Uit die Beek 2013. Attie van Wijk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk страница 9

Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk Uit die Beek

Скачать книгу

kry, en net die Here het geweet wie sy is en waar sy is. Tog is sy gebede letterlik verhoor. Hierdie man het van gebed geweet – hy was ’n bidder met ervaring. En as sy gebed verhoor word, het hy dadelik gekniel om dankie te sê. Die meisie wat aan sy gebed voldoen het, was nie net van die regte familie nie, maar sy was nog mooi ook!

      Die kortste versie in die Bybel is die een wat die meeste tyd nodig het om uit te voer: “Bid gedurig” (1 Tess 5:17). Hierdie slaaf het grootgeword in ’n huis waar die huisbaas kon verklaar: “Ek leef naby die Here,” en die slaaf kon dit bevestig, want hy het dit gesien. Hy het daardie voorbeeld gevolg. En ons huismense?

      GEBED: “Here, ek wil ook naby U leef en U voluit dien.”

      Lees vanaand in Genesis 24:33–48 hoe die slaaf van sy gebede en die verhoring daarvan getuig. Kom ons doen dieselfde!

      DONDERDAG 31 JANUARIE 2013

      Lees eers Genesis 24:49–67

      Vir botter of vir wors

      “Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad” (Gen 24:67).

      GESELSVRAAG: Wat is die mooiste romanse waarvan jy gehoor het?

      “Vir botter of vir wors” het die ou boere glo gespot as hulle die Engelse huweliksformulier gehoor het. “Ek en my man is vir beter of slegter getroud,” het een vrou verklaar, “hy kon nie beter doen nie, en ek nie slegter nie.” Elkeen wat getroud is (of was), weet dat dinge nie altyd so vlot in ’n huwelik verloop nie. Daar kom maar tye van misverstand. Ons moet elke dag daaraan werk om ons lewensmaat gelukkig te maak. Maar dis oor en oor die moeite werd.

      Isak kon nie sy eie vrou kies nie. Sy pa se bediende het dit sommer vir hom gedoen. Wat is die kans dat so ’n huwelik kon slaag? Tog lees ons dat Isak vir Rebekka liefgehad het en nooit die behoefte gehad het om ’n ander vrou by te vat nie. Sy huwelik was ’n droomhuwelik, al het Rebekka en Jakob hom ’n slag bedrieg.

      Die geheim lê waarskynlik in hierdie gesin se gebedslewe. Abraham was die ou geloofsheld, sodat hy vandag nog die vader van alle gelowiges is. Sy toegewyde gebedslewe het sy werksmense se lewe geraak – kyk maar hoeveel keer hierdie slaaf gebid het – en natuurlik sy seun en skoondogter ook. Wat sou jul huishulpe of plaaswerkers getuig as iemand hulle sou vra of hul werkgewers naby aan die Here leef? Dink jul huismense dat julle werklik gelukkig getroud is? Of is daar iets om aan te werk?

      GEBED: “Dankie dat U ons bymekaargebring het, Here. Maak ons waarlik een sodat ons u hegte span kan wees.”

      Lees vanaand in Genesis 25:1–11 hoe ’n baie ou man weer kans gesien het om te trou en met nog ’n span kinders geseën is.

      Februarie

      VRYDAG 1 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 25:12–34

      Waardeer jou voorregte

      “Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop” (Gen 25:33).

      GESELSVRAAG: Watter voorregte waardeer ons nie altyd nie?

      “Dit is ek wat daar loop, as dit nie vir God se genade was nie,” het DL Moody glo geantwoord toe iemand hom vra hoekom hy soveel tyd vir boemelaars het. Die minderbevoorregtes is vir die meeste van ons ’n pyn. Ons is nie bly as hulle by ons deure kom aanklop om hulp nie. Maar wat het ons gedoen om bevoorreg te wees? Het jy jou ouers gekies? Jou voorregte om geleerdheid en ’n goeie opvoeding te kry? Soveel seëninge wat ons onverdiend ontvang het? Gesondheid en verstand? Waardeer ons werklik ons voorregte?

      Esau het ook besondere voorregte geniet. Hy was sy pa se witbroodjie. Hy is toevallig ’n paar minute voor sy boetie gebore, en as eersgeborene sou hy dus ’n dubbele erfporsie kry, volgens die gewoonte van daardie tyd. Maar hy het dit nie waardeer nie, soos ons in vandag se gedeelte gelees het. ’n Pot sop was vir hom op daardie oomblik meer werd. Eers baie later het hy besef wat hy gedoen het en lang trane oor sy verlies gehuil.

      As jy iets het, mis jy dit nie. “Geld is nie alles nie,” sê iemand wat nog nooit in sy lewe honger was nie. Ons waardeer nie ons sig of gehoor of gesondheid voor ons dit verloor nie. Kom ons tel ons voorregte, en dank God dan daarvoor.

      GEBED: “Dankie vir al ons onverdiende voorregte, Hemelvader.”

      Lees vanaand in Genesis 26:1–11 hoe Isak dieselfde fout as sy pa gemaak het en wat die uiteinde was.

      SATERDAG 2 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 26:12–22

      Ruimte

      “Toe noem hy die put ‘Ruimte’, ‘want,’ het hy gesê, ‘nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees’” (Gen 26:22).

      GESELSVRAAG: Waar sou jy graag meer ruimte wou hê?

      “Ruimte” is die naam van ’n plaas aan die grens van die Namib-woestyn. As jy voor die plaashuis staan, strek die plaas in alle rigtings so ver as wat die oog kan sien. Dalk het die boer aan hierdie Skrifgedeelte gedink toe hy die naam gegee het. Die dorp Rehoboth, in Namibië, het sy naam ook aan hierdie geskiedenis te danke. “Die ruimte is nie ver nie,” verduidelik ’n NASA-wetenskaplike. “Jy kan met jou motor binne ’n uur daar wees, indien jy loodreg na bo kon ry. Die lagie lug om die aarde waarin die wolke beweeg, is ongeveer 17 km dik, en die ionosfeer eindig maar iets soos 80 kilometer van ons af.”

      Vir ’n trekboer is water baie belangrik, en daarom lees ons so baie van die putte wat Isak se manne gegrawe het. Die aarde was oop en het aan almal behoort, anders as vandag, en al die veeboere het maar agter weiding aan getrek. Selfs vandag is daar nog mense wat hierdie soort bestaan voer, en daarom is dit moeilik om hulle met die evangelie te bereik as jy nie saam met hulle kan trek nie.

      “In die huis van my Vader is daar baie woonplek” verduidelik die Here Jesus in Johannes 14:2. So, al besit ons nooit op aarde ’n huisie van ons eie nie, maak dit nie saak nie. Ons eintlike huis word mos reeds voorberei. Daar is genoeg plek.

      GEBED: “Dankie vir die ruimte wat U vir ons skep, Here.”

      Lees vanaand in Genesis 26:23–35 hoe mense konflik kan oplos en hoe Berseba (put van eed) sy naam gekry het.

      SONDAG 3 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Psalm 85:1–9

      Luister en ontvang

      “Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien” (Ps 85:9).

      GESELSVRAAG: Wat hoop ons om vandag in die kerk te ontvang?

      “Asseblief, Here, laat ek tog vandag niks hoor wat my lewe sal verander nie.” Wie van ons sal ooit so bid voor ons kerk toe gaan? God se woord is bedoel om lewens te verander. Ons moet dus verwag dat daar vandag iets gaan gebeur wat ons lewe kan omkeer. As ons nie verander nie, is daar groot fout. Ons het nie gehoor wat die Here vir ons wou sê nie.

      Die gebed wat hierdie psalm ons wil leer is: “Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?” (v 7). As jou lewe nuut moet word, beteken dit mos herlewing! As ons dit waag om hierdie psalm te bid, dan bid ons vir herlewing. Daarom gaan dit ook gepaard met sondebelydenis (v 3–5). Dit is net sonde wat kan keer dat die krag van God ongehinderd

Скачать книгу