Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe). Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker

Скачать книгу

Ek kon sy harde asemhaling hoor, sy mond was te nat, te groot en te werklik. Dit was byna onmoontlik om sy mond weg te skryf terwyl hy my teen die voorste sitplek vasgedruk het.

      “Dis verby,” het ek gesê, losgeruk en uit die motor geklim. “Kry vir jou iemand anders. Ek is te jonk.” Wat ek eintlik wou sê, was dat ek my krag moes spaar vir die dag as die regte Richard opdaag. Ek het die huis ingeloop en op my bed gaan lê om die volgende hoofstuk te skryf in my epistel oor Richard. Uit die sitkamer het ek my ma se stem gehoor, hoog en desperaat. “Hulle gaan jou hare afskeer, darling!”

      Natuurlik het Kara nie ’n non geword nie en nog minder het Riekie van my af weggebly. Ek het hom maar laat begaan op voorwaarde dat hy my nie soen nie. (As VIGS toe al bekend was, het ek ’n goeie verskoning gehad, maar my geslag was uitgelewer aan ons eie ordentlikheid en moes soek na redes vir ons kuisheid.) Buitendien moes ek ’n maat hê vir die matriekafskeid en Riekie was op sy ongekunstelde manier aantreklik. Aanvaarbaar.

      Waarom Kara van haar plan afgesien het, het ek nooit uitgevind nie. Ek onthou sy het die Moeder Owerste van ons naaste klooster gaan spreek en die wyse vrou het vermoedelik met groot geduld geluister na my suster se stamelende verklaring. Dit moet vir haar gou duidelik geword het dat Kara nie veel meer weet as dat katedrale besonder mooi loodglasvensters, beelde en individuele kapelle het nie. Van dogma het die kind min geweet. Ek vermoed dat die Moeder Owerste baie taktvol was in haar verwerping, want Kara het nog ’n begeesterde lig in haar oë gehad toe sy die aand aan tafel die mededeling doen dat sy afgesien het van haar plan. My ouers se verligting was tasbaar. My ma het vleissous oor haar slaaiblare gegooi en gelyk asof sy wil huil.

      “Hoog tyd dat jy tot jou sinne gekom het,” het my pa gesê en daarmee was die saak afgehandel. Kara het nooit weer daarna verwys nie en stil voortgegaan met haar werk as assistente by die kunsmuseum.

      Elsa, suur omdat die aandag soveel maande lank op Kara gevestig was, het aangekondig dat sy en Hannes wil trou.

      “Hy’s te jonk vir jou,” het Ma geprewel.

      Die gebrek aan logika in hierdie ontplooiende argument het my gefassineer. Riekie was jonger as sy vriend Hannes, maar Hannes was omtrent vier jaar jonger as Elsa, wat teen daardie tyd reeds ’n paar jaar lank skoolgehou het. Ek, en veral my ouers, het al die jare geweet dit is die geval en tog was daar nooit ’n woord van teenkanting nie. Dit was nie asof Hannes skielik jonger geword het nie, hy was dit van die begin af. Ek het dit vir hulle genoem.

      “Ek dink jy moet Hannes eers kans gee om sy voete te vind,” het Pa gesê asof ek nooit eens gepraat het nie.

      “Sy voete?” het ek gegiggel. “Hy kan hulle nie mis nie. Ek het in my lewe nog nooit sulke groot voete gesien nie, die man lyk asof hy . . .”

      “Stil, Iris,” het Pa kwaad gesê. “Jou susters veroorsaak meer as genoeg moeilikheid. Aan jou stuiwer het ons nie nou ’n behoefte nie.”

      “Moeilikheid?” het Elsa gevra en dit was asof haar kosmeties verskuilde sproete deurslaan, rooier as ooit vantevore. “Ek dag julle hou van Hannes?”

      “Natuurlik, darling,” het Ma gepaai. “Maar trou?”

      “Die man studeer nog,” het Pa gesê. “Dis buite die kwessie.”

      “Hy wil aanhou studeer,” het Elsa gesê. “Ons sal leef op my inkomste.”

      Dit het vir my romanties geklink, maar ek het geweet romanse het ’n klein, indien enige, rol gespeel in Elsa se besluit. Sy was ’n nugter soort van mens, meer geïnteresseerd in haar bankbalans as in die Richards van die wêreld. Voor ek haar as voorbeeld gesien het, het ek geglo dat jong meisies, soos opgeskote voëltjies, die nes verlaat nes hulle afgestudeer of volwasse is. Elsa het nooit enige teken van so ’n behoefte getoon nie. Of sy vir Ma-hulle huur of onderhoud betaal het, sal ek nie weet nie, sulke dinge was nog nie deel van my ervaringsveld nie. Ek was wel van tyd tot tyd toegelaat om die kis in haar kamer uit te pak en glo my vry, sy was reg vir trou. Vandat sy haar eerste salaristjek ontvang het, het sy op uitverkopings verby die rokke en skoene geloop en lakens en handdoeke teen weggooipryse aangeskaf. Ek het gedag net meisies in die ou boereromans wat ons in standerd agt moes lees, het nog uitset bymekaargemaak, maar Elsa het my verkeerd bewys. Sy was soos iemand wat bang was vir ’n beleg.

      Later, toe ek self op universiteit was, het ek gelees dis ’n verskynsel wat dikwels onder weeskinders voorkom wat nooit hulle eie goed gehad het nie. Die eekhoringsindroom, het my lektor dit genoem. Ongelukkig was Elsa teen daardie tyd klaar getroud en het nie belanggestel in my ontleding van haar gebrek nie.

      “Ek het genoeg lakens, het ek nie?” het sy kortaf gevra. “En nog teen die ou pryse daarby.”

      Ek sou dit so aanvaar het, was dit nie dat sy nog steeds huisgoed versamel het nie. Vir elke rasper in gebruik was daar ’n ekstra een in die kas, vir elke laken op ’n bed, twee nuwes in die linnekas.

      As iemand my ooit van trou laat afsien het, was dit Elsa en Hannes. Selfs op die troue, toe sy ten minste na ’n wasige bruid gelyk het, was sy prakties en onemosioneel.

      “Het jy die motor parkeer waar ek gesê het?” het sy in die konsistorie gevra. “Ek wil nie dat dit gekrap en bemors word deur jou verspotte studentemaats nie.”

      Ek, as blosende strooimeisie, het gewens sy wil stilbly. ’n Bruid moes haar mond hou en verlief lyk, het ek gevoel. En moes ook nie ’n horlosie dra en uitreken hoe lank die onthaal behoort te duur nie omdat die hotelbesprekings gemaak was en sy nie wou hê hulle planne moet verkeerd loop nie. Die dae toe sy gebloos het omdat Hannes haar tweehonderd en sewe sproete getel het, was verby. Sy was broodwinner en baas van die plaas.

      Riekie was vanselfsprekend strooijonker, iets wat my koud gelaat het. Ek het hom te goed geken om opgewonde te raak. Terwyl die dominee se stem oor ons koppe gedreun het en later tydens die toesprake op die onthaal, het ek sit en borduur aan die storie in my kop. Daarvolgens was die strooijonker totaal onbekend, ’n peetoom of so iets van Hannes. ’n Ouer man (maar nie te oud nie) wat oorsee, verkieslik in Frankryk, gewoon en afgevlieg het vir die troue omdat hy Hannes as kind laas gesien het. Nie Hannes of Elsa het daaraan gedink om ons vooraf aan mekaar voor te stel nie; ek het hom die eerste keer gesien toe ek uit die motor klim voor die kerk en hy op die trappies vir my staan en wag. Hy het nie “Haai,” gesê nie; hy het diep oor my hand gebuig en dit gesoen. Sy oë was donker en intens, hy het Engels gepraat met ’n bekoorlike aksent. Sy naam moes iets wees soos Eduard of St. John. Ek het die grootste gedeelte van die diens bestee aan sy naam en was so weggevoer dat Elsa moes sis toe ek die ruiker by haar moes vat sodat Hannes die trouring aan haar vinger kon glip.

      Tydens die toesprake – en veral ’n ellelange een deur Hannes se regte peetpa, wat vertel het hoe Hannes hom natgemaak het toe hy hom die eerste keer op sy skoot hou – het ek ons verhouding uitgebrei. Eduard (St. John is geskrap omdat dit te Engels is vir ’n Fransman) was van plan om dadelik terug te vlieg omdat sy sakebelange dit vereis het, maar hy het aangekondig dat hy ’n paar dae gaan bly om ons mooi land te sien. Ek het natuurlik geweet sy besluit het niks met die land uit te waai nie, hy wou my beter leer ken.

      “Hoekom eet jy nie?” het Riekie my gedagtes onderbreek.

      “Senuwees,” het ek gesê.

      “Nonsens, kyk na Elsa, en sy’s die bruid.”

      Dit was pynlik om Elsa te sien. Sy het weggelê aan haar bord kos asof sy ’n nuwe beleg verwag. Sy het nie sjampanje gedrink nie maar sodawater. (“Ek sal seker moet bestuur,” het sy vir my gesê. “Hannes het al twee glase sjampanje en drie glase wyn gedrink. Dis meer as die voorgeskrewe minimum vir veilige bestuur.”)

Скачать книгу