Maar veg hy nie dalk saam met die Vrystaatse burgers nie?” vra Petro merkbaar ontsteld.

      “Dis ook moontlik,” antwoord Annemarie gelykmatig.

      “Maar hy kon lankal gesneuwel het! As hy twee jaar lank nooit van hom laat hoor het nie … Ag, ek is jammer ek sê sulke wrede dinge, Annemarie, maar dis oorlog en enigiets is moontlik.”

      Annemarie lek oor haar lippe en knik woordeloos met haar kop.

      “As dit die geval is, wil ek weet … dis al. Die feit dat hy nooit skryf nie, beteken nie dat hy noodwendig dood of gevange geneem is nie, want hy was nog nooit ’n gereelde briefskrywer nie. Gedurende die meer as drie jaar wat hy in Johannesburg deurgebring het, het hy net twee keer aan my geskryf, en toe weer een maal nadat hy as voorman op Swartland, Braam se plaas, begin werk het. Ek word twee en twintig, daarom kan ek eindelik self besluite neem. Ek moet uitvind wat van Jean geword het, Petro. Jy sou tog dieselfde vir jou broer gedoen het?”

      “Vanselfsprekend,” beaam Petro.

      “Dan … sal jy niks aan jou ouers sê nie? As hulle moet weet dat ek sonder Oupa se toestemming Kroonstad toe wil gaan, sal hulle weier om my saam te neem.”

      Petro glimlag gerusstellend.

      “Moenie jou kwel nie, Annemarie, jou geheim is veilig by my. Wat van nog ’n soetkoekie?” vra sy en hou die bordjie na Annemarie uit.

      “Dankie. Ons is so vroeg van die plaas weg dat daar nie tyd was vir ontbyt nie. Die koekies smaak heerlik,” antwoord Annemarie meer ontspanne en luister aandagtig na Petro se beskrywing van ’n jong kweekskoolstudent, ene Frans Hugo, wat die vorige Sondag saam met haar broer huis toe gekom het.

      Annemarie luister na die ritmiese geklikke-klak van die treinwiele op die ysterspoorlyn, haar oë op die swart, afgebrande murasie van ’n woonhuis wat duidelik deur die treinvenster sigbaar is.

      “Ek het ophou tel,” sê Petro gedemp langs haar. “Is daar nog enige plaaswonings in die Vrystaat oor?”

      Oorkant hulle vou haar vader, oom Gideon Groenewald, sy koerant toe met ’n grimmige uitdrukking op sy gesig.

      “Vandat lord Kitchener ’n proklamasie uitgevaardig het dat die Engelse die land beset en dat die Boerestryders dus as rebelle beskou word, gee die Kakies nie langer om van watter metodes hulle gebruik maak om die Boeremagte tot oorgawe te dwing nie. Maar soos president Steyn gesê het: Kitchener se gesag oor die Republieke strek net so ver as wat sy kanonne kan skiet,” vertel oom Gideon en sy glimlag is sonder humor.

      “Stil tog, Gideon,” maan tant Helena en kyk senuweeagtig na die deur van die kompartement. “Die trein is vol Britse soldate en die mure het ore.”

      “Tja, as ek jonger was …” sê oom Gideon dreigend.

      “Jy het ’n asmabors en ’n vrou en vier kinders om te versorg, Gideon. Ek glo die stryd sal binnekort verby wees en dan kan almal weer in vrede leef,” sê tant Helena met gedwonge optimisme.

      “Vrede, vrou? Dink jy Christiaan de Wet en sy burgers sal ooit vrede sluit op die Engelse se voorwaardes?” vra oom Gideon onstuimig.

      “Maar wat van die vroue en kinders in die konsentrasiekamp, Pappa?” kom dit verwytend van Petro. “Almal weet daar sterf daagliks meer vroue en kinders

Скачать книгу