Kaptein Casanova. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kaptein Casanova - Ettie Bierman страница 3
By die hotel is vyfsterdiens gereël. Telekse, faksmasjiene, rekenaars, skoonmaak. Luukse suites met telefone en televisie. Saunas, etes, drankies.
“Honderd-drie-en-dertig plus twee babas,” kontroleer die hotelbestuurder, dankbaar dit is die 747-Combi, wat meer vrag as sitplekke het. Die 747 Super-B met driehonderd-vyf-en-tagtig passasiers sou ’n krisis veroorsaak het.
“Honderd-twee-en-dertig,” rapporteer die onderbestuurder. “Een kort.”
Janine en die hoofkelner vergelyk die kamersleutels met die passasierslys. Hulle kom tot dieselfde slotsom: iemand het op die lughawe agtergebly.
“Daardie ou met die voorliefde vir draaie loop,” raai ’n kelner. “Ek het hom nie hier gesien nie. Maak seker of die luidsprekers in die kleedkamers werk.”
Die busbestuurder is hulpvaardig. “Ek moet in elk geval teruggaan vir ’n laaste klompie goed. Ek sal hom soek en hierheen bring.”
Janine hanteer die aansluitingskonneksies, die senior waardinne die telekse en boodskappe, en Petri en die ander juniors die minder dringende probleme – bababottels en kamerdiens.
Toe dit rustiger gaan en daar ’n verposing is, stel Nico voor: “Koffie by my? Of twee by jou?”
Petri is dors en sou graag wou, net om ’n paar oomblikke te ontspan. “Jammer, Niek, miskien later,” maak sy verskoning. “Die kaptein het gevra dat ons ’n paar minute moet vergader. Dit sal seker nie lank duur nie. Sien jou nou-nou.”
Kaptein De Villiers is nie op reëls en regulasies ingestel nie. Netnou was hy sonder sy pet, nou is sy das losgeknoop. Hy lyk moeg en gespanne. In sy kamer wag hy totdat hy almal se aandag het. Dan praat hy in ’n saaklike stemtoon: “Ek hoef dit nie uit te spel nie – julle weet teen hierdie tyd seker almal dat dit nie suiker in die brandstof was nie.”
Die eerste offisier en derde vlieënier lyk geamuseer.
Johan de Villiers glimlag ook vlugtig, genoeg om enige meisie se knieë week te maak. Maar dit strek nie verder as sy mond nie. Die blouselblou oë is nugter en berekenend.
Janine is al een wat waag om dit hardop by die naam te noem. “’n Bomwaarskuwing?”
Hy knik. “’n Naamlose oproep na ’n plaaslike polisiekantoor. Ons is nie in ’n posisie om enige dreigement te verontagsaam nie. As ons, die vliegtuig en honderd-drie-en-dertig onskuldiges die lug ingeblaas word, gaan die wêreld op ons nekke neerkom. Ons het geweet, ons is vooraf gewaarsku, ondanks en desnieteenstaande het ons gevlieg ... Nie ek, ons redery of enige ánder is bereid om so ’n risiko te loop nie.” Johan de Villiers wag op kommentaar, teëstribbeling, vrae, klagtes. Daar is niks nie, net ’n doodse, afwagtende stilte onder sy twee dosyn kollegas.
“Bagasie, wat eerste onder verdenking was, het geen ongeïdentifiseerde stuk of enige ander inligting opgelewer nie, behalwe dat een passasier blykbaar lig reis en nie ’n tas ingeweeg het nie. Dis nie ’n oortreding nie. Die vrag is ook afgelaai en deursoek. Alles in die ruim is uitgeklaar. Handbagasie en persoonlike besittings is deur sekuriteitskontrole by die deure nagegaan. Die grondingenieurs soek nou vir ’n obstruksie aan die struktuur. Dames en here, dit mag ’n siek grap wees, of nie. Ek is oop vir voorstelle.”
In die kamer het ’n kil atmosfeer ontstaan. Niemand reageer nie.
“Die vorige pseudo-grapjas wat ’n vals alarm gemaak het, het vier jaar gekry,” merk die boordtegnikus op.
Petri dink aan die man wat die buitensporige lewenspolis wou uitneem. Maar aangesien Janine dit nie as belangrik ag nie, bly sy ook stil, bang hulle lag vir die groentjie wat op hol is – pas oorsee en niks gewoond nie.
“Daar was ’n snaakse teddiebeer,” skerts ’n kelner in ’n poging om die spanning te verlig.
Petri het dit ook gesien – bo-op die gehawende, geruite kajuitsak van die meteorologiese fanatikus.
Selma van Wyk en ’n ander meisie lag. “Dis nie ’n misdaad om vir jou kleinkinders ’n teddie te koop nie, is dit?”
Almal stem saam: Nee, dit is nie. Speelgoed, soeweniers en geskenke is bo verdenking.
“Twee oproepe,” deel kaptein De Villiers hulle mee, “van dieselfde histeriese en onsamehangende persoon. Geen naam of adres is verstrek nie. Voordat die polisie die oproeper se identiteit kon vasstel, is die verbinding verbreek. Al wat die polisie weet, is dat dit ’n vrou was, deurmekaar en onbetroubaar. Laat ons hoop daar kom niks van nie. In elk geval, dankie vir jul tyd. As enigeen meer uitvind, ek is heelnag beskikbaar. Intussen, lekker slaap en sien julle môre. Sesuur roeptyd, agtuur vliegtyd.”
Die koffie wat Nico na sy kamer bestel het, is yskoud.
“Heerlik,” sê Petri en neem ’n sluk. “Het jy die kabelgram Parys toe gestuur?”
“En antwoord ontvang.” Nico sug en trek ’n suur gesig. “No show: walk-over for opponent.”
Petri is ontsteld. “Dis my skuld. Al wat die Fransman het, is ’n afslaan. Sy handrug is power en sy voorarm nie veel meer werd nie. Jy sou gewen het.”
Nico kom sit by Petri en trek haar op sy skoot. “Die groter manne op die baan het dieselfde probleem as ek gehad.”
Petri weet wat hy bedoel: vroumense. “Daarom het hul loopbane daaronder gely,” herinner sy hom.
“Ek weet. Maar ek kan nie konsentreer as ek nie weet waar jy jou bevind, wanneer jy terugkom en wanneer ek jou weer gaan sien nie.”
“Ons is nog jonk, ek en jy albei. Ek wil die wêreld sien en jy wil geld maak. Ons moet ’n kompromie aangaan. Nog twee jaar. Dan is die reislus uit my uit en jy skatryk en gevestig. Dan kan ons aan die toekoms dink.”
“Twee jaar?” Nico is ongeduldig. “Terwyl ek intussen nie weet wie waar by my nooi aanlê nie?”
Hy het voorheen oor haar kollegas gekla, meer as een keer. Selfs daaroor rusie gemaak en teenoor hulle uitgevaar, asof hy haar nie vertrou nie. Petri wil ’n argument vermy en praat ligweg: “Soos ek al hoeveel keer verduidelik het, is driekwart van die ouens wat saam met my vlieg, oud en koud en getroud.”
“Vanaand se kaptein ook?”
Petri kyk anderpad.
“De Villiers, die een met die flikkers vir die meisies. Is hy ook oud en koud?”
Petri is op veiliger terrein. “Hy is verloof.”
“Wie sê so?”
“Die skindertonge. Binnekort getroud.”
“Wanneer?”
“Hoe sal ek weet? Ek ken hom nie. Vanaand was die eerste keer dat ek hom ontmoet het.”
“Hopelik ook die laaste keer.” Hy neem Petri se hand in syne en soen haar. “Ek kan vir my vrou sorg. Ná ons troue kan jy ophou vlieg, hoef jy nie weer sente te tel nie.”
“Moenie oorhaastig wees nie. As jy Wimbledon wil wen, moet jy los wees. Vry, sonder verpligtinge teenoor ’n vrou en gesin wat jou konsentrasie verdeel.”
“Dis