Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe). Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker страница 18

Автор:
Серия:
Издательство:
Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker

Скачать книгу

Ek het my verskoon om haar gewese man te gaan help.

      Dit klink miskien asof ek alles gedoen het en dis nie heeltemal korrek nie. Daar was ’n ander meisie, Dina, wat veronderstel was om die ontvangstoonbank en telefoon te beman, maar sy was selde daar. Hoe minder hulp ek van haar gekry het, hoe vinniger het ek leer werk sodat ek ons albei se take kon afhandel sonder om die een of die ander af te skeep.

      “Wie’s volgende?” het dokter Anders my gevra toe ek weer langs hom staan.

      “Jou vrou.”

      “Wat wil sy hê?” Hy was besig om sy spierwit hande te skrop.

      “Sy gaan deur ’n krisis.”

      “Stuur haar in,” het hy gesug. “Sy kan ten minste nie praat terwyl ek die boor in haar mond het nie.”

      Hy was verkeerd. Haar tande was in ’n uitstekende toestand en die boor was nooit nodig nie. Sy kon praat en waaroor sy gepraat het, was sy huidige lewenstyl. Ek het met groot belangstelling geluister, want soos baie ander pasiënte het sy geglo ek bestaan nie of indien ek wel bestaan, dat ek doof was. ’n Tandarts moes dikwels diens doen as psigiater en wanneer dit gebeur het, het ek verdwyn. Nie fisiek nie, maar in die oë van die pasiënt.

      “Ek hoor by Ans-hulle dat jy by elke geleentheid opdaag met ’n ander meisie aan die arm,” het mevrou Anders gesê.

      Hy het gegrinnik en begin krap aan haar plaak.

      “Ek het geweet mans gaan deur so ’n stadium, maar ek het dit nooit van jou verwag nie.”

      Ek het op my hoë stoeltjie gaan sit en my baas met nuwe oë bestudeer. Hy was seker aantreklik as ’n mens gehou het van korter, bleswordende mans in hulle middeljare.

      “Ek veronderstel jy sleep hulle almal saam na jou nuwe woonstel wat ek nog nie eens gesien het nie,” het sy voortgegaan toe haar tong ’n pad tussen sy vingers kon kry.

      “Soms,” het hy toegegee.

      “Dis vieslik,” het sy gesê en my raakgesien toe ek vorentoe beweeg om ’n instrument aan te gee. “Iris. Vind jy dit nie vieslik nie?”

      “Nee, mevrou.”

      “Ek veronderstel jy was ook al daar?”

      “Nee, mevrou.”

      Sy moes ’n paar sekondes stilbly terwyl hy aan ’n kiestand gekrap het.

      “Jy kan ook nie oordeel nie,” het sy toe gesug en toegelaat dat ek haar mond uitspoel en leegsuig. “Jy’s te jonk en julle sedes is anders.” Sy het haar tong tussen haar lip en tandvleis deur getrek om te voel of haar tande skoon genoeg was.

      “Jy moet vir jou ook ’n kêrel kry, Dora,” het dokter Anders voorgestel en sy hande vir die hoeveelste keer gewas.

      “Ek?” het sy gekreet. “Iris. Hoor jy dit? Waar moet ek op my ouderdom ’n kêrel kry?”

      “Hou op om vir Iris te vra,” het hy gesê. “Sy stel nie in mans belang nie.”

      “Hoe weet jy dit? Iris, hoe weet hy dit?”

      “Hy raai maar, mevrou.”

      Sy het opgestaan en haar rok reggetrek. Ek het nader gestaan en die borslap losgemaak.

      “Dis bitter,” het sy gesê. “’n Vrou van my ouderdom wat alleen is.”

      “Dis jy wat wou skei, Dora,” het hy gesê terwyl hy haar kaart ingevul het. “Ek sien jou weer oor ses maande. Pas jou tande op, jy kan nog baie jare plesier uit hulle kry. Wie’s volgende, Iris?”

      Lank voor Eduard en Greta uitvind hulle is lief vir mekaar, was ek moeg vir hulle. Die besoeke aan die hospitaal, die besluit oor ’n naam vir die kind (hy kry die familienaam wat nog ’n kraak maak in Eduard se verweer) en die ontplooiing van Eduard se gevoel vir Greta het my lank besig gehou, maar teen die tyd dat hy haar vra om met hom te trou sodat hulle saam vir die erfgenaam ’n tuiste kan bied, was ek uitgekuier met hulle en hulle baba. Ek kon Eduard nie meer duidelik sien nie en het die hele storie uitgegooi en begin rondtas na ’n nuwe een.

      Elsa in die hospitaal, rosig ná die geboorte van Johan, voldaan en selfversekerd in haar nuwe rol as Die Moeder, was die saad waaruit die storie ontkiem het, maar teen die tyd dat die kind twee jaar oud was, kon ek min romanse in die situasie sien. Dat die kleintjie oulik was, het ek nie betwyfel nie, maar dat hy ’n handvol was wat gelei het tot ergerlikheid en ’n rondskuif van verantwoordelikheid, was ewe waar. Ek kon eenvoudig nie sien hoe Eduard en Greta sielvol in mekaar se oë kon kyk terwyl hulle kind die antieke Venesiese glas van die tafel trek of op Greta se skouer opbring omdat hy te veel en te vinnig geëet het nie.

      Boonop het Kara weer ons vreedsame gesinslewe deurmekaargemaak. Ek was vier en twintig jaar oud en sy dus dertig toe sy weer van ’n oorsese reis terugkom en aankondig dat sy die man van haar drome ontmoet het.

      “Hoog tyd,” het Johanna gesê. “Sy was aan die uitdroë.”

      Ma, en veral Pa, was skepties.

      “’n Buitelander?” het Pa gevra. “Wat is verkeerd met ons eie mans?”

      “Sal ons met hom kan praat?” het Ma gevra.

      Sy en Hannes het mekaar ontdek toe hy en Elsa ’n huis gekoop het. Dit was ’n nuwe huis, gebou soos ’n trein, met ’n lang gang en al die kompartemente aan die een kant. Die huis het Ma koud gelaat, maar Hannes het haar raad gevra in verband met die bar tuin en dis daar waar hulle mekaar gevind het.

      Aanvanklik het net bourommel en ’n paar opslagmadeliefies op die erf gegroei, maar terwyl Elsa boeke nagesien en Johan die telefoongids verskeur het, het Ma en Hannes die tuin beplant. Haar kennis van plantname was ewe vaag as haar kennis van die meeste goed, maar sy kon goed verduidelik.

      “Hier het jy daardie bos met die pienk trosse nodig,” sou sy sê. “Dit groei by ons langs die lukwartboom. Hy’s nie lief vir te veel son nie.” Aangesien die tuin net son gekry het, het sy betaal en ’n firma gekry om ’n vragmotor vol opgeskote boompies te kom aflewer.

      Kara het net geglimlag oor al die vrae. Sy het ’n nuwe glans gehad asof iemand haar, soos Johanna se Kersfeeseend, versigtig met heuning en suurlemoensap bedruip het.

      “Julle sal hom sien,” het sy gesê. “Hy kom in die somervakansie kuier.”

      “Dan’s ons by die see,” het Ma gesê.

      “Sy somervakansie.”

      Ma het ontsteld gelyk. “Dan is dit so lelik hier by ons.”

      “Hy kom nie na die tuin kyk nie, hy kom by my kuier,” het Kara gesê.

      Al wat ons verder van hom geweet het, was dat hy van Martinique afkomstig was, Franssprekend was, maar darem op ’n manier Engels kon praat.

      “Dit gaan lol,” het Pa gesug en Ma gehelp soek in my ou skoolatlas. Hulle het Martinique gekry, maar nie veel wyser geword nie. Gelukkig was hy bloot daar gebore en het hy nou in Frankryk gewoon waar hy ’n lektor was by ’n klein kollege.

      Die

Скачать книгу