'n Nuwe begin. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Nuwe begin - Christine le Roux страница 6

'n Nuwe begin - Christine le Roux

Скачать книгу

      Hoofstuk drie

      Die klere wat die onbekende Gladys vir Emilia ingepak het, lyk nie bekend nie en maak geen herinneringe wakker nie. ’n Romp, bloes en baadjie. Kouse en skoene, selfs oorbelle. Sy trek in die badkamer aan en tuur na haar beeld in die spieël. Haar eie gesig lyk vir haar vreemd, maar, moet sy eerlik erken, dit kan bloot wees oor die geskeerde kop. En tog maak sy haar toiletsakkie oop en wend die grimering behendig aan. Hoekom het sy dit nie vergeet nie?

      Gerard wag vir haar toe sy uitkom. Die verpleegpersoneel kom groet en begelei hulle na buite. Sy skrik toe sy die koue lug meteens op haar wange voel.

      “Dis omdat dit bewolk is,” sê Gerard toe hy sien hoe sy terugdeins. “’n Koue front wat moontlik vir ons reën gaan bring.” Hy maak die motordeur vir haar oop. Sy herken nie die motor nie. Hy lyk ook haastig, sy gedagtes elders.

      “Met watter hofsaak is jy besig?” vra sy skigtig toe hulle ry. Sy voel veiliger solank sy nie aan haar eie situasie dink nie.

      Hy kyk vinnig na haar. Sy voel sy verbasing aan. “Die moordsaak. Die hofsaak het gister begin. Jy weet . . . Nee, natuurlik onthou jy nie meer nie. Dit het groot opspraak verwek. ’n Vrou wat haar man vermoor het. Ek verteenwoordig haar.”

      “Hoekom?” vra sy terwyl haar oë oor die bome en tuine dwaal. Oral is nuwe groen blare, irisse wat blom, rooi malvas. “Ek bedoel, hoekom het sy haar man doodgemaak?”

      Hy kyk weer na haar. “Stel jy regtig belang of maak jy net geselskap?”

      Sy stemtoon maak haar seer. “Ek wil graag weet.”

      “Jy het nooit voorheen –” Hy kug. “Sy, die mevrou Kruger, beweer hy het haar mishandel. In so ’n mate dat sy vir haar lewe gevrees en hom doodgeskiet het.”

      Sy kyk na hom, bestudeer sy profiel. “Glo jy haar?”

      “Ja.” Hy draai uit, druk ’n knoppie en ’n ysterhek swaai oop. Terwyl hy met die rylaan afry, kyk sy na die tuin. Dis pragtig uitgelê. Oral is blomme, alles groei geil.

      “Dis ’n mooi tuin,” sê sy. “So groen en welig.”

      “Ons het boorgatwater,” antwoord hy, maar sy stem is tog warmer. “Tuinmaak is my terapie.”

      Sy kyk vinnig na hom. “Het jy terapie nodig?”

      “Dis nie net –” Hy bly stil en toe hy weer praat, is sy stem neutraal en beleef. “Ontspanning is miskien ’n beter woord. Ek kry helderheid as ek in die tuin werk. Dit laat my ontspan.” Hy hou voor die huis stil, klim uit en kom maak haar deur oop.

      Sy klim stadig uit, bekyk die huis, die trap wat na die voordeur lei en ’n kliptarentaal wat tussen die blomme in die randakker na haar korrel. “Dis ’n mooi huis.”

      “Dink jy so?”

      “Ja.” Sy swaai haar hand. “Gesellig.”

      “Dis maar doodgewoon,” sê hy. Sy stem word effens skerper. “Nie juis elegant nie.”

      Sy kyk hom verbaas aan. “Dink jy regtig so? Ek vind dit mooi. Die klimplante teen die mure en . . . Dit lyk na ’n huis waarin ’n mens lekker kan leef.”

      “O, ék stem saam.”

      Sy hoor die effens sarkastiese klank in sy stem en draai haar kop. “Het ek nie van die huis gehou nie?”

      “Nee.” Hy maak die bak oop en haal haar tassie uit.

      “Hoekom nie?” Sy bly staan waar sy is en volg hom nie met die trap op nie.

      “Jy het dit te eenvoudig gevind.” Hy sluit die voordeur oop. “Kom,” sê hy en hou sy hand uit om te wys sy moet voor stap.

      Swyend haal sy diep asem in die voorportaal in die hoop dat iets, ’n reuk, bekend sal wees en iets sal wakker maak, maar dit ruik na politoer, na blomme, na niks bekends nie. “Waar is Gladys?” vra sy.

      “Sy sal later vanmiddag terug wees. Sy het gevra of sy gou winkels toe kan gaan.” Hy beduie die gang af en toe hy sien hoe sy huiwer, stap hy voor. In die deur van ’n groot slaapkamer bly hy staan. “Dis ons kamer.”

      Sy staar benieud na binne. Oor die enorme dubbelbed is ’n brokaatdeken. Die bed lê vol betosselde kussinkies. Deftige leunstoele is om ’n ronde tafeltjie gerangskik. Een lang muur is van dak tot vloer net ingeboude klerekaste. “Ek –” Sy staan agteruit. “Nee. Ek kan nie hier . . . Julle kan nie verwag ek moet ’n kamer met ’n wildvreemde deel nie.” Sy druk haar hand teen haar mond. “Ek weet julle sê ons is vyf jaar getroud, maar ek kan dit nie doen nie.”

      Hy lyk net ’n oomblik verras. Toe stap hy aan en maak die volgende deur oop. “Jy mag dan hier slaap. Dis geen probleem nie. Jy het buitendien . . .” Hy kug asof hy hom weerspreek het. “Sal hierdie kamer jou pas?”

      Sy loer by hom verby. Die kamer is effens kleiner, maar het ook ’n dubbelbed met dieselfde oorversierde soort deken en meubels. “Ja,” sê sy ongemaklik. “Ek kan daardie deken mos afhaal.”

      Hy kyk haar takserend aan, maar sê niks nie. Dan kyk hy na sy horlosie en skrik. “Ek is jammer maar ek moet nou dadelik terug hof toe. Sal jy jou pad vind? Iets kry om te eet? Gladys sal seker nou-nou terug wees en sy kan jou alles wys of vertel.”

      Sy klem haar hande saam. “Ja, natuurlik. Dankie dat jy my kom haal het.”

      Hy draai weg nadat hy haar tassie op die bed neergesit het. “Ek is jammer dat ek jou alleen moet laat, maar dit kan regtig nie anders nie.”

      Sy begelei hom na die voordeur. “Moenie jou oor my kwel nie. Ek sal regkom.” Sy gee ’n vals laggie. “Miskien kom iets terug as ek hier in die huis is. Miskien onthou ek.”

      Hy wys na die voordeurslot. “Sluit die deur agter my. Gladys het haar eie sleutel.” By die motor bly hy weer staan. “Ek sal seker eers laterig tuis wees.”

      Sy lig haar hand. “Sterkte met die hofsaak. Ek hoop dit gaan goed.”

      Hy kyk haar ’n lang oomblik aan, knik dan net, klim in sy motor en ry. Sy kyk hom agterna tot die hek weer agter hom toegeswaai het en draai dan stadig om. Nadat sy die voordeur toegesluit het, bly sy lank daar staan met haar rug teen die deur. Sy wonder of Gerard lief was vir sy vrou. Soms kry sy die indruk dat dit nie die geval was nie. Sy stap stadig met die gang af in die rigting van die kombuis. Haar keel voel droog.

      Die kombuis is baie skoon en netjies. Elke ding staan op sy plek. Vadoeke hang skoon en gestryk langs die wasbak. Sy sien ’n ketel en gooi dit vol water. Terwyl sy wag dat dit kook, maak sy een kassie na die ander oop om te kyk wat binne-in is. Sy bly hoop dat ’n blompatroon op ’n koppie of ’n bont melkbeker skielik bekend gaan lyk, maar dit gebeur nie. Dis net voorwerpe. Sy maak die yskas oop en haal ’n bakkie jogurt uit. Aarbeigeur. Terwyl sy dit sommer so staan-staan eet, wonder sy hoe sy geweet het dit sal daar wees? Hoe het sy geweet sy hou van aarbeigeur? Nadat sy vir haar tee gemaak het, gaan sit sy by die kombuistafel. Op ’n rak teen die muur is dosyne kookboeke. Sy staan op en haal ’n paar af. Hulle lyk almal baie nuut en ongebruik. Die bladsye vou moeilik oop. Wie het dit gekoop? wonder sy. Wie gebruik dit?

      Sy

Скачать книгу