Liefste Koos. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefste Koos - Sarah du Pisanie страница 4

Liefste Koos - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

daardie klomp daar bo, sien vir maande nie ’n vrou nie. U kan dit nooit waag nie!”

      “Meneer Schultz, ek gaan nou vir u my hele storie vertel. Dan sê u vir my wat om te doen – wat u sou voorstel as ek u dogter was.”

      Herr Schultz luister stil en aandagtig. Hy suig die laaste bier uit die glas en wink vir die Vambo om vir hom nog te bring. Hy sit diep ingedagte toe Elsa ’n hele paar oomblikke lank stilbly.

      “Ja! Ja, ek weet regtig nie wat om vir jou te sê nie, kindjie,” sê hy heeltemal informeel. “Hoekom bly jy nie maar hier nie? Meneer Brock sal jou goed behandel. Sy vrou is ook ’n dierbare mensie.”

      “Meneer Schultz, ek is morsdood van bekommernis oor Kurt. Ons sou dan getrou het, ek kan mos nie net hier bly en nie eens probeer uitvind wat van hom geword het nie. Dalk is hy iewers in groot gevaar, dalk kan ek hom help. Begryp u dan nie? As ek net eers by oom Gert kan uitkom, hy sal moontlik weet waar ons na hom kan begin soek.”

      Elsa vee die blink traan met haar hand weg en kyk pleitend na Herr Schultz.

      “As ek net eers op Otjimbingwe, waar hy gestasioneer was, kan uitkom. Hulle sal tog meer inligting hê ... daar waar hulle hom laas gesien het.”

      “Dit is heeltemal reg, meisiekind. Ek verstaan dit en ek bewonder jou vir die moed wat jy aan die dag lê, maar dit bring ons nog nie nader aan ’n oplossing nie.”

      ’n Jong seun loop al fluitend voor die venster van die sitkamertjie verby. Sy vrolike deuntjie laat Elsa ’n oomblik van haar probleme vergeet en sy glimlag stil toe hy sy hande diep in sy broeksakke druk en op maat van sy wysie op een beentjie spring en ’n klippie voor hom uitskop.

      Sy kyk vinnig op en vang Herr Schultz se oë peinsend op haar en dan weer op die seun wat al fluitend om die hoek verdwyn.

      ’n Blink liggie verskyn stadig in Elsa se oë en sy staar opgewonde na Herr Schultz.

      Hy hou sy vinger waarskuwend op. “Nee, nee, dit is te gevaarlik!”

      “Asseblief, meneer Schultz, help my! Asseblief!”

      “Elsa ... ek gaan jou nou maar so noem, en jy kan my oom Hein noem. Jy het nog nie vir Hermaans ontmoet nie. Iemand anders nog ... maar nie Hermaans nie! Hy is wild! Stuit nie vir die duiwel nie. Hy sal binne vier en twintig uur uitvind dat jy ’n vrou is ... en dan?”

      “Hy sal my tog nie daar in die veld los nie, oom Hein. Hy sal ook nie omdraai nie, want oom sê self hy mors nie tyd nie.”

      Herr Schultz staar haar stil aan.

      “Kindjie, hoekom laat ek my altyd in met sulke dinge ... Seker maar omdat ek ’n simpel ou romantiese mens is ...” Hy tik met sy voorvinger teen sy leë glas. “Luister nou mooi na my. Sien jy die deur hier agter ons?”

      “Ja, oom Hein.”

      “Wel, dit is ’n klein kantoortjie met ’n buitedeur. Ek gaan nou oorstap en vir Hermaans hiernatoe nooi vir ’n bier. Kruip jy in die kantoor weg. Dan kyk jy bietjie hoe hy lyk ... As jy vir hom kans sien, kan ons weer gesels. Maar hou jou skaars, moenie dat hy jou sien nie.”

      Elsa knik stom haar kop, haar groot bruin oë bly op sy ernstige gesig gerig.

      “Sluip dan agter uit na jou kamer toe en vra dat hulle jou aandete in jou kamer bedien. Ek sal later daar na jou toe kom.”

      Elsa kan aan sy hele houding sien dat dit sy troefkaart is. Hy glo dat sy, nadat sy Hermaans Potgieter gesien het, nie meer bereid sal wees om met so ’n gekke plan voort te gaan nie.

      Sy sluk vinnig nog ’n koppie koue koffie weg en stap dan deur na die kantoortjie. Sy laat die deur op ’n skrefie oop en gaan staan sodat sy die tafeltjie mooi kan sien.

      Die minute tik tydsaam verby. Dit voel of sy ure lank in die klein kantoortjie staan. Die vrees dat die eienaar haar hier sal betrap, slaan koud op haar uit.

      ’n Harde, growwe lag klink skielik voor in die hotel op. Sy hoor Herr Schultz se hoë laggie en dan borrel ’n rits vloekwoorde hard en duidelik by die studeerkamertjie in.

      Elsa loer versigtig deur die skrefie. Dan druk sy haar hande oor haar ore om nie verder na die man te luister nie. Twee uit elke drie van die woorde wat oor sy lippe rol, is grof en lelik.

      Herr Schultz skuif voor die skrefie-opening verby en dan staan Potgieter lewensgroot in haar gesigsveld.

      Hy is besonder lank. Elsa is nie danig kort nie, maar sy sal haar kop agteroor moet gooi om in sy gesig te kyk. Sy skouers is so breed, dit vul die hele opening. Sy gesig is bedek met ’n woeste swart baard wat hom wild en boos laat lyk. Sy hare is seker swart, maar op die oomblik is dit vaal van die stof. Die enigste kleur in die groot, woeste, wilde man se gesig is sy helder, blougrys oë.

      Elsa se keel is droog en sy wonder of hulle nie dalk haar swaar, hortende asemhaling kan hoor nie. Sy druk haar hande op haar bors om die wilde klopping te stil. Dan dring Herr Schultz se joviale stem weer tot haar deur. “Jy sê dit is jou laaste tog, Hermaans?”

      “Ja, oom Hein. Ek is nou klaar. My plaas lê en wag. Hierdie vrag ivoor is die grootste wat ek nog ooit ingebring het. Met die geld wat ek vandag gekry het, is my kop deur.”

      Elsa luister verstom. Sy het nie geweet daar bestaan so ’n groot verskeidenheid van vloekwoorde nie. Dis so erg dat sy die gesprek met moeite kan volg.

      Sy draai om en sluip verslae by die agterdeur uit. In haar kamer gaan lê sy stil op haar bed. Sy sluit haar oë moedeloos en asof vanself kom lê die gebed sommer op haar lippe.

      “Ag, Heer, ek verstaan nie altyd U weë nie. Gee my tog asseblief leiding in hierdie saak. Ek weet nou nie verder nie, ek het my teen ’n muur vasgeloop.”

      Sy krap in haar tas totdat sy die verslete Bybeltjie raakvat en slaan dit sommer net oop.

      Met konsentrasie lees sy die bekende woorde wat vandag vir haar ’n splinternuwe betekenis het.

      En die Here het aan Abraham gesê: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.”

      Elsa maak die Bybel baie stadig toe. ’n Stil vrede kom lê in haar hart. Asof iemand vir haar so pas mooi en duidelik die pad aangewys het, weet sy presies wat om te doen.

      2

      Met nat vingers vee die misslierte deur Elsa se gesig en klou aan haar vas. Sy kan nie ver voor haar sien nie en sy wens sy kan die misgordyn so ’n bietjie oopskuif om meer van die doenigheid uit te maak.

      Hermaans se growwe stem en nog growwer taal klink spookagtig agter die misnewels op. Elke nou en dan kom een van die werkers in haar gesigsveld en koes sy half agter die wa in.

      Sy voel uiters ontuis in haar kakiebroek en -hemp en die hoedjie wat slap om haar gesig hang. Sy het haar hare plat agter haar kop vasgesteek en ’n wit lap omgebind voordat sy die hoedjie bo-oor getrek het. Sy wou met alle geweld die hare afsny, maar Herr Schultz het daar sy voet beslis neergesit. As sy dit doen, het hy gedreig, gaan hy haar nie ’n tree verder help nie.

      Dit is nog taamlik donker. Die dag breek swaar deur die misgordyn en gee net ’n flouerige liggie af.

      Herr Schultz het

Скачать книгу