'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Nuwe wildernis - Ben Viljoen

Скачать книгу

aantal voertuie reeds bymekaar is. Elke kar, bussie en trok wat in die dorp beskikbaar was, is hier, en elkeen is tot ver verby selfs abnormale kapasiteit gelaai met besittings, vasgebinde diere, hokkies pluimvee en ’n swetterjoel familielede, die een meer verwaarloos as die ander. Hulle is vlugtelinge, Angolese boorlinge met Portugese burgerskap, wat op die punt staan om te vertrek op ’n gevaarlike tog na die relatiewe veiligheid van Windhoek in Suidwes-Afrika, van waar hulle per lugbrug na Portugal gevoer sal word. Die Suid-Afrikaanse infanteriemanne se opdrag is om die vlugtelinge te begelei, eers tot by die grenspos by Oshikango in Suidwes-Afrika, en dan na Ondangwa in Sentraal-Owamboland. ’n Taakmag van die Verenigde Nasies sal die begeleidingswerk daarvandaan oorneem en die mense tot in Windhoek bring.

      Dinge begin nie goed nie. Die honde kan nie saam nie. Daar is maar geen manier dat ’n brak vol bosluise en hondsdolheid uit die Afrikabos op ’n straler na Europa toegelaat sal word nie. Die diere se eienaars protesteer heftig. Omdat nie een groep die ander se taal verstaan nie, word die argument weldra ’n Babelse oor-en-weer-beduiery en geskree op mekaar. Die ontruimingsoefening beland in ’n riskante skaakmat. Die horlosie tik meedoënloos.

      Die troepe beraadslaag onder mekaar. Dit is van kritieke belang dat die operasie sonder verdere verwyl aan die gang kom, en die besluit word met somber gesigte uitgevoer: ’n Paar soldate vorm ’n kordon voor die vlugtelinge, lig hul geweerlope ’n aks hoër. Kneukels span wit om die vuurwapens se handgrepe.

      Die res van die Suid-Afrikaanse soldate ruk die leibande en -toue uit die honde-eienaars se hande, sleep die diere wat tjankend vasskop tot agter die naaste gebou. Dit is asof die skote deur almal op die dorpsplein ruk. Toe die laaste dier se gekerm stil raak, sak die vlugtelinge se koppe. Selfs die FNLA-soldate kyk anderpad toe die mense sonder hul honde sitplek op die oorvol voertuie probeer kry.

      Oplaas stotter die konvooi uit Pereira d’Eca. Net buite die dorp swaai dit suid, en kronkel soos ’n reuse- moeë slang in die rigting van die Suidwes-Afrikaanse grens. Die pas is uiters langsaam. Voor die voorste voertuig vee sappeurs van die Suid-Afrikaanse Weermag se Geniekorps die pad vir landmyne. Infanteriesoldate verken die gebied vir hinderlae. In normale omstandighede en met ’n goeie motor sou die tog enkele ure duur, maar na drie dae is hulle nog nie by die grens nie. Etlike van die afgeleefde voertuie gee finaal die gees, wat verdere oponthoude meebring. Waar noodherstelwerk nie help nie, word die vrag oorgepak op van die ander reeds oorlaaide voertuie, en die gesneuwelde skedonke word net daar agtergelaat.

      Die Suid-Afrikaanse soldate gee nie regtig om hoe lank die reis duur nie. Al wat saak maak, is dat hulle op pad is na Suidwes-Afrikaanse grondgebied, Afrikaanse wêreld. Elke tree neem hulle weg uit hierdie vreemde onherbergsaamheid, weg van die doodsangs wat soos sweet en stof en vlieë aan hulle kleef.

      Sal hy iets hieroor kan skryf? wonder Blackie Swart. Oor sy deelname aan iets waarin hy elke dag ’n groter weersin ontwikkel? Oor hierdie ellendelinge wat saamgebondel in hul armoede die onbekende ingedryf word? Hy is gewoond daaraan om alles wat hom ontroer neer te skryf: liefde, leed, enigiets. Maar hoe skryf jy oor dit wat hy hier beleef?

      Blackie sien die oë van sy kamerade, sien waarheen dit dwaal. Hulle het agt weke laas ’n wit meisie gesien. Swart meisies sou normaalweg nie tel nie. In hul apartheid-gesaniteerde opvatting sal black nooit beautiful wees nie, maar nou, na bykans twee maande se geforseerde selibaatheid, het hul geen saak meer met die Nasionale Party se Ontugwet nie. Hulle soek vróúmens. Maak nie saak watse kleur nie, solank dit net vróú is.

      Onbelemmer deur iets soos apartheid het die Portugese koloniste en Angolese boorlinge vryelik ondertrou. Daar is min wit meisies tussen die vlugtelinge, maar die halfwit Angolese meisies – let wel, halfwít, nie halfswárt nie! – is ’n onweerstaanbare versoeking vir die manne in uniform. Hoewel die soldate uitdruklik beveel is dat die vlugtelinge se dogters en vrouens buite “afloer-, praat-, flirt-, aanraak- of aanrandperke” is, probeer hulle deurentyd ’n gelukkie score. Min van hulle, indien enige, kry enigiets reg, en dis nie soveel te danke aan respek vir militêre instruksies nie as aan die waaksaamheid van die kêrels, mans en pa’s onder die vlugtelinge, wat die balhorige troepe se plannetjies heeltyd een voor is.

      Blackie sou ook saam met ’n vrou wou wees, maar nie sommer enige vrou nie. Sy eie vrou. Verdringde manlike hormone is nie sy groot probleem nie, maar verdringde weersin en vrees – die ergste soort vrees, daardie vrees wat hy nie durf erken nie. Die barbaarsheid, verwoesting en verguising van alle menslikheid bly in sy borskas klop. Hy vind dit toenemend moeilik om te slaap. Hy mis sy huis, sy vrou, hul ongebore baba wat eersdaags die lewenslig behoort te aanskou. Dit sal beslis ’n seuntjie wees, het hy reeds besluit. Hy het die kind se gesiggie een aand in die maan gesien, terwyl hy op sy rug in ’n loopgraaf gelê en wag het op ’n rooi-oogbombardement wat toe nooit gekom het nie.

      Hy mis sy skryfblok. Wanneer hy gekwel was, om watter rede ook al, kon hy nog altyd ’n terapeutiese uitlaatklep vind in die neerskryf van sy ervaring. Die gemaal in sy kop om eerstens die regte woorde te vind, en dan die regte volgorde vir daardie woorde, help om perspektief te bring. Maar hulle is nie toegelaat om skryfgoed op hierdie sending saam te bring nie. Die rede daarvoor was so belaglik dat hy nie eens kan onthou wat dit was nie; glo iets te doen met die klandestiene aard van die operasie. Hy het wel ’n pen saamgesmokkel, maar dié het langs die pad voete gekry. Seker self ge-awol! Voordat hulle uit die basis hierheen gevlieg is, was sy laaste skryfoefening iets wat die Weermag hom opgelê het: ’n testament, verpligte laaste brief aan naasbestaandes, ’n verklaring wat elkeen moes onderteken dat hy vrywillig op hierdie sending was en dat geen druk van watter aard ook al op hom uitgeoefen is deur enige persoon of persone of organisasie nie.

      Blackie het intussen min of meer agter die kap van die byl gekom: Amptelik sou die Suid-Afrikaners se teenwoordigheid in Angola ontken word. Daar is geen troepe van die Suid-Afrikaanse Weermag in die gebied nie, en diegene wat dít nie wil glo nie, kan maar die Republiek se minister van verdediging vra. Net voor hulle uit Pereira d’Eca weg is, het ’n Samil-lorrie vol standaard- Suid-Afrikaanse nutria-uniforms opgedaag en hulle moes vinnig verklee: sedertdien was hulle wél amptelik op Angolese grondgebied, maar op ’n humanitêre sending. Die Suid-Afrikaanse eerste minister sal dit self kan bevestig.

      Skaars ’n uur nadat die konvooi op die oggend van die vierde dag die tog hervat, raak die radiomaste van die grenspos bo die eindelose plaat boomtoppe sigbaar. Die weermagtroepe loop onmiddellik regopper, die treë langer. Maar onder die ouer vlugtelinge is nie dieselfde beroering nie. Talle van hulle kyk terug na waar hulle vandaan gekom het. Dit is asof hulle finaal moes kies tussen hul veiligheid en die vreemdheid, en steeds twyfel oor hul uiteindelike besluit.

      Die jonger garde Angolese se oë gloei. Vir die meeste van hulle was ’n besoek aan Europa nog altyd ’n droom, en nou is hulle op pad! ’n Groep uitgelate jong manne leun oor die kant van hul trok en beduie na die soldate. “Thees afta’noon,” daag een van hulle die troepe in sy beste Engels uit, “you, we, play football!”

      “Cool,” skreeu een van die soldate bo die Buffel-enjin se gedreun, “and after that a game of rugby!”

      Die son het reeds sy middagdraai gekry toe die konvooi oplaas deur die grenspos is – te vroeg om uit te span vir die nag, en te laat om Ondangwa voor donker te haal. Met Angola agtergelaat, voel die oorlog eensklaps verwyderd, iets wat gister gebeur het en nou verby is. Verligting daal neer oor die lang stoet moeë reisigers.

      ’n Rooi son hang in die stofwolk wat opwalm agter die troostelose konvooi wat aankruie op wat in dié geweste bekend staan as die witpad tussen die Oshikangogrenspos en Ondangwa. By ’n Ovambokraal wuif die vlugtelinge vir ’n kind wat uit een van die hutte verskyn het om die prosessie oopmond gade te slaan. Dan word die son met ’n oorverdowende slag heeltemal uitgedoof. Die voorste burgerlike voertuig, ’n ou trok met houtbeslaande kante, steier soos ’n perd die lug in. ’n Wiel woer-woer oor die boomtoppe; matrasse, planke, meubels, stukke gereedskap word oor die veld gesaai. Die optog ruk tot stilstand, mense skarrel vervaard

Скачать книгу