Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe). Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker

Скачать книгу

Jy ken my woonstel.”

      Ek het opgekyk na hom. “Hier is jy dan.”

      “Ek het jou kom opsoek.”

      “O.”

      Ons het stadig tussen die struike begin stap. Hier en daar moes ons koes vir die sproeiers wat oor die paadjie gespuit het, maar ek het nie omgegee om nat te word nie. Niks kon met my hare gebeur nie en die klam hemp teen my warm rug was ’n saligheid.

      “Wat doen jy vanaand?” het hy gevra.

      “Leer.”

      “Natuurlik. Dis eksamentyd.”

      Ek het ’n verbenablaar afgebreek en tussen my vingers gekneus. Die soel suurlemoenreuk was lieflik; ek het aanhou snuif aan my vingers.

      “Ek het gedog ons kan saam gaan eet,” het hy gesê.

      Ek het afgekyk na my gekreukelde wit kortbroek. “Ek is nie aangetrek nie.”

      “Ek sal vir jou wag.”

      Die blaar tussen my vingers het ’n ander geur herroep. “Ons eet vanaand lemoenhoender,” het ek hom ingelig. “Wil jy nie liewer hier eet nie?”

      Hy het op ’n strategies geplaaste rots gaan sit en afgekyk na die slykerige water wat veronderstel was om ’n murmelende stroompie te wees. “Iris,” het hy gesê. “Ek verstaan jou wragtig nie.”

      “Dis lekker,” het ek myself verdedig. “Ma maak dit in ’n wok.”

      “Wat van jou ouers?”

      “Hulle hou ook daarvan. Hoekom anders dink jy maak Ma dit?” Ek het op ’n klip oorkant hom gaan sit en my sandale afgeskop. Die stroompie het aan my kant van die paadjie ’n waterval gemaak en ek het my tone in die yl water gehou. Die grondbedekkers aan weerskante het die ergste slyk vasgevang sodat die water hier relatief skoon was.

      “Hoekom het jy nou die aand saam met my na my woonstel gegaan?” het hy gevra. Hy het ’n stokkie opgetel en dit voor ’n naaldekoker gehou asof die insek, soos ’n parkiet, daarop sou klim.

      “Jy het my gevra.”

      “Doen jy altyd alles wat mense jou vra?” Die naaldekoker het wantrouig na ’n ander blaar verskuif.

      “Nee.”

      Hy het sy kop gelig en lank na my gekyk. Gelukkig het Polder deur die beddings aangehol gekom en my byna onderstebo gespring.

      “Brave hond,” het ek gesê en hom tussen sy ore gekrap terwyl ek die leiband weer vasmaak. “Lieve dier.”

      “Waarom praat jy met die hond Nederlands?” het Peter gevra. Sy stem het veraf geklink.

      “Dis al wat hy verstaan.” Ek het opgestaan en my broek afgestof. “Kom, dit word laat. Pa hou daarvan om vroeg te eet, anders sak sy bloedsuiker.”

      Pa het opgekyk toe ek en Peter met die stoeptrappies opkom en sy koerant laat sak. “Aangename kennis,” het hy gesê toe ek hulle voorstel. “Ek dag Iris leer.”

      “Ek het met Polder gaan stap.”

      Pa het na Polder gekyk asof dit sy skuld was dat daar ’n ekstra mens in die huis was. Maar hy het sy bes gedoen om met Peter te gesels. Ma was sjarmanter.

      “Ag!” het sy geroep en haar hande saamgeslaan. Sy het die middag haar hare ingedraai en dit was mooi uitgeborsel behalwe een vergete kruller wat net agter haar oor gesit het. As dit nie was vir die blou plastiekpennetjie wat deur die hare gesteek het nie, sou ’n mens dit kon miskyk. “Is dit nie plesierig . . .?”

      Ek het agter haar inbeweeg en die kruller vinnig uitgetrek. “Is jy en Iris ou vriende?” het sy gevra.

      “Uh . . .” het hy geantwoord.

      “Daar’s bier in die yskas,” het Pa onthou. Dit was ’n paar jaar sedert daar laas ’n kêrel in die huis was.

      “Gaan jy iets anders . . .?” het Ma gevra. “’n Mooi rokkie of so?”

      Ek het sugtend gaan verklee. Dit was nog steeds warm en ek het vir die soveelste keer gewens ons het ’n swembad. Toe ek terugkom, het almal met biere in die hand gesit en in die skemer kon ek Peter bestudeer. Langs my lang, dun pa het hy korter voorgekom, vierkantiger. Pa se skouers het afgekrom, Peter s’n was nog reguit en sterk asof hy as kind ’n waterdraer in die woestyn was. Toe ek die eerste keer ’n prent gesien het van daardie stok met die twee emmers (of bokvelsakke) het ek gedink dit moet jou leer om jou skouers terug te gooi en regop te loop. (Ma het ons leer regop loop deur ons die gang af te laat stap met die Tweetalige Woordeboek op ons koppe.)

      “Is die kos reg, Els?” het Pa gevra.

      Ma het geknik en Peter het na my gekyk. Ek het vir die eerste keer besef waarom sy hare altyd ongekam lyk. Hy het twee kroontjies gehad, een aan elke kant van sy kop. Vanaf hierdie punte het die hare middel toe en kante toe gegroei. Van ’n paadjie of netjies gekamde kuif was daar nie sprake nie.

      Ma se lemoenhoender was so lekker soos altyd en ek kon sien Peter is bly hy het gekom. Elsa het gebel terwyl ons geëet het om met Johanna te praat. Die baba het brandboudjies gehad omdat hy sy eerste tand aan ’t sny was en Johanna, wat nog nooit ’n kind gehad het nie, het uiersalf aanbeveel. Ek kon Elsa tot in die eetkamer hoor gil.

      “Ek wens ons het ’n swembad,” het ek gekla toe ons ná ete weer op die stoep sit.

      “Dis net ’n gemors,” het Pa gesê.

      Ma, wat hard probeer het om seine te stuur sodat Pa ons alleen moet los, het opgehelder. “Waarom gaan swem julle nie in Aleid se swembad nie? Sommer oor die muur . . .”

      “Tante Aleid woon nie meer daar nie,” het ek haar herinner.

      “Maar die nuwe mense . . . jy weet, die . . . wat is hulle naam nou weer? Hulle’s op vakansie. Het hulle nie, darling?” het sy vir Pa gevra.

      “Het hulle nie wat nie, Els?” het hy geduldig gevra.

      “Gesê ons is welkom om te swem.”

      Ek het na Peter gekyk. “Wil jy swem?”

      Hy het geknik en opgestaan. Ma is dartelend binnetoe en het teruggekom met twee handdoeke. Die een was pienk met liggeel eendjies en die ander een blou met teddiebere. Vermoedelik deel van Elsa se uitset.

      Ons is in die donker langs die huis af en by die muur het Peter sy hand gehou sodat ek dit as trap kon gebruik om oor die muur te kom. Die tuin was swart en stil en die swembadwater het dik en olierig gelyk. Ek het die handdoeke op die gras gegooi en na Peter gekyk.

      “Ons het nie swemklere nie.”

      Hy was reeds besig om sy skoene uit te trek. “Die blomme kan ons nie sien nie,” het hy gesê.

      Ek het my sandale uitgeskud en my rok begin losknoop. “Dis ’n debatteerbare punt,” het ek gesê. “Soos ek dit sien, is alle plante lewend en daar is selfs bewyse dat daar sprake kan wees van ’n gevoelswêreld

Скачать книгу