Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe). Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker

Скачать книгу

om te groet reguit na sy motor. Polder, wat heeltyd aan ons kant van die muur op my gesit en wag het, het bly aan my bene gelek en voor my uit gehuppel.

      “Is hy weg, darling?” het Ma gevra toe ek inkom. Sy het by die eetkamertafel gesit en skuif aan die stukkies lap van haar laslappieskombers. So lank as ek haar ken, werk sy al aan die ding.

      “Ja. Hy’t gevra ek moet dankie sê vir die ete.” Dit was ’n leuen, hy het hoegenaamd niks gesê nie, maar ek het gevoel ek behoort dit te noem.

      Sy het oor haar leesbril na my geloer. “’n Mooi man. Hy sal pragtige babas . . .”

      “Pragtige babas wat?”

      Sy het die lappies rondgeskuif en in die proses ’n paar van die tafel laat afval. Ek het gebuk om dit op te tel.

      “Maak,” het sy gesê.

      “Waarom sê Ma so?”

      “Ek kyk na klein Johan.”

      “En?” Ek het oor haar gebuig en ’n geel lappie weggevat waar sy dit tussen twee delikate pienkes wou insit.

      “Die neus,” het sy gesê. “En die swaar kaak. Hannes is ’n liewe man, maar . . .”

      Ek is vinnig weg na die normaliteit van my wagtende studieboeke.

      Dokter Anders was ’n presiese man. Die boeke op sy boekrak was volgens grootte gerangskik en, waar moontlik, volgens kleur. Dit het die rakke skeef laat lyk, asof dit enige oomblik na regs kon omkantel. Nie al die boeke was van tandheelkundige aard nie. Daar was woordeboeke en diverse glansfotoboeke oor sulke uiteenlopende temas as Inka-kuns en moderne boerderymetodes in Hongarye. Ek het afgelei dit was geskenke van dankbare pasiënte. Die onderste twee rakke was vol sagtebandboeke, blitsverkopers, almal dieselfde grootte. Ek het geweet dit grief hom. Dit het die skewe simmetrie van die boonste gegradeerde rakke versteur.

      Die meubels in die wagkamer en in sy privaat kantoor was swaar en solied, gemaak om meer as een generasie te dien. Outyds, eintlik. Hy het kennelik nie geglo in die moderne opvatting dat ’n wagkamer lig, vrolik en opbeurend moet wees nie. Sy meubels het ontsag ingeboesem. Vrees ook. Pasiënte het verkommerd na die swaar buffettafel gekyk met sy baie laaie en blink spieëls. “Dis waar hy die tange bêre,” kon ek hulle hoor dink.

      Maar terwyl die boor gesellig gedreun het en ek die slurppypie onder hulle tonge gehou het, kon ek voortgaan met my fantasieë. Ek kon die uitleg van Greta se kamer verander, Eduard se huis meubileer, blomme op Peter se graf plaas. Ek het omtrent ’n argiteksplan van Greta se woonstel geteken voor ek tevrede was met die ligging van haar badkamer en kon voortgaan met die choreografie van haar en Eduard se bewegings. Ek was baie gesteld op korrektheid. Die wette van die werklikheid moes gehoorsaam word. Koffietafels moes nie in die pad wees wanneer daar skielik beweeg moes word nie, gordyne moes net genoeg lig inlaat, telefone mag nie op ongeleë oomblikke gelui het nie. As Greta klouend aan die muur uit die badkamer kom en hees aankondig: “Ek dink dit het begin,” moet iemand die ligte afskakel en die koffiemasjien ook. Ek wou nie dat die woonstel afbrand terwyl my drama hom ontvou nie.

      Ek kon nie vir ’n meer ideale werk gewens het nie. Ek was nie afgesonder nie, daar was altyd genoeg mense om mee te klets. Kinders het die minste vrees gehad en het gesellig op die mat gesit en teken op papier wat ek vir hulle gegee het. Ek het die plante gehad om na om te sien, die rekeninge en indekskaarte vir intellektuele stimulasie en die tandartsstoel om in te lê tydens my etensuur.

      Pa het elke aand ’n nuwe opmerking gemaak oor my werk, almal variasies op die tema van: spoeg afvee, of: hiervoor het ek jou op universiteit gehou. Soos Polder se vlooie, was dit hinderlik, maar iets waaraan ’n mens wel mettertyd gewoond raak.

      “Objekteer dokter Anders nie teen jou kloosterrokke nie?” het Kara my gevra.

      “Jy’s ’n mooi een om te praat. Buitendien, ek dra ’n wit oorjas.”

      Ek het gehou van my voorkoms. Ná jare waarin ek my hare probeer krul het, het ek dit nou in ’n loodregte lyn vyf sentimeter onder my ore laat knip. Johanna het dit sommer vir my gedoen met Ma se naaldwerkskêr, want haarkappers wou altyd begin stileer en “kom ons probeer dit só”. In die winter het ek swart kouse en plat toerygskoene gedra. My “kloosterrokke” was almal grys of swart.

      “Jy lyk so druipstert,” was Elsa se kommentaar. “Asof jy ’n vlugteling is.” Sy self, met ’n jaar oue kind op die heup, was so netjies soos altyd. Haar voorgeboortelike figuur was terug waar dit moes wees, danksy harde oefening en my ou geroeste fiets. Sy het weer begin skoolhou omdat hulle ’n huis wou koop en die kind is soggens by Ma en Johanna afgelaai.

      “Nog ’n kind om te leer,” het Johanna by my gekla. “Van bleddie voor af. Hoe om te eet en sy broek vas te maak.”

      “Dis darem iets nuuts. Ons was almal dogtertjies.”

      “Selle ou storie.” Sy het die kind aan sy voet gegryp toe hy verbete in die rigting van die stoeptrappies begin waggel. “Ek dink dis tyd dat ek aanmaak.”

      Dit was ook ’n ou refrein. Elke paar jaar het sy besluit ons waardeer nie haar gawes nie, dis tyd dat sy loop.

      “Jy sal tog nie, dis vir jou te lekker hier by ons.”

      “Ek sal! Om rond te trek, is in my bloed. Die gesittery op een plek is nie vir my nie. Ek aard na my voorvaders.”

      “Watter een?” Afhangende van haar bui was almal van Dingaan tot ’n televisieheld haar voorvaders.

      “My oupa,” het sy waardig gesê. “Die seevaarder.”

      “’n Matroos?”

      “Darie hare van jou lyk sleg,” het sy teruggekap. “Natuurlik was hy nie ’n matroos nie. ’n Groot man met ’n rooi baard.”

      “Rooi? Is dit waar Elsa se rooi hare vandaan kom?”

      “Loop,” het sy vir my gesê. “Jy’t g’n respek vir my voorsate nie.”

      “Hulle fassineer my. Dis net dat daar soveel van hulle is.” Sy het klein Johan opgetel en met hom kombuis toe gestap. Polder is stertswaaiend saam. Hy het vinnig geleer dat oorskietkos mildelik oor die vloer gesaai word wanneer die baba eet.

      Vir Peter het ek nie weer gesien nie. By Paula het ek gehoor hy werk in Amerika. Sy het nie geweet ons ken mekaar nie en het bloot ’n handvol inligting in my skoot gegooi (soos dat sy gaan trou) onbewus daarvan dat die een brokkie uitgeval en by my bly lê het.

      ’n Paar maande later het ek ’n poskaart van hom gekry. ’n Mooi foto van ’n onnatuurlike blou waterval met ’n beer langsaan. Ek is baie besig, het hy agterop geskryf. Ek werk hard daaraan om jou te vergeet.

      Dit kon nie te moeilik gewees het nie; daar was min om te onthou.

      Dokter Anders was besig om van sy vrou te skei. Dit het hy my vertel toe ons een oggend hospitaal toe moes ry om ’n pasiënt te gaan sien wat in ’n motorongeluk haar voortande verloor het. Oor die telefoon was sy histeries en het hom gebied om dadelik te kom en afdrukke te maak van haar gebit sodat die saak reggestel kon word. Ek moes saam as handlanger en terwyl ons deur die verkeer gesukkel het, het dokter Anders my van sy vrou vertel.

      “Sy praat met my wanneer sy gesigroom in haar mond het,” het hy gesê. “Ek stik vir haar part.”

Скачать книгу