Kaptein Casanova. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kaptein Casanova - Ettie Bierman страница 5
“Geen Bothma of Botes nie.”
“Niks verdags onder enige van die ander mense nie?”
“Nee, kaptein.”
“’n Skoolkind en ’n ma.” Hy skud sy kop. “Waar sit oupa G.J.?”
“Twee-en-veertig C.”
Haar kaptein lyk afgetrokke. “Laaste ry, langs die paadjie, met ruimer beenspasie as die ander sitplekke. Rokerseksie, geen uitsig op die doek nie.”
“Maar wel oor die volle kajuit en vliegtuig ...”
“Ruimer beenspasie vir groter beweeglikheid?” Hy kyk ondersoekend na Petri. “Hoe oud skat jy hom?”
“Dis moeilik. Dalk jonger as wat hy lyk.”
“Blommetjie, ek dink jy is straks reg.”
Almal by Jakaranda noem die waardinne bloeisels of blommetjies. Petri is daaraan gewoond. Maar komend van Johan de Villiers, is die bynaam skielik nuut – sy kan nie help om van hom te hou nie. Maar sy moet ook onthou dat hy en Janine Oberholzer verloof is, dat hy aan ’n ander meisie behoort.
Sy dwing haar gedagtes terug na meneer G.J. Botha.
“Dieselfde man wat nie by die hotel opgedaag het nie en volgens Hannes Scholtz ’n voorliefde het om lang rukke in kleedkamers deur te bring?” vra hy.
Petri is bly dat sy ’n intelligente bydrae kan maak. “Ook vreemd verwaarloos, kaptein. In die koue reën sonder ’n jas of ’n baadjie, en met ’n onnatuurlike belangstelling in die weerstoestande.”
“Die weer?”
“Altocumulus en kopwinde. Veral die vlugduur, tot op die laaste minuut.”
Johan frons. “Hoekom reken jy so?”
Petri verduidelik van die meteorologiese buro, sy obsessie oor akkurate inligting en die man se aggressie. “Maar dalk is ek bevooroordeeld,” voeg sy by.
“Ek ook.” Hy glimlag vlugtig vir Petri. “Dankie, nooi. Hou kop, ek is nou-nou terug.”
“Weer oor die bom, of wat gaan aan?” vra ’n kelner.
Petri sluk. “Wim, ek hoop nie die kaptein dink wat ek dink hy dink nie ...” Sy kyk die breë rug en donker agterkop agterna. Hy is blykbaar nie haastig nie – vertoef ’n oomblik by die laaste ry, gesels hier en daar met ’n passasier, beantwoord vrae en praat lank met Janine.
Dit is nie net die weer nie, onthou sy. Die man is ook behep met sy kajuitsak, waarin hy kort-kort vroetel of na iets soek. Dis waarskynlik onbelangrik, maar sy moes dit ook teenoor kaptein De Villiers genoem het.
“Die kaptein het kom rondkyk en is pas baie haastig die trap op stuurkajuit toe. Nie om dowe neute nie,” hou Wim vol.
Petri wil nie ’n vals alarm veroorsaak nie. “Ons moet maar wag en sien.”
’n Tweede besoek deur die bevelvoerder aan die passasierskajuit, kort op die hakke van die eerste, is abnormaal en sal agterdog wek. Ná ’n verdere radiogesprek met Jan Smuts se veiligheidsafdeling stuur Johan Janine agtertoe.
“Petri, hoe lyk dit met ’n bietjie tee?” stel hul hoofwaardin voor.
Petri maak, ook vir Hannes en Wim en ’n ou tannie wat aan hoogtevrees ly. Daarna dra sy hare en Janine s’n na ’n opklapbankie oorkant die kombuis waar hulle meer privaat is. Sy neem ’n sluk, sit dan die koppie neer. “Jy het nie slegs kom tee drink nie, nè?”
Janine is net so reguit. “Nee, maar dit lyk minder verdag as ons regtig oor ’n koppie tee kommunikeer.”
“Waaroor?”
“Die persoon wat pas voor vertrektyd ’n lewenspolis van tweemiljoen wou uitneem, is dieselfde meneer Gerhardus Jakobus Botha.”
Petri verstyf. Dit duur ’n rukkie om in te neem wat Janine gesê het. “Gerhardus Jakobus? G.J. Botha? Die man wie se vrou die polisie gebel het?”
“Einste hy. Ons het intussen ook by die reisagent vasgestel dat hy slegs die minimum deposito op sy kaartjie betaal het en die res oor ’n maksimum periode afbetaal.”
Petri raak koud toe sy die implikasies besef. Tog weier haar verstand om dit te aanvaar en soek sy uitkomkans. “Baie mense koop reiskaartjies op skuld. Dis nie te sê dat hulle nie van plan is om die balans te betaal nie.”
“In sy geval wel.”
“Hoekom sou hy tot op die laaste nippertjie gewag het om versekering uit te neem as hy iets beplan?”
“Praat sagter en drink jou tee,” maan Janine. “Ons wil nie slapende honde wakker maak nie. Moontlik het hy vooraf by ander versekeringsmaatskappye ook assuransie uitgeneem. Of dalk was hy bang sy vrou vind uit wat hy doen, kry snuf in die neus en probeer hom keer. Soos blykbaar wel die geval was, behalwe dat sy te laat was.”
“Tweemiljoen? En dan skaars genoeg geld vir die premie op honderdduisend? Dit rym nie.”
“Hy maak dalk nie resitasietjies nie.”
“Hoe het sy vrou uitgevind?”
“Ek weet nie.”
“Sy kon haar misgis het. Of hierdie is dalk ’n ander meneer G.J. Botha.”
“Jy is ’n optimis. Kan wees, maar daar is te veel toeval dat ons houtgerus kan wees. Jy sê jy het gisteraand met die man gesels?”
“Eintlik net gepraat. Hy is nie gesellig nie. Vanoggend het hy my geïgnoreer, net voor hom sit en staar met die teddiebeer op sy skoot. Hy wou ook nie eet nie.”
Janine het ook die ou oom so gesien – albei arms styf en beskermend om die beertjie, asof dit ’n baba is.
“Foei tog, ’n mens moenie oordeel nie,” merk Petri op. “Dalk het hy nie kinders nie.”
“Ek ken mense wat honde as hul kinders beskou, maar ’n stuk dooie speelgoed? Meer as getik. Koekoes as jy my vra. Jy sê hy wou niks eet nie?”
“Ek dink omdat daar nie plek was om die tafeltjie oor sy skoot af te slaan nie. Hy het ook niks gedrink nie, net kort-kort in sy sak gepeuter.”
“Baadjiesak?”
“Nee, kajuitsak.”
“Waar is die sak?”
“Dis te groot vir die hoederak. Hy het dit onder sy sitplek ingeskuif.”
“Ja, ek het dit ook netnou opgemerk. Dit steek halfpad uit tussen sy voete en dié van die vrou langs hom.”
“Moet ek die sak probeer skuif?”
“Nee! Onder geen omstandighede nie. Moenie eers daarna kyk of dit hoegenaamd aanraak nie. Ons weet nie wat binne-in is nie. ’n Bom of handgranate of wat nie. Al sê jy hy is ongesellig, is