'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen

Скачать книгу

Heyman leun oor die borswering wat die borand van die toring omspan; tuur ondertoe om te sien of sy leier op pad is. Sy silhoeët is ’n oomblik lank duidelik geëts teen die maan. Presies op daardie oomblik dat hy luitenant Steyn en sy ordonnans uit die pompkamer sien kom, stamp die swaarkaliberkoeël deur sy bors. Hy voel hoe hy deur ’n magtige, onsigbare hand van sy voete gelig en teen die binneste toringwering vasgeslinger word. Die impak stamp die lug uit sy longe, vul sy mond met die dik smaak van bloed. Doodse skok doof sy sig uit. Asof in ’n vae droom verbeel hy hom hy hoor veraf salvo’s geweervuur. Hy kan nie dink nie, maar sy opleiding en instink sê vir hom hy moet dadelik in ’n loopgraaf kom. Gryp-gryp kruip hy na die trapleer wat in die toringskag afdaal; laat hang sy bene in die skag af terwyl hy aan die reling klou. Sy dom voete kan nie die boonste sport van die leer vind nie. Bloed verdonker sy T-hemp en broekspante; hy hyg roggelend, spook vergeefs om lug in sy verbryselde longe te teug. “Here, help my! Iemand … help my!” krys hy, die woorde beswaarlik hoorbaar deur die borrelende bloed in sy keel.

      Cassie Carstens, wat die dek geslaan het toe die geweerskoot klap, kruip nader om sy gewonde makker te help. Dit is reeds te laat. Die verblindende wit lig in Felix se kop, doof meteens uit, verskiet tot ’n wit spikkel in die pikswart niet. Die gesuis in sy ore vervaag soos die sein van ’n pas afgeskakelde ou transistorradio. Sy hande ruk; hy verloor sy greep as eers die vingers van die een hand, dan die ander, van die reling glip. Sy ken sak op sy bors en hy tuimel vooroor in die skag af. Sy liggaam stort klap-klap teen die staalsporte af tot waar dit vyftien meter laer op die sementvloer neerplof.

      Buite het die hel losgebars. Aan die oostekant van die basis blits ’n paar dosyn geweerlope uit die donker; verder weg klink die woep-woep! van mortiere wat gevuur word, en sekondes later die benouende huilfluit voordat die twee bomme die basishek van sy skarniere ruk.

      Die twaalfstuks soldate van die Suid-Afrikaanse weermag by die waarnemingspos word heeltemal onkant betrap. Hulle skarrel verwilderd, duik skreeuend en vloekend by loopgrawe in. Koeëls snerp oor die grond; skrapnel skram huilend van baksteen, beton en staal weg. Gebukkend agter die sandsakbeskerming van hul skuilings vuur die troepe hoogweg, skadeloos, in die algemene rigting van die aanval.

      “Fokken hél!” Sakkie du Toit ruk agteroor toe sy geweerband in die hardloop aan ’n doringbos vashaak. Hy voel iets aan sy arm pluk, dan flap die ledemaat slap langs sy sy. ’n Koeël deur sy elmboog. “Fok-fok-fók!” Hy val plat, gesig in die stof. Daar is geen pyn nie – nog nie. Hy probeer op sy knieë kom om die geweerband los te wikkel. Sy arm kan hom nie ondersteun nie en hy beland weer op sy gesig. Sonder sy wapen rol hy by die naaste loopgraaf in; kerm luidkeels toe hy bo-op die willose arm land.

      Luitenant Steyn en Fritz de Beer koes terug die pompkamer in. ’n Oomblik lank is die offisier onseker wat om te doen, maar hy kom byna dadelik tot verhaal en begin bevele skree aan die manne in die loopgrawe naaste aan hom. Hy kon netsowel sy asem spaar, want sy stem word gedoof deur die kakofonie. Kruitdampe brand sy oë, en die rook en stof van barstende projektiele maak dit haas onmoontlik om die situasie akkuraat op te som. Hy hoef egter niks te sién om te besef dat hulle diep in die kak is nie.

      In hul stowwerige skuilings krimp die jong soldate ineen. Skaars ses maande gelede was die meeste van hulle nog op die skoolbanke, kinders met die een oog op die verpligte dienspligjaar wat wag, die ander op die toekoms daarna. Met drome van werk en varsity en geld en karre en girls. En nou sit hulle in die vuurkring van die vyand vasgevang, ’n kring wat meedoënloos om hulle toetrek. Elke sekonde nouer en nouer. Stom, stroef, met die wete dat die dood onafwendbaar op hul gate toesak, kan hulle net wag. Die vrees vir die dood klem soos ’n bankskroef om elke orgaan, pers die asem weg en laat ’n naarheid in die keel opwel. Dis ’n vrees wat die dikderminhoud verwater, wat elke sintuig tot ’n snydende lem laat opskerp, wat tyd in sy vaart stuit en elke sekonde uitrek tot sy eie uur, elke minuut tot ’n eie ewigheid.

      Van die ontelbare bronne vir vrees is geeneen so angswekkend soos die konfrontasie met jou eie dood nie. En elkeen weet die dood is op hulle spoor. Doelgerig soos ’n bloedhond wat hul reuk gekry het. Rondom hulle gil die dood sy voorneme uit met die stem van die 7,62 mm-loodkoeëlpunte van AK47’s wat deur die lug sny, salvo’s mortierbomme wat hemelwaarts suis, bokant hul stellings hul draaipunt bereik en dan afwaarts huil om hul woerende, blouwarm potysterskerwe oor die grond te saai.

      Die troepe se gedagtes loop leeg. Alles vervaag behalwe die skrikbeeld van die gemantelde skadu wat regstaan om enigeen, of almal van hulle, aan die ewigheid uit te lewer. In die desperate hoop dat hulle dalk die dood se attensies kan vryspring, bly hulle in hul skuilgate sit. Hulle hurk laag, nekke in die skouers ingetrek asof hulle hulle só teen die noodlot se wispelturigheid kan staal. Party sit met styf toegeknypte oë; ander staar sonder om ’n oog te knip voor hulle uit terwyl warm sand oor hulle neersif en skerp rook hulle verstik. Die lug ruik na brandende hout en smeulende seil, dit is die reuk van voleinding in ’n ver vreemde plek.

      Daar is egter nog instinkte, en soos vasgekeerde diere besef hulle dat hulle reg in die vyand se hand speel deur te bly waar hulle is. Hulle moet hulle op die een of ander manier uit hierdie doodstrik onttrek. Van hulle oorweeg dit om uit hul gate op te vlieg en te hardloop, net blindelings die donker in te vlug; ander dink daaraan om op te staan en die vyand trompop te bestorm. Die felheid van die aanval, die onverbiddelike intensiteit van die vuur maak albei opsies onmoontlik. Dit sou blatante selfmoord wees, en dít sou niemand hier enigsins help nie. Dus hou hulle maar net hul koppe laag, bid in die hart, pis in hul veldbroeke, hou deurentyd hul ongefokusde geweervuur vol, wat dit ook al werd mag wees, en wag op rigtinggewende bevele.

      Leo Steyn waag dit om deur die ruitlose raam van ’n uitgeskiete pompkamervenster te loer. Van die vonke uit hul blitsbrekers kan hy min of meer bepaal waar die vyand is; hy kan hul taktiek en vordering uitwerk. En hy kan sien hoe groot die oormag is. Hoe de fok het sóveel van hulle so ongesiens in die omgewing saamgetrek? Sulke vrae is nou irrelevant, besef hy. Die vyand is op hulle. Sy seksie is in die moeilikheid. Hy moet dáárop fokus. Sonder hulp gaan hulle vanaand nie lewend hiér uitkom nie.

      Steyn swaai sy arms om Fritz de Beer se aandag te trek. “Flare!” beduie hy met sy duim lugwaarts.

      “Wát?” De Beer lê in ’n hoek van die vertrek, arms om sy kop geklem en gesig teen die sementvloer; deur die skrefie sig wat hy hom veroorloof kan hy nie die handsein ontsyfer nie.

      “Kyk vir my, moer!”

      De Beer draai sy kop en dwing een oog op ’n groter skrefie oop.

      Die luitenant maak ’n stygende, barstende fakkel met sy hand na. “Skiet. Die. Fokken. Rooi. Flare. Af!” bulder hy bo die waansinnige geraas uit.

      Dat hulle deur vyandelike vuur vasgepen sou word, het nooit in Fritz de Beer se gedagtes opgekom nie. Hy het homself wysgemaak dat hy met grensdienskampe altyd in die veiliger agterlinies ontplooi sou word. Hierdie skrikwekkende wending het sy verstand tot stilstand geruk. Dit was sy eie besluit wat hom hierin laat beland het. Met die aanvang van die laaste oorgrensoperasie is die geelgatte, die troepe wat nie kans gesien het om die grens oor te steek nie, aan eenhede toegedeel wat patrollies aan die duskant van die grens sou doen. Wie sou nou kon dink dat juis húlle die sitting ducks van die stryd sou word. Dit terwyl die oorgrenstroepe die afgelope paar dae haas insidentloos begin terugkeer het uit Angola.

      De Beer sidder. Hy trek die naaste fakkelhouer nader, knip dit oop, laat byna die silindervormige projektiel uit sy hande val. Dan beduie hy dak toe. “Hier’s nie plek om dit te skiet nie, Luitenant!”

      Steyn voel ’n magtelose woede hom oorweldig. “My fók, De Beer, is jy heeltemal fokken stupid! Vuur die bliksemse ding búitentoe, man! Of bring dit hier vir my!”

      De Beer seil krampagtig in die rigting van die deuropening, plat teen die vloer om hom so min moontlik bloot te stel. Hy mik die fakkel vorentoe, vroetel onbeholpe met die ontsteker.

Скачать книгу