Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe). Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker

Скачать книгу

was altyd dieselfde ou storie. Ek was te jonk. Ek kon nog nie saampraat nie. Ek het nie geweet waarvan ek praat nie. Van ek die dag gebore is, was dit so. Wat ek ook al gedoen het, was reeds deur hulle gedoen. Ma het ’n boek aangehou waarin sy my susters se eerste woordjies, eerste volsinne, eerste belangrike mededelings geskryf het. Sy het dit probeer volhou ná my geboorte, maar ek het die boek gelees. Onder “eerste woord” staan “mama” en daar hou die inskrywings op.

      Toe ek omtrent ses jaar oud was, het ek op ’n dag vir Ma gesê ons hondjie lyk vir my na ’n teddiebeer.

      “Elsa het gesê hy lyk vir haar na ’n tiertjie,” het sy ingedagte gesê, besig aan ’n konsertrok vir Kara. “Of was dit die kat? Ja, ek dink sy het van die kat gepraat. Jy sal hom nie onthou nie, so ’n rooi-en-swart gestreepte kat. Het Pa asma gegee . . . dié dat ons nie meer katte aanhou nie. Ook nie regtig asma nie, eintlik net ’n toe bors.”

      “Maar ek dink die hond, ons Wollie, lyk na ’n teddiebeer,” het ek met die koppigheid van ’n sesjarige aangehou.

      Sy het my nie gehoor nie.

      Dit moet ’n familiekwaal gewees het. Pa het selde sinne van meer as vier woorde gebruik. (My ouma se bababoek het seker ook net een bladsy beslaan.) Omdat hy self nie veel gepraat het nie, het hy nooit leer luister nie en toe hy boonop trou met ’n vrou wat haar sinne onvoltooid in die lug laat hang, was ons lot verseël. As ’n vrou se stem die eter versteur, het sy ore uitgeskakel.

      Mense wat Ma nie geken het nie, het in afwagting gesit om die res van haar storie te hoor, maar haar vertelling het weggewaai, verlore geraak in die volgende opmerking. Haar gedagtes, soos los drywende wolkies, was klaar weg, het van vorm verander of saamgekoek om ’n hele nuwe formasie te maak. Geen wonder dat Kara ontvlugting gesoek het in haar Middeleeuse kuns, Elsa in die hiperpraktiese en ek in my fantasieë nie.

      Die brief wat die prokureur vir Eduard gegee het, was geskryf in Peter se haastige, soms onleesbare skrif en was aan sy broer gerig. In los sinne en nie altyd chronologies verstaanbaar nie, het hy vertel wat hy aan Greta gedoen het.

      “Sy’s nie soos my ander meisies nie; jy sal sien wat ek bedoel wanneer jy haar ontmoet. Ek sal vir haar moet sorg en as ek iets oorkom, moet jy dit doen.”

      Die brief het, soos my ma se sinne, uitgerafel en geëindig halfpad deur ’n sin. Eduard het gefrons en opgekyk na Paul.

      “Wat beteken dit?”

      “Hy’t ’n meisie in die moeilikheid laat beland en ’n rare aanval gekry: gewete,” het Paul gesê.

      “Dis kwalik iets nuuts.”

      “Die gewete is.”

      “Wie is sy?” het Eduard gevra. “Ken jy haar?”

      “Natuurlik nie. Wie kon byhou? Elke keer dat ek Peter gesien het, het hy ’n ander meisie aan die arm gehad. Nie dat daar ’n groot verskil tussen hulle was nie.”

      Eduard het seergemaak gelyk. Dit was per slot van rekening sy broer waarvan hulle gepraat het. Hy was lief vir Peter en het altyd bly hoop sy broer gaan meteens grootword en verantwoordelik optree.

      “Haar adres is agter op die brief gekrap,” het Paul gesê. “Dis amper asof hy ’n voorgevoel gehad het.”

      “Voorgevoel waarvan? Sy dood? Dis tog vergesog, dit was ’n ongeluk gewees.”

      Paul het sy skouers opgehaal. Hy het daarvan gehou om hom hard en sinies voor te doen, maar in sy binneste was ’n stuk menslikheid nog aan die klop.

      Eduard het die brief teruggegee. “Doen wat nodig is,” het hy gesê. “Sorg dat fondse beskikbaar gestel word, ’n maandelikse toelaag. Vind by haar uit wat die beste sal wees.”

      “Die brief is aan jou gerig,” het Paul gesê.

      Eduard het hom nie geantwoord nie.

      Die Peter wat ek ontmoet het, het nie veel van sy fiktiewe eweknie verskil nie. Dieselfde ruwe, ongekamde soort aantreklikheid, dieselfde selfversekering, dieselfde blonde meisie aan sy sy. Dit was ’n studentepartytjie, maar hy het nie vir my na ’n student gelyk nie. Ek het hom ’n hele ruk gesit en dophou en in die stilligheid gedink hy lyk nogal na sy prototipe, maar toe hy aan my voorgestel word en ek hoor sy naam is Peter, het ek geskrik. (Ek was nog jonk genoeg om dit bonatuurlik te vind wanneer fantasie en werklikheid oorvleuel.)

      “Wat is jou naam nou weer?” het hy gevra en oorgebuig na waar ek in ’n hoek gesit het.

      “Iris.”

      “Die Griekse godin van die reënboog,” het hy gesê en vir my geknipoog.

      Ek was lamgeslaan. Reënboog? Ek het afgekyk na my grys rok en roomkleurige tjalie, my kortgeknipte, kleurlose naels, my regaf donker hare. Dienares van hoëre gode.

      “Hoe weet jy dit?” het ek lammerig gevra.

      “Die iris is ’n embleem wat deur die eeue gebruik is,” het hy vlot vertel. “Veral in die dekoratiewe kuns. Borduurwerk uit die Ooste, motiewe op Persiese erdewerk. Dis tot deel van die Franse vaandel.” Ek moes vir hom dom gelyk het, want hy het voortgegaan. “Die fleur de lis. Jy weet tog wat dit is?”

      “Ja.”

      “Daar het jy dit dan. ’n Naam vol ryke assosiasies.”

      Ek het rondgevat na iets om te drink en my glas sodawater opgetel om as skans te gebruik. “Hoe weet jy dit?”

      “Nageslaan,” het hy vlot geantwoord.

      “Hoekom?”

      “Jy’s nie die eerste Iris wat ek ontmoet nie.”

      Ek moes op my lip byt om nie by te voeg: en jy ook nie die eerste Peter nie.

      “Mag ek maar hier by jou sit?” het hy gevra.

      Ek het om my rondgekyk. Behalwe die stoel waarop ek gesit het, was daar net ’n klein lamptafeltjie wat nie stewig genoeg gelyk het nie. “Waar?” het ek gevra.

      “In my woonstel?”

      Ek het my glas neergesit. “Waar is jou woonstel?”

      “So ’n ent met die gang af.”

      “In hierdie gebou?”

      Hy het geknik.

      “Wat van jou vriendin?”

      Hy het gegrinnik. “Watter een?” Hy het sy kop geskud asof hy die ligsinnigheid van hom wou afskud. “Ek het alleen gekom. Wat van jou?”

      “Ook.”

      “Waarvoor wag ons?” het hy gevra en my aan die hand regop getrek.

      Ek is saam met hom na sy woonstel.

      Voor ek die aand uit is, het Johanna by my in die kamer kom staan en gekyk hoe ek my hare borsel.

      “Jy sal iets moet doen met darie hare,” het sy krities gesê. Haar eie hare was in rooi en blou krullers omdat sy amptelik

Скачать книгу