'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen

Скачать книгу

daar is hulle na die kwartiermeester se stoor gemarsjeer. Hier is hulle toegerus met die eienaardigste uitrustings: ligte kakiegroen gevegsbroeke en bypassende T-hemde, kakiegroen seilstewels en slaprandpette. Elkeen het ’n splinternuwe stel seiluitrusting ontvang, waarvan enige aanduiding van herkoms verwyder is. Selfs die blikkies en sakkies in hul rantsoenpakke was sonder enige handelsmerk, net ’n etiket wat die inhoud aangedui het.

      Dit was ook die groep soldate se laaste kontak met die res van die basis se manne. Hulle mag niemand gebel of op enige manier probeer kontak het nie. Hulle was stomgeslaan. Daar was g’n gesagsfiguur wat hul kon aanhoor nie en hulle het maar onderling gegis oor wat aan die gang was. Elkeen het sy eie mening gehad, en dit was onmoontlik om te besluit wie om te glo en wie om af te lag.

      Waar hulle nou twee-twee in ’n loopgraaf lê, is hulle steeds so dronkgeslaan soos toe. Hulle weet hulle is in ’n oorlogsone, iewers. Dáároor is daar ten minste geen twyfel meer nie. Maar waarom die snaakse uitrustings? In wie se oorlog is hulle, en wie sou die vyand wees? Sal hulle darem die vyand herken as hulle hom sien?

      Elke man kon netsowel op deurnagwagdiens gewees het, so min slaap kry hulle. Die veraf sarsies gordynvuur hou hulle wakker. Ook die onheilspellende stiltes tussenin.

      Toe die lug in die ooste begin verkleur, maak die manne blikkieskos en halfbekers koffiewater warm oor brandende Esbit-tablette. Hopelik sal die nuwe dag lig werp op hul situasie.

      Maar eerstelig bring afgryse. Van die hoop sand uit sy loopgraaf sien hy dit: iets in die skadu links van hom. Die lepel met boeliebief en blikkiesertjies stop halfpad na sy mond toe; sak terug na die dixie waaruit hy eet. Sy buddy hoor Blackie se keelgeluid en volg dan sy blik. Met ’n “jissis tog!” spoeg hy sy mond vol kos op die sand uit.

      Skaars tien meter weg, deels onder ’n bos in, lê ’n opgeblase lyk. Die reuk was heelnag om hulle, maar niemand het geweet waar dit vandaan kom nie. Die skewe staalhelm, driekwart vol swart gestolde bloed, ondersteun steeds die gevallene se kop. Brommers pak oor die lyk saam, terwyl maaiers in en uit die gesigsopeninge krioel, ook by die koeëlgat in sy voorkop.

      Van die troepe probeer hulle nonchalant hou. Hulle draai die rug en kou voort. Ander het niks om te bewys nie en by die aanskoue van die afstootlike gesig skud hulle die oorblywende kos in hul dixies op die grond uit. Een kniel ’n ent weg in die gras en gooi op.

      Die pelotonbevelvoerder wink hulle na die kant van die pad. “Menere, kom ons praat oor julle rol hier …” Hy herhaal kortliks die instruksies van die vorige aand; dat hulle sal verdeel en verskeie kontrolepunte langs die hoofpad beman. Hulle sal ook verkenningspatrollies in die nabye omgewing uitvoer, ingeval mense die kontrolepunte probeer ontduik deur boslangs te beweeg.

      ’n Hand skiet op en herhaal die steeds onbeantwoorde vraag. “Luitenant, waar de fok ís ons?”

      Die offisier besef hy sal hulle nie vir altyd in die duister kan hou nie. Hy hou dit kort en kragtig: “Suid-Angola. Die gebied word huidiglik beset deur gesamentlike Unita/FNLA-magte. Ons doelwit is om dit vir eers só te help hou. Julle is nie stupid nie, so moenie my vra waarom nie.”

      Dieselfde hand skiet weer omhoog. “Waarom al die geheimsinnigheid, Luitenant? En hoekom moet ons hierdie funny kak dra, en uit bewegende vliegtuie spring in die middel van die nag?”

      “Jy sê dit self, man: vir sekerheidshalwe. Die SAW is nie veronderstel om hier te wees nie. Nie amptelik nie, in any case.”

      ’n Ander soldaat steek sy hand huiwerig op. “Is daar vyandelike magte in die omgewing, en hoe sal ons weet as ons in hulle vasloop?”

      “Fokken tricky, daai ene. Ja, daar ís wel vyand in die omgewing. Hulle het nie gisteraand fireworks geskiet vir die coming of the virgins nie, jy weet. Hoe sal jy vyandelike magte van vriendelikes onderskei? Hulle dra almal min of meer dieselfde uniform, en het maar self moeilikheid daarmee. By and large dra die FNLA-boys – hulle is die good guys – groen kopdoeke en armbande en so aan. Die MPLA – hulle is die vyand – dra rooies. Dis húlle wat jy wil skiet. So, dis eintlik so easy soos ’n traffic light: groen laat jy deurgaan, rooi stop jy … verkieslik met ’n bullet. Maar moenie kanse vat nie. As jy twyfel wanneer jy op iemand afkom wat ’n gun dra, skiet eers en check dán die kleur van sy bandana. Enige ander vrae?”

      “Luitenant, vir hoe lank gaan ons hier wees?”

      “Vir so lank as wat nodig is. Luister, manne, ons moet aan die gang kom. Seksie Een, julle gaan noord hiervanaf; Seksie Twee suid. Drie clicks met die pad af, either way, sal julle die pantserboys kry. Daar sal julle verdere instruksies kry. Grawe behoorlik in. Jou loopgraaf gaan van nou af jou home from home wees. Good luck, chinas.”

      “Luitenant, gaan iemand hom begrawe of iets?” Blackie Swart knik in die rigting van die man onder die bos.

      “Wil jý dit doen? Hmm, ek het nie so gedink nie. As jy wóú, sou jy niks anders doen nie as stiffs begrawe vir die res van jou tyd hier.” Sóveel vir begrafnisreëlings vir die dooies. “O, en gooi hierdie loopgrawe toe voor julle loop.”

      Die luitenant maak met Blackie oogkontak. “Jy, kom hier. Kom gee my ’n hand.”

      Hulle kry elk ’n been van die dooie beet, sleep die lyk tot by die naaste loopgraaf en rol dit daarin, gehul in ’n wolk zoemende brommers. Dit lyk of die luitenant toe tóg ’n hart in hom het. Nadat die gat opgevul is, steek die offisier ’n stok in die sagte grond en haak die druppende helm daaraan. Hy ruik aan sy hande, trek ’n naar gesig en gaan was hulle uit ’n jerrykan op die naaste Land Rover.

      Laatoggend klim die soldate op die voertuie en vertrek in hul onderskeie rigtings. Oral is daar tekens van ’n onlangse, bloedige geveg, waarskynlik om beheer van die nabygeleë dorp, Pereira d’Eca. Die teerpad is oortrek van slaggate en kraters, die nalating van bomme, vuurpyle en myne. Die geboue langs die pad wat nog nie weggeblaas is deur grofgeskut of platgery is deur tenks nie, is vol koeëlgate en beverf met strydgraffiti.

      Die seksie wat noord gaan, ry verby die oorblyfsels van ’n lyk. Soveel voertuie het al oor die liggaam gery dat ’n papsagte, gryspienk maalvleis deur die verswarte uniform pers. Die weermagvoertuie jaag ’n swerm glimswart kraaie op wat besig was om aan die grieselige maal te pik.

      Blackie Swart ril. Roadkill, dink hy. Op die ou einde is die wonderbaarlike mens ook maar niks anders as roadkill nie.

      Hulle tref die pantserseksie aan die buitewyke van ’n feitlik vernietigde nedersettinkie aan. Langs die pad twee Eland-pantservoertuie oordek met kamoefleernet; hul 90 mm-kanonlope gluur onvriendelik in die twee verkeersrigtings.

      Die aankoms van die troepe lok weinig belangstelling van die bewoners wat nog in die dorp is. Vroegmiddag verskyn ’n groepie verflenterde kinders vanuit die ruïnes en begin ’n oënskynlik splinternuwe sokkerbal tussen mekaar rondskop.

      Ná drie weke se wagstaan en patrolliewerk en ’n oënskynlik doellose rondswerwery van die een strydverrinneweerde nedersetting na die ander in die Angolese bos, word die Burgermagtroepe een oggend beveel om hul toerusting te pak en op gereedheidsgrondslag te wees vir ’n nuwe sending. Reeds voor die middaguur beweeg hulle onder swaar gewapende geleide na wat oorgebly het van die eens florerende Pereira d’Eca in die suide van Angola.

      FNLA-soldate met gewere oor hul skouers en granaatwerpers aan hul sye hang in die strate rond. Vanaf elke balkon, uit die vensters en deuropeninge van elke gebou wat die afgelope veldslag min of meer oorleef het, gluur hulle die Suid-Afrikaanse troepe met hatige, bloedbelope oë aan. Die vinnig saamgeflanste alliansie op leiersvlak het nie die grondvlakagterdog tussen velkleur en kultuur ongedaan gemaak nie.

Скачать книгу