'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen

Скачать книгу

heeltemal weg.

      ’n Dik, blou, bedompige stilte sak oor die basis neer. Dan, asof op bevel, bars ’n histeriese geklets los. ’n Troep begin triomfantlik, vuurwapen omhoog, in sy loopgraaf dans. Die soldate soek gerusstelling in mekaar se gesigte, in hul eie skril stemme. Hulle soek bevestiging dat hulle die aanval oorleef het. Dit is al wat nou saak maak; die gevallenes is vir ’n oomblik bysaak.

      Luitenant Steyn gaan van bunker tot loopgraaf om die verliese te bepaal. “Wel gedaan, manne,” prys hy twee troepe in een van die Claymore-bunkers. Hy hurk by Sakkie du Toit wat sy beseerde arm teen sy lyf vasdruk en van die pyn vorentoe en agtertoe wieg terwyl iemand probeer om ’n verband om die bloeiende ledemaat te bind. “Vasbyt, partner, ons gaan jou nou opfix,” probeer die luitenant troos, en skreeu dan: “Medic hierso, op die double!”

      ’n Briesie steek op. Dit ruis deur die blare en skuif die sluier van stof en rook oor die toneel weg. Aan die boomstamme gloei die kole rooier, knetter soos veraf geweervuur in die stilte. Vonkies jaag mekaar soos neonmiere oor die rokende seilskerm van die verrinneweerde toiletkraampie. ’n Soldaat urineer op die seil om die vonke te blus. Die plastiek-pislelies wat buite-om die toiletkraampie geplant was, is weggeskiet. Die toiletbakke aan die binnekant is vol koeëlgate.

      Die enigste ongevalle is die gesneuwelde Felix Heyman en Fritz de Beer, en dan die gewonde Sakkie du Toit. Leo Steyn kyk in die inkswart lug op. Die tol is hoog, maar dit kon veel erger gewees het. Gegewe die element van verrassing, die duur en intensiteit van die vuurgeveg, is hierdie uitkoms bykans ’n wonderwerk. Hy maak sy oë toe.

      Luitenant Leo Steyn sein sy situasierapport deur na Sektorbeheer in Ondangwa. Hy vra dringende mediese hulp, en twee uur later kom ’n konvooi by die toring aan. Al was die gedreun van die voertuie van ver af hoorbaar, is dit steeds asof hulle uit die niet verskyn. Flou operasionele ligte glim soos bleek roofdieroë uit die donker.

      Dinge is beslis besig om handuit te ruk in die operasionele gebied, dink Steyn. Dit gebeur nie maklik dat voertuie in die donker op sendings uitgaan nie. Goddank dat daar nog cowboys soos kolonel Bulldog Smuts in die bevelsgeledere is, manne wat staande orders sal verontagsaam ter wille van kamerade wat in die nood is.

      Twee seksies infanteriesoldate bondel by die agterdeure van gepantserde Ratel-troepedraers uit. Hulle neem verdedigingsposisies om en binne die basis in. Twee ander troepedraers dreun verby om soldate aan die kaplyn te ontplooi sodat enige aanvaller wat nog nie oor die grens is nie se terugtog afgesny kan word.

      ’n Paar hondehanteerders wip van die bevelsvoertuig se bak af – hulle het hul hande vol om die twee kermende herdershonde in bedwang te hou. Bevele galm in die stilte. Personeel skarrel rond, struikel deur die puin en mortierkraters.

      In die lig van ’n Landrover rits vier troepe die lyke van die gevalle soldate in kakiegroen lyksakke toe, dra dit dan na die byna verwoeste pompkamer en lê dit op die koue sementvloer neer. Hulle oorhandig die oorledenes se dog tags aan ’n administratiewe offisier wat die gebeure met ’n stroewe gesig volg, oë stipstarend na niks besonders nie.

      Die gewonde Sakkie du Toit word gestabiliseer, hierdie keer deur ’n gekwalifiseerde mediese offisier. ’n Ordonnans help hom in ’n ambulans in. Hy sal later na die hospitaal op Oshakati afgevoer word. Dalk nog, so hoop hy heimlik, selfs na 1 Militêre Hospitaal in Pretoria. ’n Paar ander troepe kry behandeling vir mindere beserinkies en pyne. In die konsternasie en adrenalienvloed van die aanval het hulle nie eens besef dat hulle seergekry het nie. Nou soek hulle aandag, ’n simpatieke woord, ’n medemens se aanraking.

      Kolonel Bulldog Smuts, bevelvoerder van Sektor Charlie, loop met sy vingers agter sy rug ineengevleg deur die basis. Luitenant Leo Steyn hou pas langs hom; effe senuagtig skets hy die besonderhede van die aanval. Die kolonel dra geen rangtekens nie, want dit kan hom die voorkeur van ’n vyandelike sluipskutter op die hals haal, sou een dalk nog iewers in die donker skuilhou.

      “Jy besef natuurlik dat daai moerskonts julle vir ’n sucker gevang het, Luitenant.” Bulldog Smuts is omgekrap. Hoe langer hierdie stryd voortduur, smaak dit hom, hoe makliker laat sy soldate hulle deur die vyand se slimstreke uitoorlê.

      Leo Steyn knik, asof kolonel Bulldog die gebaar in die donker kan sien. Hy is nie seker of die stelling ’n vermaning of net ’n waarneming was nie.

      “Daai lig en vuur was net ’n slenter om julle aandag af te trek terwyl hulle oor die grens glip, reg onder julle neuse,” rammel die kolonel voort. “Die bliksems raak astranter by die dag.”

      “Ek voel só kak oor die troepe wat dood is,” sê die luitenant floutjies. Voor die einde van sy sin begin sy tande klapper.

      Die kort kolonel kom tot stilstand, draai na die junior offisier, lig sy hand en lê dit op sy skouer. “Dis ’n oorlog dié, ou seun,” sê hy. “Dié dinge gebeur in oorloë. Op die ou end is dit niemand anders as die oorlog se skuld nie.”

      Die kolonel is dankbaar dis donker; dankbaar dat die jong man nie nou op sy gesig kan sien watse blatante snert hy besig is om kwyt te raak nie. Hy wéét immers wie se skuld die oorlog is! “En moenie dink die oorlog eindig hier nie,” sê hy met nuwe drif. “Een van die dae gaan julle huis toe, maar hoor my mooi, boetie, julle vat straks hierdie stryd saam met julle civvystraat toe.” Hy laat sak sy hand, tuur in die rigting van waar die aanval geloods is. “Dink jy julle het van hulle gekry?”

      Luitenant Steyn knik. “Ek’s seker ons het. Hulle was baie naby; ek skat die Claymores het die ding gedoen.” Hy verbeel hom dat hy tussen die gedruis van voertuie en stemme deur pynkrete van anderkant die basisheining hoor. Hy besef egter ook dat dit dalk net geluide in sy kop kon wees, die doodsgekners van spoke. “Miskien moet ons die area gaan vee, daar kan gewondes wees.”

      Kolonel Smuts swaai om. “Wel, as daar is, fók hulle! Dis te veel van ’n risiko om nou daar deur te gaan. Die plek is ten to one vol booby traps. Ons sal netnou gaan kyk wanneer dit ligter is. Ek gaan ’n klompie manne oor die grens stuur om ’n sweep te doen. Daar sal goeie spore wees om te volg. Dis tyd dat daai fokkers weer ’n slag leer met wie hulle te doene het.”

      Leo Steyn sê niks, en hulle loop in stilte voort. In die ooste breek die lig van die nuwe dag floutjies bokant die boomtoppe. Veraf raak die gedreun van helikopters hoorbaar. Een van hulle sal by die watertoring neerstryk om die twee gesneuweldes se liggame af te voer, ’n paar ander sal die bosse langs die kaplyn van bo fynkam vir tekens van die nag se aanvallers.

      Kolonel Smuts gaan staan, draai na Leo Steyn. “Ons het ’n infanteriepeloton saamgebring,” sê hy. “Hulle kan die plek verder bewaak. Vat jou boys saam met die voertuie terug Ondangwa toe. Laat hulle ’n bietjie unwind. Ek sal later vanoggend jou verslag by jou kry.”

      “Dankie, Kolonel, ek sal hulle bymekaarkry. Dankie … nogmaals.” So byna salueer hy die senior offisier, maar dit val hom by dat hy die man se rang daardeur sou verklap. Hy laat sak sy hand. “’n Rustige dag verder, Kolonel.”

      “Ja-ja, maar somehow dink ek nie so nie.” Die kolonel draai weg om ’n paar verdere orders te gaan gee. “Wat ’n fokop,” brom hy binnensmonds. Hy dink aan die twee liggame in die toegeritste lyksakke, die jong lewens wat so eensklaps kortgeknip is. Die onsmaaklike verslag wat nou weer op hom wag. Die ouers wat die nuus moet kry. Droeftrotse pa’s, hartgebroke ma’s. Hy glo darem nie daar sal kinders wees wat nou sonder ’n pa moet grootword nie – die eenheid bestaan grootliks uit dienspligtiges, basies nog ’n klomp skoollaities. Maar ’n mens weet nooit nie. En dan is daar nog die giftige media wat so maklik op loop gaan. Die koerante wat al hoe meer vingers wys na die bosoorlog en sy stygende dodetal. Kolonel Smuts wonder watse kakstorie die Weermag nóú weer gaan opdis om hierdie jongste ongevalle te verklaar. Dat die twee gesneuweldes onskuldig langs

Скачать книгу