Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe). Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker

Скачать книгу

      “Dan kan ek dit weer gebruik.”

      Ek het gesug. Ek en my susters moes versigtig grootmaak aan ons ma. “Ma mag nie. Pa mag nie diervet inkry nie. Uitgekook of andersins.” (Ek was in daardie stadium benieud met korrekte taalgebruik. ’n Jaar vroeër sou ek gesê het: Uitgekook of te not.)

      “Dit is so,” het my ma gesê en die boud in ’n baksakkie gestoot. “Dis net dat dit voel na mors. Ek kan dit tog nie weggooi nie en Polder sal ’n vreeslik ontstelde maag kry as ek dit vir hom gee.”

      Polder was ons hond. Jare gelede, toe ons nog klein was, het ons ’n klein hondjie by ons oom Andries present gekry. Ons was ekstaties, maar ons ma het by die dag agteruitgegaan soos sy moes plassies opvee, gekoude kussings weggooi, deurgeknaagde stoepstoele probeer regmaak. Die hond was ook net ordentlik volwasse en geleer toe word hy doodgery toe my pa in die park gaan draf en die hond agter hom aanhol. Daarna het my ma gesê nooit weer nie. Vir babahondjies grootmaak sien sy nie kans nie. Kara het ’n ruk lank ’n hamster aangehou, maar toe ’n seuntjie in haar klas die begeerte uitspreek om ’n hamster te besit, het Ma haar oorreed om die dier weg te gee. Polder was ’n geskenk, ’n nalating van ons Hollandse bure. Hy was ’n jaar of twee oud toe ons hom gekry het omdat ome Wim en tante Aleid terugverplaas is na hulle land van geboorte. Ek het nooit gehoor waarom Polder nie ook saam is nie; feit bly: ons het Polder gekry, klaar geleer, sindelik en slegs Nederlands magtig.

      Die dier het hom ook nooit laat wysmaak dat die twee tale nou verwant is nie. As ons met hom Afrikaans gepraat het, het hy sy kop skeef gedraai, sy ore gespits en intelligent gelyk, maar gereageer het hy nie. “Opscheppen!” moes Ma roep as sy sy kos in sy bak gooi en “Eve sitten,” moes Pa sê as Polder hom deurmekaar lek wanneer hy sy koerant wou lees. (My ouers se kennis van Nederlands was ook maar skraps.)

      “Daar’s hy,” het my ma gesê toe sy die boud in die oond steek. Sy was verlig, soos sy altyd gelyk het as die aand se kos aan die gaar word was. Haar skouers het agtertoe beweeg, sy het regopper gestaan asof die voer van drie opgeskote kinders en een man haar afgebuig het na die aarde.

      “Het Ma gehoor wat ek gesê het?”

      “Ja, darling.” Sy het die bakkie vet vinnig in die yskas gesit asof die verwerking daarvan nou die yskas se verantwoordelikheid is. “Ek weet Pa is op ’n dieet.”

      “Nie dit nie. Van my naam.”

      Sy het haar hande gewas en die hardevet onder haar naels uitgekrap. “Natuurlik het ek gehoor.”

      “Dis mooi, nè?”

      “Pragtig,” het sy saamgestem en haar tong geklik toe sy agterkom die boud is wel in die oond, maar die oond is nog nie aangeskakel nie. “So ’n mooi blom. Ek vind dit so jammer dat hulle net in die lente blom.”

      Dis wat ek bedoel. Sy het my nie gehoor nie. Ek het haar maar gehelp aartappels skil. “Dis so,” het ek gesê. “Net een keer per jaar.”

      My ma, wie se naam ook Elsa was, maar wat deur almal Els genoem is, het nooit daarin geslaag om die wêreld in haar hand vas te vat nie. Sy was soos iemand wat ’n bus verpas het en nie daarby kon berus nie. Haar hele lewe lank al hardloop sy agter die bus aan in die hoop dat sy hom gaan inhaal nes hy stadiger om ’n draai ry. Sy was nie die soort mens wat by die volgende halte sou gaan sit en wag op die volgende bus nie. Nog minder was sy die soort wat voluit gehardloop het. Nee, sy het op ’n ligte drafstappie beweeg, net effe uitasem, een en al stralende optimisme dat sy die bus wel gaan inhaal.

      Sy het leer motor bestuur op ’n relatief laat ouderdom en het haarself net bevoeg beskou om tussen die huis en die skool of die huis en ons naaste winkelsentrum te ry. Snelweë of die middestad het sy vermy.

      “Dieselfde reëls geld tog oral,” het my pa met haar probeer redeneer. “En jy ken die padreëls.”

      “Daar is te veel van hulle,” het sy gesê. “Te veel motors.”

      “Voor die skool ook,” het Kara gesê. “En erger as op ander plekke. Het Ma al gesien as Jakkie se pa in sy trokkie daar inswaai? Jy sien net graspolle spat.”

      “En ons mag nie eens op die gras loop nie,” het Elsa gesê.

      My ma het die huishouding met ’n soortgelyke mengsel van vrees en selfversekering bedryf. Al die masjiene, al die elektriese toebehore, was na haar mening lewend. Toe ek in later jare in die metafisika begin belangstel en haar vertel dat die molekule opgebreek kan word in sy kleinste onderdeel, die foton, en dat daar gevind is die foton het ’n geheue en is dus lewend, was sy ekstaties. Dit was een van die min kere dat sy met groot aandag na my geluister het. So aan my lippe hangend dat ek ongemaklik gevoel het en skielik nie meer seker dat wat ek aan die vertel was, wel die hele waarheid was nie. Maar vir haar was dit voldoende. Meer as voldoende. My stamelende uiteensetting van ’n baie ingewikkelde konsep was presies wat sy wou hoor.

      “En julle het altyd vir my gelag,” het sy gelukkig gesê. “Julle het altyd gedink ek is getik as ek met die stofsuier gesels. Nou vertel jy my sy molekules was al die tyd lewend en kon my hoor.”

      Ek het benoud geword, my pa het ongelowig gelag toe sy dit die aand vir hom vertel en my susters het net hulle koppe geskud. Ek het dikwels soos Aspoestertjie gevoel behalwe dat my susters nóg stief nóg lelik was.

      Elsa en Kara het net twee jaar verskil, maar voor ek gebore is, het ses leë jare verbygegaan. Uit die aard van die saak was ek dus ’n alleenloper en, soos Polder, iemand wat op oorskietkos geleef het. In Polder se geval was dit sy eie keuse: hy het geweier om geblikte hondekos te eet. In my geval kon dit nie anders nie, ek het die speelgoed en dikwels die klere gekry waarvoor my susters moeg was. Hulle het my as ’n aardigheid beskou, ’n tweede kans. Deur my het hulle hul eie kinderdae herleef en kon dit as objektiewe buitestanders kritiseer.

      “Het Ma ons ook toegelaat om dit te doen?” wou hulle geskok weet toe ek een aand my tande staan en borsel met die uitgekrapte as uit die kaggel.

      “Julle wou nie,” het Ma kalm gesê.

      “Maar sy mors verskriklik! Kyk hoe lyk die wasbak!”

      “Dit kan gewas word.”

      Die twee het vir mekaar gestaan en kyk. “Sy’s mal, dis wat Ma bedoel,” het Elsa gesê. Sy was aangetrek om uit te gaan, want sy was in die middel van haar eerste ernstige romanse en sy het weggestaan van my asof sy bang was die grys water spat op haar. “En Ma is nie streng genoeg met haar nie.”

      “Ek was nie strenger op julle nie,” het Ma gesê.

      Dit was ongetwyfeld waar. Ek kon nie sien dat sy meteens verander het nie. Soos sy begin het, het sy voortgegaan.

      “Sy gaan haarself vergiftig,” het Kara gereken. “Dis nie kampvuuras waarmee sy daar borsel nie.”

      Ek was geneig om saam te stem. Ek wou eksperimenteer, maar plesierig was dit nie.

      Terselfdertyd het ek dit waardeer dat Ma my die eksperiment toegelaat het. Ek was natuurlik nog klein; later het ek saam met my susters gelag oor die stommiteite van my jeug.

      Elsa was die ernstigste van ons drie, Kara die diepsinnigste en ek êrens in die middel. Geneties gesien, was ons ’n boeiende verskynsel. Elsa het rooi hare gehad, kompleet met ligte vel en sproete; Kara was blond en blou van oog en ek het donkerbruin hare en groenerige oë gehad. Ons ouers moes baie grappe aanhoor oor omgeruilde babas in die kraaminrigting

Скачать книгу