Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe). Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker

Скачать книгу

sy lampkappe oorgetrek. Lelike lampkappe. Nou’s dit poppe. Die hele huis lê vol kaal skedeltjies en pruike. Laaie vol handjies en voetjies.”

      “Maak sy dit self?”

      Hy het ongelukkig gelyk. “Gelukkig het ons nie kinders nie.”

      “Dit verklaar die poppe,” het ek slim gesê.

      “Sy was ’n pasiënt van my,” het hy bygevoeg. “Sy’t vir my gevra waarheen gaan die speeksel.”

      “Watter speeksel?”

      “Wat ek uit haar mond suig. Sy het gedink dit word opgegaar in ’n pot en moet deur my assistent leeggemaak word.”

      Ek het hoendervleis gekry en oor my arm gevryf. “Wat ’n afskuwelike gedagte!”

      “Maar oorspronklik.”

      “Miskien.”

      “Nou’t ons niks meer vir mekaar te sê nie.”

      Die res van die pad het ek gesit en dink oor die huwelik en gewonder waarom die bevolking van die wêreld so ’n behoefte het om twee-twee af te paar. Elsa en Hannes het mekaar “Mammie” en “Pappie” genoem en teen Hannes se agterkop het die vel begin deurskyn. Paula het meer aandag aan haar trourok gegee as aan haar aanstaande. Johanna was bang vir “darie ding” en Ma en Pa het in gemoedelike onbegrip saamgeleef. Die familie het Kara begin aanhits om tot trou te kom met opmerkings soos: “Ons word geeneen jonger nie,” of “Jy kan nie dat jou klein sussie jou voorspring nie.” En dokter Anders se vrou het gepraat met ’n mond vol gesigroom.

      Ek was bly toe ons by die hospitaal kom en aan die werk kon spring. Die tandelose mevrou Rademeyer se man het langs haar bed gestaan en wroeg terwyl ons die rubberpap aanmaak om die afdruk te neem.

      “Ek hoop die assuransie gaan betaal,” het sy gemompel en haar lippe styf op mekaar gehou.

      “Hulle sal vir die motor betaal, my hart,” het hy gesê.

      “Ha!” Vir ’n oomblik het ons haar tandvleis gesien. “Wie gee om vir ’n gebreekte voorruit?”

      “Daarsonder kan jy nie ry nie,” het hy miserabel gesê. Ek kon sien wie sy voorkeur geniet.

      “Sonder tande kan ek nie leef nie,” het sy gesê voor ons die vorm ingeskuif en haar kake op mekaar geklamp het.

      “Het u vrou haar veiligheidsgordel vas gehad?” het ek die man gevra terwyl ons wag vir die rubber om hard te word.

      “H’m,” het sy kwaad probeer praat en haar oë heen en weer gerol.

      “Nee,” het haar man vertaal.

      “Dit sou die skade voorkom het,” het dokter Anders gesê.

      “Die voorruit kon nog heel gewees het,” het haar man saamgestem.

      Die vrou was gelukkig gewees, het ek gevoel. Haar oë was potblou geswel en daar was twee snye wat met gaasdoek toegemaak was, maar andersins was sy eintlik ongeskend. Behalwe nou die tande, natuurlik.

      “Meneer Rademeyer is meer gekwel oor sy voorruit as sy vrou se voortande,” het ek opgemerk toe ons terugry na die spreekkamer.

      Dokter Anders het sy skouers opgehaal. “Hy was baie erg oor sy motor.”

      “En tog noem hy haar ‘my hart’,” het ek volgehou. “As sy sy hart is, is sy die belangrikste orgaan.”

      “Iris, Iris,” het hy gemaan. “Jy neem die lewe te letterlik op.”

      Eduard het uit sy stoel opgespring toe Greta in die deur van die badkamer verskyn en haar aankondiging doen.

      “Dink jy regtig so?” het hy gevra en Paul tot in die verste duisternis verwens.

      “Ek is bevrees so.”

      Hy het sy motorsleutels van die koffietafel opgetel. “Ek sal jou hospitaal toe neem.”

      Greta het die koffiemasjien afgeskakel en die vensters toegemaak. (Dit moet ook nie inreën terwyl sy weg is nie.) Eduard het haar tas opgetel en die deur oopgehou. (Hulle het nie vervaard rondgehol soos Elsa en Hannes nie.) In die motor het sy op haar asemhaling gekonsentreer en so deeglik en diep gehyg dat sy begin bleek word het.

      “Ek is bang,” het sy erken. “Dis nie meer ’n abstraksie nie. Dis seer.”

      Hy het nie geantwoord nie. Hy het wel ’n vae plan gehad om haar weer te probeer sien, maar om betrokke te wees by die geboorte van sy broer se kind was nie deel daarvan nie.

      “Hoekom het julle so lank gewag?” het die suster by die kraamafdeling met hulle geraas. Sy het Eduard weggedu. “U kan die toelatingsvorms gaan invul, meneer, u vrou is in goeie hande.”

      “Sy is nie . . .” het hy begin, maar is in die rede geval deur die kwaai suster.

      “Sy is, meneer, sy is. Laat my toe om daaroor te oordeel.” Greta het haar handsak in Eduard se hande gedruk. “Die vorms . . . dis alles daar,” het sy gehyg en haar bene probeer optrek tot teen haar bors.

      Met haar handsak is hy terug na die ontvangslokaal. Die klerk het goedig gewag terwyl hy soek na die vorm waarna Greta verwys het, maar toe hy dit kry, was al die nodige inligting soos volle name, identiteitsnommer en so meer, beskikbaar.

      “Het u ’n kredietkaart?” het sy gevra toe alles neergeskryf is. “Ons maak ’n afdruk en wanneer u vrou die hospitaal verlaat, vul ons die juiste bedrag in en kan u u kwitansie kry sodat u weer op u beurt van u mediese fonds kan terugeis.” (Dis wat ek bedoel met besonderhede. Ek het niks oor die hoof gesien nie.)

      “Ja, natuurlik,” het hy gesê.

      Toe alles afgehandel was, het hy verlore rondgestaan. Om koelbloedig om te draai en huis toe te ry, het verkeerd gevoel. Buitendien het hy nog Greta se handsak by hom gehad en sy kon dit later nodig kry.

      “Tweede verdieping, links,” het die klerk vriendelik gesê. “Teen dié tyd is hulle reg vir u.”

      Eduard het opgegee en met die hyser boontoe gery. ’n Ander verpleegster het hom gevra wie hy soek en toe hy Greta se naam sê, is hy summier in ’n teaterjas gevou en deur ’n glasdeur gestoot waar hy haar onder skerp ligte sien lê het, gedrapeer in groen steriele doeke. (Of hulle dit regtig gedoen het, het ek nie geweet nie en Elsa het ook nie gesê nie, maar ordentlikheidshalwe het ek dit maar bygevoeg.) Dit het dadelik geblyk dat haar rugpyn deur die dag die aanloop van die geboorte was en dat hy haar net betyds by die hospitaal gekry het.

      Haar oë was baie groot toe sy hom beteuterd in die deur sien staan. “Nee . . .” het sy begin praat, maar die volgende kontraksie het haar woorde in ’n gil verander. Hy het by haar kop gaan staan en sy hand uitgehou toe sy na hom gryp. Vir verduidelikings was daar nie tyd nie. Die dokter en suster het simpatiek maar ferm bevele gegee en dit was onmoontlik om almal se aandag te kry en hulle in kennis te stel dat hy nóg eggenoot nóg vader was en eintlik by sy eie huis sou wou wees.

      Minute later het die dokter aangekondig dat dit ’n seun was. Greta se mooi oë het vol trane geword.

      “Het jy gehoor?”

Скачать книгу