Uit die Beek 2013. Attie van Wijk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk страница 10

Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk Uit die Beek

Скачать книгу

toe gekom het. Deurdat Hy as mens die sonde van die mens op Hom geneem het, het Hy ons sonde weggeneem. Nou is die kanaal oop.

      Ons kan dus met vrymoedigheid vandag kerk toe gaan en verwag dat die Here op die een of ander manier met ons wil praat. Mag sy woorde wortel skiet en ’n oorvloedige oes verseker!

      GEBED: “Praat met my, Here, verander my lewe soos U wil.”

      Lees vanaand in Psalm 85:10–14 watter wonderlike seëninge saam met herlewing genoem word. Watter van hulle het ons nodig?

      MAANDAG 4 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 27:1–13

      Seën gekaap

      “Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf” (Gen 27:10).

      GESELSVRAAG: Na watter soort seën verlang jy die meeste?

      “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien” het die Here aan Rebekka verduidelik nog voor haar seuns se geboorte (Gen 25:23). Sy het dus geweet dat Jakob die uitverkore een is, en het besondere aandag aan hom gegee. Esau was weer die rowwe buitelugkind wat sy pa se liefling was. Hoewel hy nou al twee keer getroud was, het hy nog in sy pa se tente gewoon.

      Dit het vir Rebekka die kans gegee om die hele proses te ontspoor – of dalk op die regte spoor te bring? Is sy die held of die boef in die verhaal? Dit hang af van wie se kant jy die storie beskou. Kan die Here leuens en bedrog gebruik? Of voer Hy sy planne uit ten spyte van die sonde van sy kinders?

      Ons leer egter dat die woorde van ouers ’n lewenslange effek op hul kinders het. Esau en Isak het dit as onomkeerbaar beskou. (Isak het nog 40 jaar langer geleef, al was hy teen hierdie tyd oud en blind.) Wat gaan ons vir ons kinders nalaat? Net geld? Of dalk kosbare woorde van bemoediging wat hulle hul lewe lank gaan onthou en toepas? Ons saai elke dag in hul lewe. Kom ons maak seker dat dit die regte soort saad is.

      GEBED: “Here, ons bid vir ons kinders en kleinkinders, dat hulle op u pad sal bly en u wil sal doen.”

      Lees vanaand in Genesis 27:14–29 hoe die bedrog toe verloop het en wat Jakob daardeur gekry het.

      DINSDAG 5 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 27:30–45

      Spyt kom altyd te laat

      “Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!” (Gen 27:38).

      GESELSVRAAG: Waaroor was jy nog ooit die jammerste?

      “Spyt kom altyd te laat,” sê die spreekwoord. En dit is baie waar. Elkeen van ons kan getuig van dinge wat ons gedoen en gesê het, of nie gedoen en gesê het nie, waaroor ons later spyt was.

      Esau was nou agterna spyt dat hy sy eersgeboortereg vir ’n pot sop verruil het. Sy ligsinnigheid en swak besluite het nou begin vrug dra. Daarom sien ons hierdie tragiese toneel van ’n groot man wat huil. Isak was net so spyt dat hy uit onkunde alle goeie dinge aan Jakob toegesê het en niks vir sy ander seun laat oorbly het nie. Hy het eintlik bedoel dat Esau alles moes kry, al het die Here reeds voor die kinders se geboorte anders besluit.

      Daar lê vandag vir ons allerhande uitdagings en versoekings voor. Ons moet op ons hoede wees om versigtig te praat en mooi te dink voor ons iets doen. Die skade van daardie skerp woord teenoor jou lewensmaat of kind kan jare neem om weer te herstel. Daardie een onbesonne daad kan ons ons lewe lank nog agtervolg. So baie mense het vandag ’n woord van troos of bemoediging nodig. Ons moet ons in hul omstandighede probeer indink.

      Gelukkig het die Heilige Gees in ons kom woon om ons in al hierdie moeilike sake te lei. Wees aan Hom oorgegee, sodat Hy deur jou kan werk.

      GEBED: “O Heilige Gees, help my dat ek nooit oor vandag spyt hoef te wees nie.”

      Lees vanaand in Genesis 27:46–28:9 hoe belangrik dit is om met die regte lewensmaat te trou.

      WOENSDAG 6 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 28:10–22

      God is hier!

      “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie” (Gen 28:16).

      GESELSVRAAG: Vertel van ’n keer dat jy van God bewus geword het.

      “Dit het ’n uur en ’n half van stilte in die natuur geneem, met net die Bybel oop op my skoot, voor die geborrel in my gemoed begin bedaar het en ek van God se teenwoordigheid bewus geword het,” getuig ’n kollega tydens ’n retraite. Ons is so besig met baie dinge dat ons nie werklik op een Bybelvers kan konsentreer nie. Ander dinge eis ons aandag. Maar as jy jouself dissiplineer om op een ding te konsentreer, dan praat die Here met jou.

      Jakob was op vlug in die woestyn. Hier in die stilte en die eensaamheid, met net ’n klip as kopkussing, het hy stil genoeg geword om van God se teenwoordigheid bewus te raak. Hy het nie na God gesoek nie, maar God het hom gevind. Uit genade het God die verbond wat hy met Abraham gemaak het, weer met Jakob herhaal. Dit het veroorsaak dat Jakob die behoefte gehad het om ’n volle tiende aan die Here te gee (v 22).

      Ons gaan vandag ’n baie vol dag tegemoet. Baie sake sal ons aandag verg. Maar dit is tog so nodig om elke dag ’n rukkie lank stil te word, om ons weer op God in te stel. Ons het sy leiding nodig in elke besluit wat ons moet neem. Hy wil ons gebruik om ander mense te help en te ondersteun. Ons moet op sy golflengte wees. Orals waar ons vandag gaan, is Hy ook. Luister na Hom!

      GEBED: “Here, help my om vandag op baie plekke en baie maniere van u teenwoordigheid bewus te word.”

      Lees vanaand in Genesis 29:1–14a hoe Jakob by sy eie bloedfamilie uitgekom het. Wat beteken jou familie vir jou?

      DONDERDAG 7 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 29:14b-30

      Uithouvermoë

      “Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos ’n paar dae, want hy het haar liefgehad” (Gen 29:20).

      GESELSVRAAG: Waarvoor is jy gewillig om sewe jaar te wag?

      Waarom ware liefde wag. Dit is die titel van ’n boekie wat jongmense help om weerstand te bied teen seksuele versoekings. Dit is deesdae mos mode om maar te laat gaan. Almal doen dit. Geen wonder nie daar is berigte dat die meerderheid skoolkinders seksueel aktief is en baie selfs MIV-positief is! Ons kan nie meer wag nie. Die gevolg is ook dat die huwelik al hoe minder algemeen is. Die meerderheid kinders op skool kom uit enkelouergesinne. Min kinders het die voorreg van ’n gelukkige ouerhuis om as rolmodel te dien.

      Jakob was gewillig om sewe jaar lank te wag om vir Ragel te kry, en dit het vir hom soos ’n paar dae gevoel omdat hy haar liefgehad het. Vandag se jongmense sal dit nie verstaan nie. Volgens Matthew Henry was Jakob al 84 jaar oud toe hy met Lea en Ragel getroud is! Sy skoonvader se bedrog deur die verkeerde bruid (swaar gesluier) in die pikdonker huis na Jakob te bring, het Jakob seker laat terugdink aan hoe hy self sy blinde vader bedrieg het.

      In elke besluit wat ons moet neem, moet ons nie eers vra wat ons daardeur gaan wen nie, maar wat ons daardeur gaan word. Jakob het deur bedrog die eersgeboortereg bekom, maar ’n bedrieër geword. En wat hy gesaai het, het hy weer gemaai.

      GEBED:

Скачать книгу