Dwaalpoort. Alexander Strachan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dwaalpoort - Alexander Strachan страница 14

Dwaalpoort - Alexander Strachan

Скачать книгу

denkbeeldige bok mik; toe laat sak hy die geweer. “Ek dag jy kom nie meer nie.”

      Vanuit die tent was daar ’n gemompel, ’n swaar sug; die geluid van lywe wat op ’n matras ronddraai. ’n Gejaagdheid in die asems. Toe iets soos ’n kreet, ’n vrou wat kla. ’n Rukkie stilte. Weer die rukkerigheid van die asems. Agter my het die jagter gepraat, maar ek het nie gehoor wat hy sê nie. Op die matras het die lywe gedraai en iets het teen die kant van die tent gebult. Heup of elmboog? Ek het weer die gedempte roep gehoor. ’n Ingehoue gil? Die meisie se stem?

      Langs my het die jagter sy keel hard skoongemaak. “Het jy al ons merker gesien?” Hy het vir my geknipoog. Eers het ek nie verstaan wat hy bedoel nie. Toe wys hy na die stukkie helderrooi onderklere wat boaan die tentpaal vasgebind is. “Solank die vlag op is, is dit no-go area.”

      Dit was eintlik al heeltemal te laat toe ons uiteindelik in die veld kom. Die troppie rooibokke wat ons bekruip het, het elke keer net deur hul neuse geblaf en ’n entjie verder gemove. Ons kon nie ’n skoot inkry nie. Die jagter het ’n sigaret aangesteek. Dit het my irriteer, maar ek het liewer niks gewys nie. Hy het dit in die lug opgehou en gekyk hoe die rokie trek. “Net om die wind te toets,” het hy gesê.

      Toe sien ek meteens die donker vlek in die bos. Sonder om te praat, het ek die rigting met my hand gewys. Hy het die sigaret deur sy lippe in die sand laat val en in die mik van die boom aangelê.

      “Sien jy hom?” het ek gefluister.

      Die lig was te swak; daar was te veel takke voor my. Toe die skoot klap, het albei my ore toegeslaan. Agter die bos het ’n rooihartbees hoog in die lug opgespring. Fok. Die jagter het sy geweer met ’n harde stamp teen die boom neergesit. Hy het die brandende sigaret langs hom opgetel, toe plat op die grond gaan sit en daaraan getrek. “Dis mos jý wat die bok uitgewys het!”

      “Kom ons gaan kyk eers,” het ek gesê. “Dalk was dit ’n misskoot.”

      Hy het die rook stadig uitgeblaas. “Ek mis nie maklik nie.”

      Ek het vorentoe geloop terwyl die dorings sulke hale oor my voorarms krap. Ek het die takke weggestoot, my asem opgehou. Maar agter die boom het die bloedkol onmiskenbaar in die sand gelê. Om my was die bos doodstil; behalwe vir die bloed was daar nie ’n bleddie teken van die bok nie.

      Toe ek terugkom by die jagter het hy steeds gerook. “Ek het nie geld om vir ’n hartbees te betaal nie.”

      Wat nou? Wat vertel ek vir oom Ludwig? Elke bok het sy prys, al het daar nou ’n fout ingesluip.

      “Sit eers,” het hy gesê.

      Sy woorde was vir my amper ’n verligting. Dit was anyway te donker om iets te probeer doen. Uit die binnesak van sy jagbaadjie het hy die half-jack gehaal. Hy het eers diep daaruit gedrink. Toe laat sak hy die bottel en kyk my reguit in die oë. “Ek kon gister al sien jy’s nuut hier rond.” Hy het weer ’n slag gedrink. “Maar ek’s nie difficult nie. Ons gaan half-half . . . mits jy die hartbees kry.”

      Hy het die half-jack vir my aangegee. Sonder om te dink, het ek dit na my mond gelig. Die rand van die bottel was koel teen my lippe en ek het amper gretig gesluk.

      Die alkohol het my bors laat gloei, my oë laat traan. Met die half-jack in albei hande tussen my knieë het ek aan Bullet gedink, met die bierblikkie wat hy ongeërg tussen sy knieë swaai. Ek het die bottel aan die jagter teruggegee.

      Die aand het ek my CD-speler weer hard aangesit. Hoe kon ek die naweek regmaak? Ek kon dalk voorgee dat die skoot mis was. Dit sou die jagter please, maar daar was niks in die veld wat jy vir die spoorsnyers kon wegsteek nie. Wat as hulle my by oom Ludwig gaan verklik het?

      Ek het deur die huis begin dwaal. In die gang het ek voor Henriette se portret gaan staan. Ek het dit van naby bekyk, die eerste keer dat ek dit gedoen het. Sy het omtrent dieselfde ouderdom gelyk as wat Rentia was. Hoeveel keer loop ’n mens by ’n portret verby voordat jy dit ken? Ek het omgedraai en by oom Ludwig se kamer ingeloop, die lig aangesit en weer die nota opgetel wat ek die vorige dag op die blad gekry het.

      Met ’n longskoot is dit beter om net te sit en wag nadat jy die bok getref het. Moenie dadelik nader gaan nie, die bok het jou waarskynlik nie gesien nie, hy het net die skoot gehoor en gevoel dat iets deur hom trek. As jy hom los waar hy die eerste keer gaan staan het nadat hy die skoot gevat het, behoort sy longe vanself plat te val. Jy moet jou onervare gids wat altyd nuuskierig sal wees om nader te gaan nadat die skoot geklap het, onder beheer kry. Sit eers ’n ruk en wag. Selfs so lank as ’n halfuur. As jy die bok na so ’n skoot te gou skrikmaak, kan die adrenalien wat hy afskei, hom nog ver laat hardloop. En as dit naby donker is, kan jy hom maklik verloor.

      Ek het op die bed gaan lê en die leeslig langs my doodgemaak. Ingehoktheid? Was dít wat ek in die veghoender se oë gesien het?

      Vroeg die volgende oggend vat ek die spoorsnyer na die plek toe waar ons die bok gekwes het. Pleks ek ’n merker opgesit het. Ons het die veld deurkruis voor ons na ’n gesukkel op die droë bloed afkom.

      “Koei,” het die spoorsnyer gesê en na die kol gewys waar sy voor die skoot haar blaas tussen haar agterbene leeggemaak het.

      Hy het ’n droë grashalm tussen sy voortande uitgetrek, ’n stukkie groen mis opgetel, sy kop geskud en sy tong geklap – pensskoot.

      In die begin het die bloedspoor maklik gevolg en ek het sommer ente voor die spoorsnyer uitgeloop. Toe raak die bloed meteens op; die spoor het onsigbaar geword asof die wond toegetrek het.

      Die spoorsnyer het my terug beduie en ’n wye draai geloop terwyl hy aanhoudend gewys het ek moet bly waar ek was. Toe wink hy vir my.

      Ek het agter hom gaan loop, maar hy het so skielik gaan staan dat ek in hom vasgeloop het. My hart het begin klop. Het hy die kwesbok gesien? Hy het voor hom op die grond gewys, maar ek kon nie sien wat hy bedoel nie. Hy het ’n langer grashalm gepluk en op die grond beduie na waar ’n ander spoor die kwesbok s’n gekruis het. Heeltyd het hy op ’n afstand gewys, asof hy glad nie met die grashalm aan die spoor wou raak nie.

      “Mhlophe,” het hy gesê en plat op die grond gaan sit. My hart het tot in my skoene gesak. Ek kon my eie ore nie glo nie. Daar was nie nou tyd vir bygelowe nie. Al wat getel het, was om die kwesbok te kry.

      Ek kon die pleit in my eie stem hoor toe ek hom aanpor. Gelukkig het hy my desperaatheid gesien. Hy het traag, onwillig opgestaan, my ’n oomblik verwytend aangekyk, maar ons was weer op die spoor.

      Met die son wat al hoog bo die kloof staan, het ons die koei uiteindelik in die hoek van die wildkamp gekry. Haar voorbeen was hoog teen haar lyf opgetrek. ’n Mens hoef nie veel van wild te geweet het nie, aan haar staan alleen kon ek sien sy weet daar was nou nêrens meer heen nie. Die spoorsnyer het vinnig in die gras gehurk sodat ek ’n skoot kon inkry.

      Toe sy omdraai en vir ons kyk, het ek die geweer gelig.

      Ek het gesukkel om die teleskoop se kruis stil te hou, dit eers oor haar oog beweeg en probeer om dit agter haar oor te hou. Toe haar oog knip, het ek die sneller getrek.

      Die koei se onderkaak het gehang. Groot, stadige druppels bloed het by haar neus uitgedrup.

      Ek het weer die kruis getrek. Hierdie bleddie deel van jag was nie vir my bedoel nie. My asemhaling was heeltemal te vinnig. Sy het doodstil gestaan asof sy vir die skoot wag. Toe ek die sneller trek, het haar kop weer geruk, maar sy het nie geval nie.

      Sy het my in die oë bly

Скачать книгу